Druk artikel

Mamma, ek's hartseer
Vrouekeur 1 April 2011

Verlies en hartseer is deel van die lewe, maar jy kan jou kind help om op ‘n gesonde manier te rou, skryf Luisa van der Linde

Enige mens wil die beste vir sy kinders hê en hulle ook van pyn en hartseer vrywaar, maar dis ongelukkig nie moontlik nie. Hoe gemaak as jou kind deur ‘n rouproses gaan?

Kinders rou wanneer daar iets groots in hul lewe gebeur, soos die egskeiding van hul ouers, wanneer hulle verhuis of wanneer ‘n troeteldiere of geliefde doodgaan.

Soms is dit nodig dat jy saam met jou kind verlies verwerk en afskeid neem. Op hierdie manier kan jy hom help om ‘n meer realistiese siening van die wêreld te ontwikkel en hom weerbaar teen terugslae maak.

Professionele hulp of spelterapie word sterk aanbeveel vir kinders wat ‘n geliefde aan die dood afgestaan het.

Die Gautengse spelterapeut Wietske Boon meen die gesonde uitdrukking van emosies is iets wat by kinders wat rou aangemoedig moet word.

“Ouers hoef nie hul hartseer en trane vir ‘n kind weg te steek nie.  Dit is goed wanneer kinders sien dat volwassenes kan huil.  ‘n Kind moet leer dit is normaal om hartseer te wees.

“Wanneer ons emosies terughou, gaan dit te veel word en gaan dit een of ander tyd begin ‘oorloop’. Dit is wanneer normale funksionering belemmer word en onbenullighede enorme emosionele reaksies uitlok.
 
“Moedig die kind aan om oor die oorledene te praat, selfs al veroorsaak dit trane.  Verduidelik vir die kind dis nie sy skuld as julle huil nie, maar die hartseer oor die geliefde wat julle laat huil”.

HELP JOU KIND ROU

DRA DIE WAARHEID REG OOR
Ouers probeer soms hul kinders hartseer spaar deur stories te vertel soos “Pappa is op ‘n lang reis en gaan nie gou terugkom nie” of  “As dinge rustiger gaan, sal ek probeer verduidelik”. Sulke stories maak kinders net meer angstig. Dis beter om dadelik die waarheid te vertel.

VERDUIDELIK WAT DOOD IS
Kenners meen ouers moet so duidelik, eenvoudig en reguit moontlik verduidelik hoekom iemand oorlede is. Hulle moet van abstrakte konsepte wegbly omdat dit die kind ‘n valse hoop kan gee dat die geliefde sal terugkom.  Vertel vir jou kind dat mense en diere wie se liggame lewe kan asemhaal, eet, sien hoor, ruik, speel en voel. Die dood beteken dat hulle hart nie meer klop nie en hulle nie meer asemhaal nie. Dit lyk of die persoon of dier slaap, maar hulle kan nie wakker word nie.  Verduidelik dat die mens wat dood is nie meer sy liggaam nodig het nie.

LAAT JOU KIND SELF BESLUIT
As jou kind kies om na die begrafnis of roudiens toe te gaan, vertel hom vooraf wat by die kerk of die begraafplaas gaan gebeur. Wanneer die persoon veras word, kan jy vir hom verduidelik wat gaan gebeur en hoekom. In die verlede is kinders soms weggestuur. Kundiges meen egter dit kan hul gevoelens van verlies, verwerping en hul angstigheid juis verhoog as hulle weggestuur word wanneer hulle self ook ondersteuning nodig het. Besoek die graf wanneer die kind daarvoor vra.  Moenie jou kind daarvan weerhou om te rou nie, maar moenie jou kind dwing om aan die reëlings deel te neem of die graf te gaan besoek as hy nie wil nie.

SKENK AANDAG
Oorlaai jou kind met liefde en ondersteuning. As sy wêreld onderstebo gekeer word, lees vir hom ‘n slapenstydstorie, gee soentjies en drukkies, hou hom vas en luister na hom. As hy uitermate stil is, doen juis moeite hiermee sodat hy sy verlies kan verwerk.  Hê tonne geduld om te troos, luister en lief te hê selfs al toon jou kind weerstand daarteen.  Laat hom toe om enige emosie te wys en soveel vrae te vra as wat hy wil. Vertel vir hom wat die onmiddellike planne is en stel hom gerus dat hy versorg sal word. Dit is veral belangrik as die persoon se dood as gevolg van misdaad was, omdat hy dan oor sy eie veiligheid bekommerd kan wees.

