Druk artikel

'Hy wil net TV kyk!'
Vrouekeur (30 April 2010)

As jou kind permanent grootoog voor die kassie sit, is optrede noodsaaklik

Dit het so onskuldig begin: Jy het gou vir Sussie voor die TV gesit toe Barney op was sodat jy ‘n bondel wasgoed kon ingooi en later weer en weer... Nou huil sy elke keer as die I love you-liedjie, wat die einde van die program aandui, begin speel.
Jy het dalk vir kleinboet voor die TV neergesit sodat jy sy ouer sussie met huiswerk kon help en nou wil hy glad nie meer buite speel nie.

Wanneer kyk hy?

Dr Aric Sigman, skrywer van die boek, Remotely controlled, sê in meeste Westerse lande kyk mense ‘n gemiddeld van vier uur per dag TV.

Hy stel voor dat enigeen, grootmens of kind, beslis nie meer as een tot een en ‘n halfuur TV op ‘n dag kyk nie.
Volgens ‘n studie wat in Engeland gedoen is, kyk die gemiddelde drie- tot vyfjarige sowat vyf uur op ‘n dag TV. Meer as die helfte van dié ouderdomsgroep het TV’s in hul kamers. Nege uit tien 8- tot 16-jariges in dié studie het TVstelle in hul kamers gehad.

Nog navorsingstudies toon onder meer dat kinders tussen die ouderdomme van 14 en 16 , wat meer as drie uur op ‘n dag TV kyk, sowat 60% aggressiewer as hul eweknieë van dieselfde ouderdom is. Dit is nadat eksterne faktore soos vervreemde ouers, armoede, gevaarlike woonbuurte en ‘n geskiedenis van psigiatriese probleme uitgeskakel is. Daar is ook bewys dat kinders wat meer as vier uur ‘n dag TV kyk, waarskynlik oorgewig is.

Dr Erik Peper, ‘n psigoloog, het bevind dat die geweldige volume plaaslike en internasionale tragedie wat mense elke dag op TV sien, kinders desensiteer vir die nood en probleme van hul medemens. “Hoe meer tragedie aanskou word waaraan jy absoluut niks kan doen nie, hoe meer word jou kind gekondisioneer om nie op die nood van ander te reageer nie.”

Die Amerikaanse pediatriese vereniging stel voor dat ouer kinders nie meer as een tot twee uur TV of DVD per dag kyk nie en as hulle TV kyk, daar op niegeweldadige en opvoedkundige programme gefokus moet word. Hulle beveel aan dat kinders onder twee jaar glad nie TV kyk nie. “TV moet nooit fisiese aktiwiteit soos speel, oefen of lees vervang nie”.

Hoewel verenigings soos dié nie TV se vermoë om kinders op te voed en te vermaak ontken nie, waarsku hulle teen die sterk invloede wat te veel TV op ‘n kind kan hê.
 

TV onder toesig

Dr Aric sê kinders onder 15 moet glad nie ‘n TV in hul kamer hê nie. “Selfs dan moet hulle TV-tyd tot ‘n maksimum van een en ‘n halfuur per dag beperk word. Hy stel voor dat ouers nie, wanneer hul kinders by is, deur die kanale gaan om iets te soek om te kyk nie, maar vooraf die TV-gids raadpleeg. “Kies vooraf ‘n program wat hulle mag kyk en skakel die TV af as hulle klaar gekyk het”.

Dr Aric stel ook voor dat kinders nie huiswerk voor die TV doen nie, dat hulle eerder vooraf goedgekeurde DVD’s kyk en dat hulle eerder ‘n program met ‘n verteller met ‘n rustige stemtoon kyk as ‘n strokiesprent wat vinnig, besig en opruiend is.

“Dit bly die beste om saam met jou kind TV te kyk en gebeure te interpreteer soos wat vrae daaroor ontstaan. As jy te besig is hiervoor, neem die program op en kyk dit later saam met jou kind”.

