Druk artikel

Help, die trop BEHEER my kind!
Vrouekeur (19 November 2010)

Kenners sê jy kan jou kind van jongs af toerus om teen groepsdruk op te staan, skryf Luisa van der Linde

Vra enige ma met ‘n kleuter en sy sal waarskynlik weet wie Teletubbies, Barney en Barbie Mariposa is. ‘n Ma met tieners in die huis, sal weer presies weet dat Justin Bieber, Selina Gomez en Jaden Smith nie in die tennisspan is nie, maar skatryk jong sterre is.

Al wil jy nie noodwendig jou kinders aan wilde tienerakteurs, slegte gewoontes en parmantige gedrag blootstel nie, kan jy ongelukkig nie keer dat hulle van kleins af deur hul maats beïnvloed word nie.

“Groepsdruk is die manipulasie deur ander mense, veral sy maats, om hom of haar iets te laat doen wat hulle nie noodwendig self sal doen nie. Soms is die groepsdruk baie subtiel sodat ‘n kind nie eers werklik daarvan bewus is nie,” meen Wietske Boon, ‘n Gautengse spelterapeut.

Kenners sê dit kan wel ‘n probleem wees as jou kind nie maats by die skool maak nie, maar dit kan net so ‘n groot probleem raak as hulle heeltemal te afhanklik van hul maats en dié se goedkeuring is.

In ‘n studie aan die universiteit van Texas is daar bevind dat gewilde kinders beter kommunikeer omdat hulle direkte oog- of fisieke kontak met die maat maak met wie hulle praat.

Dit is vir dié kinders makliker om “nee” te sê wanneer hulle nie met ‘n groepsbesluit saamstem nie. Groepsdruk het dus definitief ‘n groter impak op kinders met ‘n laer selfbeeld. Dit is juis dié kinders wat soms onverantwoordelik optree net om deur ander aanvaar te word. Ouers kan egter van kleins af hul kind leer hoe om met maats en ander mense oor die weg te kom deur aandag aan sy sosiale vaardighede te skenk. Só kan ouers hul kind beter toerus om groepsdruk te weerstaan wanneer hy of sy ouer is.

Koester jou kleiner kind

Wietske onderskei tussen negatiewe en positiewe groepsdruk omdat goeie maatjies ook ‘n positiewe invloed op jou kind se gedrag kan hê.

Sy sê negatiewe groepsdruk is enige gedrag wat deur maats afgedwing word en veroorsaak dat iemand sy maats se negatiewe gedrag of waardes naboots. “Ons sien laasgenoemde al van kleins af by kinders. Heelwat ouers moes al hoor dat ‘almal’ ‘n sekere speelding besit en daarom wíl en móét die kind dit ook kry”.

Kinders so klein as drie of vier jaar vra al vir spesifieke kledingstukke of wil aan buitemuurse aktiwiteite deelneem net omdat hul maatjie dit doen. “Groepsdruk is dus nie iets wat net sy verskyning maak wanneer jou kind in die hoërskool kom nie. Ouers begin meestal eers hul kinders teen groepsdruk waarsku as maats en die portuurgroep se gedrag kommerwekkend word, byvoorbeeld wanneer daar met alkohol geëksperimenteer of kru taal gebruik word” sê Wietske.

Sy meen dit is die moeite werd om lank voor dié soort gedrag kop uitsteek daarvan werk te maak om jou kind met vaardighede toe te rus wat hom sal help om groepsdruk te kan weerstaan.

Marna Winter, ‘n voorligtingsielkundige van Centurion, sê ook dat ouers selfs wanneer hul kind nog baie jonk is, versigtig moet wees om hom summier iets te verbied. “Fokus eerder daarop om jou kind te bemagtig sodat hy kan weet hoe om in ‘n negatiewe situasie op te tree. Wanneer ‘n maatjie vloek, sê eerder iets soos: ‘Ek weet Kobus gebruik daardie lelike woord, maar jy moet eerder sê: ‘O, pampoen!”.

Marna heg ook baie waarde aan rolspel. Wanneer jou klein kind weens groepsdruk verkeerd optree, “speel” die situasie oor en wys vir hom alternatiewe maniere hoe hy kon optree.

Verduidelik ook vir hom die gevolge, byvoorbeeld: ‘As jy met hierdie maatjie speel wat ander maats seermaak, gaan die maats naderhand dink jy wil hulle ook seermaak’”.

Marna sê ouers moet van kleins af hul kind uniek en spesiaal laat voel. “Dis ‘n aanhoudende proses om jou kind te laat voel hy is sy eie mens. Jy moet hierdie konsep oor en oor in die gesin illustreer. As julle byvoorbeeld uiteet en Boetie wil ‘n hamburger hê omdat Ouboet een eet, vra vir hom: ‘Boeta, waarvoor is jý lus?’ Ek wil glo as jy aanhoudend vir jou kind leer dat hy uniek is, gaan dit een of ander tyd insink en dit vir hom makliker wees om groepsdruk te hanteer.

