Druk artikel

Motiveer hom positief
Vrouekeur 30 Oktober 2009

Die druk teen hierdie tyd van die jaar is ewe erg vir ouers en kinders.

Weet hoe om jou kind te help

Jy laai jou dogter by die skool op. Die motor se deur is skaars toegeklap of sy begin jou vertel van haar baie huiswerk, die eksamen wat voorlê, die netbalproewe, die taak waarvoor jy nog moet help inligting soek, die omsendbrief oor die entrepreneursdag en die toespraak wat voor die einde van die week uitgewerk moet wees. Intussen moet jy en jou man lang ure werk om die pot aan die kook te hou.

Die druk waaraan almal, kinders inkluis, in die moderne samelewing blootgestel is, maak dit moeilike om perspektief te behou en mekaar positief te motiveer.

 

Wat ouers vir hul kinders sê

Ouers en kinders sien prestasie en motivering nie altyd in dieselfde lig nie en daarom voel kinders soms onder druk.

Jakkie Burger, skoolhoof van Laerskool Ashton, sê dit is belangrik dat die ouer en kind se verwagtinge dieselfde en ook realisties moet wees.

Die manier hoe ouers hul kinders ondersteun, is belangrik.

As ouers onrealistiese verwagtinge koester, kan hulle tot prestasie-angs bydra.

"Prestasie-angs is 'n ernstige vrees om onsuksesvol te wees en ander mense se reaksie op die onsuksesvolheid", sê die Gautengse spelterapeut Wietske Boon. Sy sê prestasie-angs word veroorsaak deur akademiese of sosiale geleenthede en/of situasies waar daar van die kind verwag word om te presteer.

"Hierdie situasies kan byvoorbeeld voorkom wanneer daar van die kind verwag word om 'n taak binne 'n gegewe tyd, baie suksesvol te voltooi en/of situasies waarin die kind nie die nodige selfvertroue het om dit te doen nie."

Jakkie sê ouers moet waak teen uitsprake soos: "Ag, die werk is nie belangrik nie", "Moenie worry nie, jou ma kon ook nie wiskunde doen nie" of "Die onnie is simpel om hierdie vrae te vra".

"Die onderwyser maak nie uitsprake teen die ouer by die kind nie. As die kind dink die werk is nie belangrik nie of hy sal dit nie baasraak nie, sal hy dit nie probeer bemeester nie", meen Jakkie.

Hy sê die afgelope paar jaar het onderwysers se administratiewe lading baie toegeneem agv die onderwysdepartement se beleid.

"Met die groot klasse het hedendaagse onderrig baie nuwe uitdagings. Die onderwyser-tot-leerder-verhouding is ook baie hoër as toe die hedendaagse ouer op skool was. Ouers en onderwysers is vennote in die kind se opvoeding, maar opvoeding begin eers by die huis. Ouers kan nie hierdie verantwoordelikheid op die skool afskuif nie."

 

Prestasie, intelligensie en druk

Die skrywer en kliniese sielkundige Shani Grove sê in haar boek Dankie brein dat sy meer as 20 j intelligensietoetse doen en steeds oor sommige van die uitslae verras is.

Sy het mense met 'n briljante IK teëgekom wat druipelinge op universiteit was of aan dwelms verslaaf raak om van die lewe te ontsnap. Van die mense wat akademies briljant presteer, het dit moeilik gevind om met ander te kommunikeer. Dan was daar ook mense wie se intelligensie laer as normaal getoets het, maar wat met welslae 'n dokters- of meestersgraad voltooi het.

Sy noem onder meer angs en 'n negatiewe houding as van die faktore wat die brein in 'n situasie onderdruk (soos die skryf van 'n IK-toets) beïnvloed.

Jakkie sê die hantering van druk is 'n vaardigheid wat met groot sukses aangeleer kan word.

Hy sê toetsing, ook skooltoetse, met die gepaardgaande druk, sal altyd daar wees en leerders moet leer om dit te hanteer.

