Druk artikel

Breek of bou jy?
Vrouekeur (12 Maart 2010)

Die manier hoe jy jou kind motiveer of dissiplineer, kan die verskil tussen sukses en mislukking vir hom beteken.

Daar is nog ‘n hele paar maande oor voor die skooljaar tot ‘n einde kom en daar is reeds elke middag ‘n oorlog in die kleine oor huiswerk wat gedoen moet word.

Jy wil nie straf en skree, karring of kla nie, maar gaan hy ooit besef hoe belangrik dit is om van jongs af verantwoordelik te wees?

Wanneer moet jy dissiplineer en hoe kan jy hom motiveer sonder om sy moed te breek?

Wietske Boon, ‘n spelterapeut, sê dit is beslis nodig om jou kind te dissiplineer én te motiveer.

“Dissipline is die straf of gevolge vir verkeerde of negatiewe gedrag. Wanneer ‘n kind gedissiplineer word, is dit belangrik dat hy verstaan waarom die straf toegedien word. Motivering help ‘n kind om harder te werk om sy doelwitte te bereik. Positiewe motivering is enige gedrag wat ‘n kind rede gee om sy volle potensiaal te bereik.”

Dís dissipline!

Wietske sê dissipline is nie noodwendig fisieke straf nie. “Vir die skoolgaande kind kan dissipline byvoorbeeld die vermindering van ontspanningstyd beteken. Voor dissipline egter toegepas word, is dit belangrik dat jou kind weet watter gedrag op watter manier gestraf gaan word. Straf behoort gepas te wees vir die oortreding en jou kind se ouderdom. Laat ruimte vir ongeveer twee waarskuwings voordat die straf toegedien word.”

Wietske se wenwenke:

* Albei ouers (al is hulle geskei) moet dieselfde reëls of straf vir dieselfde oortreding hê.

* Leer jou kind van kleins af as hy nie op ‘n sekere manier optree nie, kan hy ‘n sekere gevolg te wagte wees. As hy byvoorbeeld nie sy skoolklere opgehang het nie, mag hy nie TV kyk nie.

* Gee net twee waarskuwings, die derde keer moet jou kind gestraf word.

* Moenie leë dreigemente maak nie. Daar is niks so frustrerend soos ‘n ma wat sê: “Ek gaan jou slaan, ek gaan jou slaan, ek gaan jou slaan” en dan weet die kind dit gaan nooit gebeur nie.

* Straf moet ouderdomsgepas wees. Laat jou kleuter in die hoekie sit, verbied jou laerskoolkind om TV te kyk of verminder jou tiener se selfoonlugtyd. Onthou om toepaslike strafaanpassings te maak soos wat jou kinders ouer word.

Motiveer mooi

'n Kind is die grootste deel van die dag met skoolverwante aktiwiteite besig en daarom is dit belangrik dat hy op akademiese gebied gemotiveer word om hard te werk.

Dit is ongelukkig so dat party kinders onder druk voel wanneer hul ouers hulle probeer motiveer, omdat hul eie verwagtinge van hul ouers s’n verskil.

“Positiewe motivering kan verbale bemoediging of belonings insluit. Motivering kan kinders help om beter te presteer en hul beste te gee,” sê Wietske.

Sy sê ouers moet ‘n punt daarvan maak om aanmoediging vir goeie gedrag te gee.
“Motivering kom in twee vorms voor. Die eerste is wanneer jou kind homself motiveer om ‘n doel te bereik en die tweede wanneer jou kind deur ‘n ander persoon (jy of dalk ‘n onderwyser) gemotiveer word om ‘n doel te bereik. As jy jou kind motiveer, leer jy hom as ’t ware om homself te kan motiveer. Selfmotivering is een van die belangrikste bestanddele vir sukses in jou kind se latere lewe en daarom is dit belangrik dat jy hom van vroeg af motiveer sodat hy kan leer hoe om homself later te motiveer. Dit is juis motivering wat jou kind die energie gee om aan ‘n spesifieke doelwit te werk,” sê Wietske.