Wenke vir ouers

Wietske gee die volgende wenke om jou kleiner kind toe te rus:

 

*
Wees ‘n voorbeeld vir jou kind deur self nie aan groepsdruk toe te gee nie. Onthou, jy is jou kind se rolmodel.
*
Maak seker jy het ‘n goeie verhouding met jou kind sodat hy die vrymoedigheid het om met jou te kom praat wanneer hy in ‘n negatiewe situasie beland.
*
Leer jou kind dat wat hulle maats sê en doen nie noodwendig die beste of belangrikste is nie.
*
Leer jou kind om maats te vermy wat hom nie aanvaar vir wie hy is nie, wat nie “nee” as antwoord aanvaar nie en nie ‘n positiewe invloed op jou kind het nie.
*
Dit is belangrik dat julle op ‘n vroeë stadium reeds grense vir jul kinders stel.
*
Verduidelik vir jou kind waarom hy nie sy sin gaan kry nie, waarom jy hom nie gaan toelaat om ‘n TV-program te kyk of hy nie die spesifieke klere kan koop nie.
*
Leer jou kind wat goeie waardes is.
*
Beklemtoon jou kind se positiewe eienskappe. Sodoende bou jy aan sy selfbeeld en selftrots.
*
As iets nie reg voel nie, is dit nie reg nie. Leer jou kind om in so situasie “nee” te sê en weg te stap.

 

Wees taktvol met jou tiener

Daar is sekere faktore wat veroorsaak dat party tieners meer as ander vir groepsdruk ontvanklik is. Tieners met min selfvertroue, ‘n swak selfbeeld, weinig ander belangstellings as net in hul portuurgroep, of ’n vrees vir van hul maats, het ‘n groter risiko.

Nog faktore is wanneer ‘n kind akademies swakker vaar, wanneer hy voel sy vriende kan maklik teen hul draai of as familieverhoudinge vertroebel het.

Groepsdruksituasies kan daartoe lei dat jou kind met dwelms, alkohol of seks eksperimenteer of dat hy van die skool af wegbly of ander hoë risiko gedrag openbaar.

Navorsing toon dat kinders tusssen die ouderdom van 11 en 15 is die vatbaarste vir groepsdruk. Dis normaal dat tieners by ander kinders van hul ouderdom probeer inpas en aanpas. Wanneer hulle dieselfde gedrag openbaar, voel dit vir hulle of hulle in die groep aanvaar word. Ouers sukkel gewoonlik om hul tiener se keuse van vriende te probeer beïnvloed, terwyl hy baie meer tyd saam met die vriende as die ouer deurbring. Tieners het dus ‘n groter invloed op mekaar as enige onderwyser of volwassene.

Dit gebeur dikwels dat ‘n tiener die verkeerde maats maak. Kenners sê dis vir ouers baie moeilik om dié soort gedrag te hanteer, omdat hulle weet dat hulle die kind juis gaan aanmoedig om met dié maats te sosialiseer as hulle hom summier verbied om hulle te sien.

Marna stem saam dat jy jou kind net meer opstandig maak as jy hom verbied om iets te doen. Wees taktvol en probeer liewer jou kind waarsku: “Sê byvoorbeeld ‘Mamma dink…’ of ‘Ek sien…’”.

As jy die kind laat kies, gaan hy in alle waarskynlikheid die maats kies en jou verhouding met jou kind gaan skade ly”.

Sy meen ‘verbied’ is ook baie relatief veral as jou kind ‘n foon het. “Hy kan steeds op MXit of Facebook met die maats kontak maak. In die praktyk is dit ook baie moeilik. ‘n Onderwyser kan nie langs jou kind op die skoolterrein loop en kyk dat hy nie met die spesifieke maats meng nie. Dis onrealisties,” sê sy.

Wenke vir tieners

 

 *
Berei in jou kop vir jou iets voor wat jy vir jou maats gaan sê wanneer hulle jou vra om iets te doen wat jy weet verkeerd is. Speel dit oor en oor in jou kop af voor jy gaan slaap, sodat jy dit met selfvertroue kan sê die dag wanneer jy dit nodig gaan kry.
 *
Besluit self hoe ver jy wil gaan wat seks, dwelms en drank betref en moenie dat enigiemand jou van jou waardes laat afsien nie. Jy mag dalk gespot word, maar as almal presies weet hoe jy voel, sal hulle jou later uitlos.
 *
Moenie aan iets deelneem waar ander kinders afgeknou word nie.
 *
Dink aan jouself as ‘n leier en tree só op. As jy jouself so sien, sal ander ook waarde aan jou menings en besluite heg.
 *
Onthou altyd dat jy en niemand anders nie met die gevolge van jou besluite moet saamleef.

 

AS JOU KIND SWIG

Marna sê as jy bekommerd is dat jou tiener onder groepsdruk swig, doen juis moeite om sy maats by die huis te ontvang. Sy sê jy moet jou kind lei om te besef: “Sjoe, hierdie ou is baie anders as ek ...

Onthou, jou kind se maats is sy lifeline. As jy hom van hulle gaan afsny, gaan hy baie alleen wees,” waarsku sy.

Sy sê jy kan eerder vir jou kind voorstel om sy vriendekring groter te maak as jy nie van ‘n sekere vriendegroep hou nie. Moedig hom aan om vriende by die sport, kerk of jeugaksie te maak. “As jou kind ‘n hele paar groepe vriende het, sal hy dalk besef dié groep is dalk nie die beste keuse van vriende nie”.