* Moet nooit dat TV die plek van gesinsinteraksie inneem nie. Kinders het nodig om verhoudingsvaardighede te ontwikkel en as die TV te lank en aanhoudend aan is, verhinder dit hierdie proses.
* Skakel die TV tydens etenstyd af.
* Vaste reëls moet geld, iets soos dat jou kinders eers TV mag kyk as hul huiswerk klaar is.
* Stel ‘n goeie voorbeeld deur self nie te veel TV te kyk nie.
* Gesels met ander ouers, onderwysers en kundiges oor watter soort programme hulle vir jou kinders sal aanbeveel.

 

Wees waaksaam

Wietske Boon, ‘n Gautengse spelterapeut, voel ook die invloed van TV mag nie onderskat word nie.

“Wees waaksaam dat die duiwel nie in jou huis ingenooi word deur wat op TV verskyn en jy ‘ontspanning’ noem nie,” maan sy. Wietske gee die volgende riglyne waarvolgens jy die invloed wat TV-programme op jou kind het, kan meet:

*

Ervaring van die program. Wietske sê jou kind kan die program positief of negatief ervaar. “Hy kan nie noodwendig vir jou sê wat sy ervaring van die program is nie, want jong kinders het nie altyd die nodige begrip of woordeskat om dit aan jou te kommunikeer nie”.

Sy sê dit is ook nie te sê jou kind sal die TV afskakel en in sy kamer speel as hy nie van ‘n program hou nie.
“Kinders is geneig om eerder voor die TV te sit as om kreatief te wees en die inisiatief aan die dag te lê om self ‘n aktiwiteit uit te dink om hulle besig te hou. As ‘n kind ‘n program negatief ervaar en steeds by die TV sit, beteken dit tog jou kind is nie ontspanne nie. Sy angs- en frustrasievlakke kan moontlik verhoog.”

*

Konsentrasievlak .Volgens Wietske bepaal jou kind se konsentrasie tydens ‘n kinderstorie die mate waartoe die storie en gebeure onthou word. “’n Kind wat ‘n storie in detail onthou gaan dalk frases en gedrag herhaal wat in die storie voorgekom het. As jou kind ‘n program met kras taal of afstootlike gedrag gekyk het, is die kans groot dat hy dieselfde gedrag en taal gaan naboots. Evalueer die taal en dade wat in die prograam voorkom vóór jou kind na ‘n program kyk.”

*

Gehoor. “Gehoor behels die dialoog en die musiek wat in die program voorkom,” sê Wietske.

Sy sê heavy metal en musiek met ‘n baie vinnige ritme kan jou kind dalk angstig en energiek maak. “Hierdie angs en energie word later deur sy spel geprojekteer. Programme met rustige musiek maak jou kind meer ontspanne en sy gedrag sal ook ná die program rustiger wees”.

*

Realiteitsbesef.   Wietske sê klein kinders het nog nie die vermoë om tussen die realiteit en fantasie te onderskei nie. Sy sê ‘n kind wat in ‘n fantasiewêreld vasgevang word, kan moontlik die gebeure, handelinge en dialoog in die storie naboots omdat hy nie kan insien dat dit nie prakties moontlik of verkeerd is nie.

“Kyk maar na Superman wat vlieg om mense te red. ‘n Kind wat nie die vermoë het om tussen realiteit en fantasie te onderskei nie, kan op die huis se dak klim met goeie bedoelings om sy verbeeldingsmaat te red”.

Wietske sê baie van die hedendaagse karakters besit bomenslike vermoëns wat jou kind kan verwar ten opsigte van wat menslik is en wat nie. “Hierdie konsep verwar kinders ook ten opsigte van die unieke almag van God. As kinders geleer word dat karakters amper ‘goddelike’ kragte besit, verminder dit die kind se besef van die uniekheid en grootheid van God se almag,” sê sy.