"As 'n 0/13-krieketspeler die laaste bal in 'n wedstryd boul en die opponente kort vier lopies en hy kan nie die druk hanteer nie, hoe gaan hy die druk hanteer as hy byvoorbeeld eendag in 'n Wêreldbekerfinaal is?"

Jakkie voel in 'n skoolsituasie kan kinders in 'n beskermde omgewing, waar dit deur opvoeders bestuur word, aan druk blootgestel word om hulle vir die res van hul lewe voor te berei.

Werner van Huyssteen, die skoolhoof van Laerskool Montagu, voel ook eksamen en om die gepaardgaande druk te ervaar, is eintlik 'n goeie ding.

"Die lewe laai baie druk op jou as volwassene en as 'n mens reeds op 'n jong ouderdom kan leer om dit te hanteer, is dit soveel te beter."

Hy sê die klem moet egter op die regte hantering van die druk val. Hy voel die manier wat kinders deur 'n eksamen geleer word om die druk te hanteer, het waarde benewens die verwerwing (en weergee) van kennis. "Hoeveel onthou jy in elk geval van jou geskiedenis in standerd drie?"

 

Die behoefte om te presteer

In sy boek Jy's sterstof sê Kobus Maree, skrywer en opvoedkundige, iemand se wil om te presteer, sy deursettingsvermoë, selfdissipline, werkywer en harde werk gaan bepaal of hy slaag of nie.

"Dit beteken veel meer as wat 'n arbitrêre intelligensiesyfer, wat kwansuis alles omtrent 'n mens se verstandelike vermoëns/aanleg verklap, op sigself gaan doen."

Nog kenners is dit eens dat motivering wat uit jouself kom en nie van die onderwyser, jou vriende, 'n beloning of geld nie, jou uiteindelik help om druk te hanteer en nie noodwendig hoe "slim" of "dom" jy geklassifiseer word nie.

 

Help só

Kobus sê as jy jou kind wil help om realistiese doelwitte te stel kan jy gerus aantekeninge maak van dié dinge waaraan hy sy onverdeelde aandag gee.

Kyk watter aktiwiteite hou hom so besig dat hy tred met tyd verloor, luister waaroor hy met geesdrif gesels en watter soort boeke hy lees.

Elke ouer wens heimlik dat sy kind self die erns van studie sal besef, take sal voltooi en vaardighede sal aanleer.

In die praktyk is dit egter nie so eenvoudig nie. As jou tienerdogter besluit sy haat wiskunde en dis 'n mors van tyd, gaan dit baie moeilik wees om haar te oortuig dat dit 'n vaardigheid is wat sy later in haar lewe dalk mag nodig kry.

Kobus sê in so 'n geval kan ouers probeer om uit te vind of daar dalk iets spesifieks is wat hul kind motivering laat verloor het. Het jou kind 'n doelwit om na te streef? Stel jy as ouer dalk te hoë eise? Kritiseer jy te veel? Of maak die kind jou (te lae) aspirasies sy eie? Stel jy dalk te min belang? Kla jy te veel oor jou werk? Projekteer jy jou mislukkings op jou kinders?

Hy sê ouers is dit gewoonlik eens dat praat en verwyt in so 'n geval nie die geskikte oplossing is nie. As jy vermoed jou kind is siek, neem hom vir 'n mediese ondersoek. As hy in niks belangstel nie, mag dit die moeite werd wees om hom na 'n sielkundige te neem.

Wanneer hy geen persoonlike doelwit het nie, kan jy saam met hom probeer om spesifieke doelwitte, wat sy geliefkoosde belangstellings betrek, vir hom uit te stippel, sodat hy 'n iets het om voor te werk.

Jakkie en Werner stel ook voor dat jy jou kind leer om te beplan om sy tyd nuttig te gebruik. "Help hom om nie die werk tot op die laaste nippertjie te los voor hy begin voorberei nie, want dit bring onnodige druk", sê Werner.

Hy stel ook voor dat jy jou kind bystaan om die regte studiemetodes aan te leer, hoe om sy leerruimte voor te berei, die werk stuk-stuk baas te raak en te hersien.

