Druk artikel

Die kind in die terapeutiese speelkamer
Wietske Boon

Wanneer ouers ‘n kind na ‘n spelterapeut neem, is dit omdat die ouer/s of versorger/s bekommerd is ten opsigte van die kind se gedrag en/of emosionele welsyn. Die gedrag kan die oorsaak wees van ‘n spesifieke traumatiese gebeurtenis, maar in sommige gevalle weet die ouers nie wat die oorsaak is van hul kind se kommerwekkende optrede nie.

Die speelkamer

Binne die speelkamer kry die kind die geleentheid om waarlik homself te wees deurdat hy onvoorwaardelik aanvaar word deur die terapeut.

Straf, verwyte en kritiek is nie deel van enige terapeutiese prosesse nie. Die speelkamer is anders as die samelewing waar kinders leer deur korrigering en gestraf word wanneer hulle gedrag nie na wense is nie. Dít maak die speelkamer veilig en uniek vir die kind.


Die terapeutiese verhouding

Voordat terapie gedoen kan word moet daar ‘n vertrouensverhouding tussen die kind en terapeut gevestig word. Dit gebeur deur speletjies en aktiwiteite waarby die kind en terapeut gelyktydig betrokke is. Vir sommige kinders is dit makliker as vir ander om ‘n terapeut te vertrou. Kinders wat dit moeilik vind om vertroue in die terapeut te ervaar is meestal ‘n kind wat mishandel is of ‘n kind wie se vertroue in ‘n belangrike ander persoon geskend is. Dit verg dus baie geduld, tyd en ‘n baie veilige omgewing om ‘n vertrouensverhouding met die kind op te bou.

Emosionele- en selfbewustheid

Na ‘n traumatiese gebeurtenis sny sommige kinders hulself af van hul emosies en hul omgewing. In so geval verlaag die kind se selfbewustheid en sy bewustheid van homself in sy omgewing. As hanteringsstrategie wil die kind nie sy emosies erken en eien nie en ook nie sensoriese stimuli ervaar nie aangesien dit te traumaties is (veral kinders wat fisies mishandel is of word). Dit is belangrik dat emosionele- en sensoriese bewustheidsoefeninge met die kind gedoen word. Sonder self-bewustheid kan die kind nie emosies en ervarings eien en hanteer nie. Deur verskillende prentjies met gesiggies vir die kind te wys kan emosionele bewustheid verskerp word. Die terapeut sal dan byvoorbeeld die volgende vrae vra: “Hoe voel die mannetjie in hierdie prentjie?” “Voel jy ook somtyds so?” “Wat maak dat jy so voel?” Sensoriese oefeninge sluit in om die kind bloot te stel aan verskillende sensoriese stimuli en die emosies en herinneringe wat dit by die kind ontlok te ondersoek. Wanneer ‘n kind na musiek luister kan die terapeut die volgende vrae vra: “Hoe laat die musiek jou voel?” “Wanneer voel jy so?” “Waaraan herinner die musiek jou?”

Op hierdie wyse begin die kind se self-bewustheid asook die bewustheid van homself in sy omgewing asook die ervarings vanuit sy direkte omgewing verbeter en kan terapie voortgesit word.


Die projektering van emosies deur die kind

Die terapeut lei en moedig die kind aan om direk of indirek sy ervarings en emosies te verwoord of uit te beeld deur spel. In die speelkamer kry die speelgoed ‘lewe’. Die kind kan deur spel die werklikheid verander sodat dit minder bedreigend en angswekkend word en die situasie of ervaring meer aanvaarbaar vir die kind is. Tydens spel maak die kind ‘n storie op wat verband hou met sy eie lewe en sy ervarings. Die spel wat die kind speel verteenwoordig dus sy eie realiteit. Spel is veilig vir ‘n kind aangesien hy deur fantasie ‘n ander karakter kan word wat homself verteenwoordig. Vir ‘n kind is dit makliker om emosies en ervarings te hanteer en te verwoord wanneer dit op iets anders geprojekteer word byvoorbeeld, deur diere te gebruik om sy gesin uit te beeld. Op hierdie wyse kan die kind met ervarings eksperimenteer en uiting gee aan emosies sonder om te voel dat hy iets verkeerd doen of sê waarvoor hy kwalik geneem of gestraf gaan word. Kinders skep vir hulself ‘n veilige fantasiewêreld waarbinne hulle speel, projeksies maak en emosies verwerk en hanteer.