Sy stel voor dat jy jou kleiner kind help om met sy huiswerk aan die gang te kom, maar dat hy self besluit watter huiswerk hy eerste wil doen.

“Laat hy van kleins af self besluite neem. Bespreek dit met hom en motiveer hoekom dit nie gaan werk nie, sou die keuse wat hy uitoefen nie toepaslik wees nie.”

Wietske sê gesonde en positiewe motivering gee ‘n kind die moed om sy beste te gee en sy prestasies te verbeter. Dit is ook dié soort motivering wat kinders selfs tot in jong volwassenheid sal aanspoor om ‘n sukses van hul loopbaankeuse of beroep te maak.

Wietske se wenwenke

* Motiveer jou kind uit liefde en met begrip.

* Gee vir hom die redes hoekom sy skoolwerk belangrik is. Sê iets soos: “As jy nie nou somme kan doen nie, gaan jy volgende jaar nie wiskunde baasraak nie en dit kan jou doelwitte om later te gaan studeer, beïnvloed”.

* Help hom om spesifieke, haalbare doelwitte vas te stel. Wanneer jy in die gewoonte is om ‘n doenlysie vir akademiese werk en sportdoelwitte op te stel en daarheen te werk, lyk die oorkoepelende oogmerk nie so onbereikbaar nie. Vir elke doelwit wat jou kind behaal, moet daar ‘n positiewe gevolg (bv goeie rapport) wees.

* Vestig ‘n roetine tuis waarin jou kind kan floreer. “Kinders is minder angstig as daar ‘n vaste roetine tuis is, want dit leer hulle om iets binne ‘n spesifieke tyd af te handel. Jou kind sal later self weet as sy huiswerk 16:00 klaar is mag hy tot 17:00 buite speel.”

* Laat jou kind bekwaam en goed voel oor homself deur komplimente en positiewe terugvoer te gee as hy iets regkry.

* Jy en jou maat moet ‘n rolmodel vir jul kind wees. Jou kind sal sien wanneer sy ouers hard werk en in jul voetspore wil volg.

* Maak genoeg tyd vir ontspanning en stokperdjies.

* Stel duidelike, bereikbare doelwitte en betrek jou kind by die opstel van dié doelwitte.

* Moedig jou kind aan om self te probeer voordat jy help. Kinders moet weet alle mense maak foute en dat dit normaal en deel van ‘n leerproses is. Verduidelik vir hom van foute wat jy self begaan het wanneer hy gefouteer het. Byvoorbeeld: “Mamma het gister vergeet om brandstof in die motor te gooi en daarom het ons vandag amper gaan staan.”

* Skep ‘n positiewe, rustige leeromgewing tuis sodat jou kind ontspanne kan wees as hy huiswerk doen.

* As jou kind sukkel om ‘n taak te bemeester, kan jy hom leer om meer te oefen en ekstra tyd aan die aktiwiteit te bestee sodat hy kan verbeter. “Hoe meer hy iets doen, hoe beter word hy. As hy nie te goed en een sportsoort vaar nie, laat hy ander sportsoort kies waarin hy wel goed is. Maak jou kind bewus van dié goed wat hy wel goed kan doen en laat hy eerder op sy sterk punte fokus”.

Pasop!

Wietske sê nie alle motivering is gesond nie. “Negatiewe motivering kan onredelike straf, aansporing tot negatiewe gedrag, verbale dreigemente of enige ander gedrag insluit wat spanning by jou kind kan veroorsaak.”

Sy sê dié soort motivering deur ouers, onderwysers of vriende behoort ten alle koste vermy te word aangesien dit kinders emosionele skade berokken.

* Moenie vir jou kind negatiewe terugvoer gee nie, dit verlaag sy selfbeeld. Moet nooit sê “Sjoe, maar jy is dom” of “Jy kon beter gedoen het” as jy weet hy het sy beste gedoen nie.