As hy byvoorbeeld gespanne is, kan jy toesien dat hy genoeg oefening kry, genoeg rus en reg eet.

"Daar sal altyd druk wees, maar die eksamen is 'n stuk gereedskap wat kinders leer hoe om spanning te verwerk."

Jakkie stel voor ouers moet hul kind se onderwyser(s) leer ken en oueraande bywoon, omdat die verwagtinge van die skool en die onderwyser hier bespreek word.

"Moenie bang wees om die hoof oor 'n probleem te gaan sien nie. Hy sal heel moontlik aanvanklik die onderwyser se kant kies, maar wel later die betrokke onderwyser oor die probleem inlig en regstellende optrede verwag. Ouers moet ook nie aan geheueverlies ly nie. Net soos ons ons ouers met halwe waarhede probeer manipuleer het en kanse gevat het, net so probeer ons kinders vandag presies dieselfde", sê Jakkie.

 

Mislukkings

"Wys jou kind altyd daarop dat mislukking van groot hulp in die leerproses kan wees, maar onbelangrik in die bepaling van sy waarde as mens is", sê Kobus.

Hy stel voor dat ruimte vir mislukkings gelaat moet word. Bespreek dit individueel en in gesinsverband en bereik dan ooreenstemming hoe dit hanteer gaan word.

Shani lê baie klem op die keuses wat jy maak wanneer jy met 'n mislukking gekonfronteer word. Sy sê twee mense wat dieselfde ongeluk of spanningsvolle situasie oorkom, kan dit in 'n katastrofe verander deur die manier hoe hulle dit hanteer.

Terwyl een persoon homself as't ware in die probleem "verdrink" en homself jammer kry, mag 'n ander dalk strategieë aanwend om dit te hanteer, soos om by 'n vriendin te gaan kuier, te gaan draf, mooi musiek te luister of 'n goeie rolprent te gaan kyk.

Wanneer jy jou kind help om geleenthede te skep sodat hy sy spanning suksesvol kan ontlaai en sukses behaal, gaan sy selfvertroue groei en sal hy vir groter uitdagings kans sien.

Wietske stel voor dat ouers met angstige kinders nie hul kind daarvoor straf nie. Deur die kind vir sy angstigheid te straf, sal slegs meer angstigheid veroorsaak.

"Roetine is baie belangrik vir angstige kinders." In gesinne waar roetine afwesig is, kom onvoorspelbaarheid voor wat tot verdere angs lei. Sy beveel ook aan dat kinders wat baie spanning beleef, se dieet aangepas word sodat kunsmatige suikers vermy word omdat dit angstigheid verhoog en organiese voedselsoorte voorkeur kry.

"Leer mekaar se leefwêrelde ken en toon wedersydse begrip vir mekaar. Elke skool het ondersteunende ouers nodig", sê Jakkie.

 

Hulp vir eksamen

* Sorg dat jou kind het 'n dagbeplanner het waarin al die vakke en wanneer om te hersien, neergeskryf is.

* Laat hy die dae afmerk wat hy klaar geskryf het en ook geleer het.

* As hy klaar geleer het, kan jy saam met hom hersien en vrae vra om te kyk of hy die werk ken.

* Help jou kind die aand voor die eksamen deur alles vir die volgende dag gereed te sit en verminder só oggendspanning.

* Help jou kind om bereikbare, meetbare, haalbare en realistiese doelwitte vir homself te stel.

* Luister as hy oor die eksamen praat. Help hom met studiemetodes en gee vir hom die geleentheid om insette te lewer.

* Maak 'n punt daarvan om positiewe gedrag te erken en beloon, eerder as om te fokus op wat hy verkeerd doen.

* Wees realisties oor jou kind se vermoëns. Gee komplimente as hy goed in sy eksamen doen en waak teen opmerkings soos: "Boetie, jy het gewoonlik 90% in wiskunde gekry, hoekom kry jy nou net 70%?"