Spel gee vir die kind die geleentheid om beheer te neem oor onbeheerbare situasies deur sekere ervarings oor te vertel soos dit is of dit selfs te verander waar die kind dit nodig vind. Tydens spel kan die werklike gebeure verander word sodat dit minder angswekkend en draagliker word. Spel help die kind om gebeure of situasies te organiseer, te voorspel, te verwerk en te aanvaar.

Humor kan ook effektief in terapie gebruik word. Humor, wat vir die kind aanvaarbaar is, verander emosies (bv. angs, vrees, woede) in iets wat draagliker is, wat makliker hanteer kan word en met humor bespreek kan word.

In terapie kry die kind, soos reeds genoem, die geleentheid om sy gedrag te verander, daarmee te eksperimenteer, moontlik te faal, maar in die veilige omgewing van die speelkamer weer te probeer. Wanneer die kind ‘n nuwe gedrag beproef het en genoeg selfvertroue het, sal hy die nuwe gedrag ook buite die speelkamer begin toepas.

Nadat die kind ‘n paar sessies gespeel het en hy gereed en gemaklik voel met sy eie ervarings en die situasie, sal die kind gewoonlik oor die realiteit, sy eie ervarings en verwagtinge begin praat. Die emosies word dan ondersoek, verwerk en hanteer en indien nodig, kan aanvaarbare alternatiewe vir ‘n probleemsituasie ondersoek word.

Die kind kan uiting gee aan woede, frustrasie, vrees of hartseer deur byvoorbeeld ‘n kussing te slaan of selfgetekende prentjies te verskeur (dit vind onder toesig plaas en is ‘n veilige en aanvaarbare manier om aan woede uiting te gee). Die terapeut moedig hierdie spel in die speelkamer aan.

Steeds kom dit soms voor dat kinders hul spel en dialoog verander na wat hulle dink die terapeut wil sien en hoor, dinge wat aanvaarbaar is, maar wat nie die kind se ware gevoelens of ondervinding van die werklikheid is nie. Die oorsaak hiervan kan enige van die volgende redes wees:

  • Soeke na aanvaarding by die terapeut;
     
  • Vrees vir die terapeut se reaksie;
     
  • Vrees dat die kind se ouers gaan uitvind wat in die speelkamer gesê word;
     
  • Geoefende gedrag (die kind is gewoond om voor te gee);
     
  • Die kind is nie gereed om die waarheid of ware emosies te projekteer nie.

Die terapeut

Dit is belangrik dat die terapeut intensiewe aandag gee aan die kind en sy spel (die storie wat hy vertel). Die terapeut moet baie geduldig wees sodat die kind op sy eie tyd die storie vertel, verander waar hy dit nodig vind en die ervarings en gebeure eien. Afleidings word nie uit die kind se spel gemaak nie, maar eerder met die kind geverifieer deur gepaste vrae te vra oor sy spel. In die veilige speelkamer gee die kind die pas aan en die terapeut moet daarvoor aanpasbaar wees.

Aangesien kinders wat vir terapie kom moontlik reeds emosionele skade opgedoen het, moet die terapeut waaksaam wees dat die kind nie emosioneel afhanklik van haar word nie. Kinders wat uit ‘n onveilige omgewing kom, kan maklik afhanklik word van die veiligheid wat die terapeut en die speelkamer bied. Die kind begin floreer op die aandag, aanvaarding en kalmte van die terapeut. Die terapeut speel egter net vir ‘n paar maande ‘n aktiewe rol in die kind se lewe, daarna moet die kind sonder die terapie sessies kan funksioneer. ‘n Kind wat afhanklik word van die terapeut sal nie sonder die terapeut kan funksioneer nie; dit veroorsaak ‘n gevoel van erge verlies en verwerping vir die kind. Die kind word voorberei op die terminering van terapie, die rede, gevolge en die kind se emosies daaromtrent.

Die terapeut lei dus die kind en later die ouers om sekere gedragsveranderinge te maak sodat die kind veilig en gelukkig in sy eie omgewing voel.

In terapie word die mure wat die kind om homself gebou het vir emosionele veiligheid stelselmatig afgebreek totdat die kind waarlik homself kan wees.

Terapie is suksesvol wanneer daar positiewe verandering in die kind se gedrag voorkom.