*

Ouderdom. “Kinders behoort nie toegelaat te word om programme met ouderdomsbeperkings te kyk nie,” sê Wietske. Sy sê dit bly egter nie die uitsaaier se verantwoordelikheid om die ouderdomsbeperkings wat vir jou kind geskik is te bepaal nie.

“Jy as ouer moet besluit wat vir jou kind se ouderdom gepas is en wat hy mag kyk. As jy met eerlikheid en gemak elk van dié riglyne aan ‘n program gemeet en goedgekeur het, kan jy jou kind toelaat om dit te kyk,” sê Wietske.

*

Ervarings uit die verlede. Wietske sê kinders onthou dinge waarmee hulle kan identifiseer en wat op hulle eie lewe betrekking het. “’n Kind wat byvoorbeeld uit ‘n geweldadige huisgesin kom, sal meer geneig wees om aggressie te toon terwyl of nadat hy ‘n program met aggressiewe gedrag gekyk het. Só ‘n kind sal ook eerder ‘n aksiebelaaide as ‘n rustige program kies.

*

Identifisering. “Ouers moet ook oplet na die mate waarmee hul kind met die karakter in die storie identifiseer,” maan Wietske.

Sy sê as kinders eerder met die oortreder as met die held identifiseer, kan hy sy gedrag verander om soos die oortreder te word.

“In die hedendaagse kinderstories beskik die helde ook oor bonatuurlike kragte wat jou kind dalk sal wil uittoets. Die held en die oortreder kan jou kind dus negatief beïnvloed.

Moet dus nie net kyk of daar ‘n oortreder in die storie is nie: Ondersoek ook of die held se gedrag aanvaarbaar is of nie”.

*

Sig. “Wat sien jou kind wanneer hy na ‘n storie kyk? Drogdrake en aaklige, angswekkende ‘mense’ wat baie in kinderprogramme gesien word kan jou kind angstig maak en nagmerries veroorsaak,” sê Wietske.

Sy sê helder kleure, vinnige bewegings en geweld word aangewend om kinders se aandag te hou en dat dit veral jong kinders kan oorstimuleer. “Oorstimulering veroorsaak ongemak by jou kind en sal in sy gedrag na vore kom. Kies eerder ‘n storie wat ontspannend is, sagte kleure gebruik en ‘n niegeweldadige storielyn het”.

*

Onbewuste ervaring. Wietske sê soms word ervarings onbewustelik vasgelê en later deur ‘n kind geprojekteer.

“Selfs al toon jou kind nie dadelik die gedrag wat hy in die storie gesien het nie, kan dit later op ‘n verkeerde manier en ongeleë plek na vore kom. Onbewuste ervaring kan ook in ‘n droom verskyn. Jou kind kan ‘n nagmerrie kry en jou daaroor kom wakker maak,” sê sy.

*

Energie. “’n Kind wat op en wakker is se konsentrasie is hoog en hy mag dalk dadelik die gedrag of dialoog naboots. Net soos met ‘n onderbewuste ervaring kan ‘n moeë of minder energieke kind dalk nie die gedrag of dialoog dadelik naboots nie, maar die storie kan steeds in sy onderbewussyn vassteek en later in sy drome voorkom of in sy gedrag manifesteer”.

*

Toesig. “Dit is nie die TV se werk om kinders op te voed nie. ‘n Ouer behoort beskikbaar te wees wanneer die kind TV kyk sodat hy vrae kan beantwoord of leiding kan gee waar nodig,” sê Wietske.

Sy sê ouers wat hul kinders ‘n Christelike opvoeding wil gee, moet verantwoordelikheid neem vir die programme wat hul kind mag kyk en wat in hul huis verbied word.

“Al is jy as ouer ongewild of jou kind dikmond omdat hulle sekere programme nie meer mag kyk nie, staan vas en moenie toegee nie. Wees konsekwent en skakel die TV af as die ongewenste program voorkom. Moenie die kinders kamer toe stuur en self die lelike programme kyk nie. As julle ‘n aangename, maar volwasse program kyk, verduidelik dit só aan jou kind.”