* Bly weg van enige kompetisie of vergelykings tussen sibbe. Moet nooit dieselfde akademiese prestasie van jou kinders verwag nie, want elke kind presteer op ‘n ander vlak. Waar 80% vir een kind goed is, is 70% uitstekend vir ‘n ander.

* Pasop dat jy nie jou kind (veral voor mense) verkleineer of verneder nie. ‘n Voorbeeld: “Bly stil, jy praat in elk geval nonsens.”

* Wees versigtig dat jy nie jou kind straf wanneer jy nie in beheer van jou woede of emosies is nie, want dit kan groot skade aanrig. Moet veral nie jou slegte dag by die werk tuis op jou kind uithaal nie.

Die skool

“Dit is belangrik dat ouers kontak met hul kind se onderwyser het sodat die onderwyser die kind se agtergrond kan verstaan en die ouer kan weet wat by die skool aangaan.

As daar ‘n spesifieke vak is waarmee jou kind sukkel, kan die onderwyser dalk ekstra oefeninge huis toe stuur sodat jy jou kind kan help,” sê Wietske.

 

Brief van ‘n kind

Liewe Pa en Ma.....

* Moenie vir my alles gee waarvoor ek vra nie. Liefde word nie gemeet aan die hoeveelheid geskenke wat julle vir my gee nie, maar op die manier waarop julle na my luister en my respekteer.

* Moenie bang wees om ferm op te tree wanneer ek oortree nie. Ek verkies dit, want dit laat my veilig voel en leer my wat grense is.

* My selfbeeld is baie broos. Moenie my kleiner laat voel as wat ek is nie, dit gee my ook die geleentheid om vir julle te wys met watter “grootmensdinge” ek wel kan eksperimenteer.

* Moet my asseblief nie voor ander mense teregwys as julle dit kan help nie.

* Moenie my laat voel of my foute almal sonde is nie. Dit maak my waardestelsel deurmekaar. Ons almal maak foute.

* Moenie my altyd teen die gevolge van my besluite beskerm nie. Soms moet ek op die harde manier leer.

* Kan ons my gedrag asseblief nie in die hitte van die stryd bespreek nie? My ore werk dan om een of ander rede nie baie goed nie ...

* Moenie te ontsteld wees as ek dinge sê soos: “Ek haat julle” nie. Ek weet woorde maak soms seerder as dade en ek voel soms magteloos wanneer julle so baie sê oor my lewe het. Ons moet almal harder probeer om mekaar nie met woorde seer te maak nie.

* Moet asseblief nie net sanik nie. Hoe meer ek dit hoor, hoe minder luister ek.

* Partymaal doen ek dinge sonder om te dink en kan self nie so lekker my gedrag verduidelik nie. Ek doen nie altyd aspris dinge om julle seer te maak nie. Soms weet ek self nie waarom ek sekere dinge doen nie.

* Moenie my ontmoedig as ek vir julle vrae vra nie. As julle dit doen, gaan ek ophou vrae vra en inligting op ‘n ander plek soek.

* Wees asseblief konsekwent. Reëls wat daagliks verander laat my my geloof in jul oordeel verloor.

* Moenie vir my vertel my vrese is ongegrond nie. Vir my is dit eg en julle kan nie veel daaraan doen om my te troos as julle dit nie verstaan nie.

* Probeer om nie julself as perfek voor te hou nie. Die skok is te groot wanneer ek dan ontdek my ouers is feilbaar. Dis oukei om nie altyd reg te wees nie.

* Help my om die verskil tussen reg en verkeerd te leer ken.

* Vra my asseblief om verskoning as julle iets gedoen het wat verkeerd is.

* Lei my eerder deur jul voorbeeld as om my met reëls toe te gooi.

* Moet nooit beloftes maak wat julle nie kan nakom nie.

* Ek is jammer vir alles wat ek soms sê wat julle seermaak en al die dinge wat ek graag wil doen, maar nie kan regkry nie.

Liefde,
Jul kind

 

.....................................................................................................................................

Bronne:

Wietske Boon: www.childtherapist.co.za

www2.scholastic.com

www.ruthpeters.com

www.addrc.org