GEE ‘N TASBARE HERINNERING
Hy mag dalk ‘n hemp wat die persoon gereeld gedra het, ‘n foto of gunsteling voorwerp waardeer. Laat hy self kies wat hy wil hê. Blaai deur albums of maak saam ‘n nuwe album en gesels oor die goeie herinneringe.

LAAT JOU KIND BRIEWE SKRYF
Skryf van die hartseer, verlange of dinge wat die kind graag vir die persoon sou wou sê, maar nie het nie.  Vra vir jou kind wat hy met die briewe wil doen en respekteer sy besluit. 

PROBEER BY ROETINE HOU
Vra hulp van familie of vriende indien nodig sodat jou kind in sy roetine en bekende omgewing bly.  Dit bied aan hom ‘n sin van veiligheid en normaliteit.

JOU KIND SE REAKSIE
‘n Studie is onder 125 kinders tussen die ouderdom van ses en 17 jaar wat ‘n ouer aan die dood afgestaan het, gedoen. Daar is bevind 13% van die kinders het ná ‘n jaar steeds daagliks of weekliks gehuil.

Baie was ook angstig oor hul eie of ander familielede se veiligheid en het skuldgevoelens ervaar oor hul negatiewe gedrag toe die persoon nog gelewe het.
‘n Baie jong kind reageer soms glad nie wanneer hy hoor iemand is dood nie. “Baie ouers is bekommerd dat hul kind nie dadelik emosie of sigbare rou toon nie,” sê Cendra Lynn, ‘n sielkundige op die Griefnet-webwerf. Sy sê dis belangrik om te onthou kinders se persepsie is in hul vyf basiese sintuie gesetel. Dit is konkreet, geskied op korttermyn en word gegrond op wat hulle op ‘n spesifieke tydstip voel.
 
Hulle gaan nie altyd dadelik die konsep van dood verstaan nie. Vir hulle is die persoon daar en dan weg en hy bly weg. Hulle mag dus met die eerste oogopslag nie emosie toon nie, todat die kumulatiewe oomblikke te veel raak en hulle besef die
persoon is nie meer daar nie.

Cendra sê jou kind gaan veral spesifieke elemente van die oorledene mis. “Sy stemtoon, uitdrukkings, hoe hy geruik het en dinge wat hulle saam beleef het”. Hy gaan dus nie noodwendig onmiddellik reageer as hy hoor iemand is dood nie.

Onthou ook kinders veralgemeen. As die persoon wat hy geken het by die hospitaal oorlede is, mag hy dalk dink ’n hospitaal is ‘n plek waar jy doodgaan. As die persoon in sy slaap oorlede is, mag hy dalk bang wees om te gaan slaap.

Wanneer iemand doodgaan sal jou kind dalk aanhoudend dieselfde vrae vra. Dit is dalk nie omdat hy nie verstaan nie - vrae wys dat hy onseker voel. Deur antwoorde te soek, rou hy oor die mens wat nie meer daar is nie. Luister geduldig en beantwoord al sy vrae.

WAAK HIERTEEN
Mense is geneig om opmerkings te maak soos: “Noudat Pappa nie meer hier is nie, moet jy nou die man van die huis wees,” of “Jy moet nou mooi na Pappa kyk, want Mamma is nie meer hier om na hom te kyk nie.”
 
Wietske sê dit plaas ‘n groot las op die kind se skouers. “Die kind neem dit letterlik op en voel hy moet die rol ten volle  vervul. Hy word dan nie die geleentheid gegun om deur die normale rouproses te werk nie en word van sy kindwees beroof”.

Kimberley Keith, ‘n kinderberader, identifiseer drie fases waardeur kinders gaan as hulle rou. In die eerste fase is sy wêreld onderstebo. Hy mag regressiewe gedrag toon, woede-uitbarstings hê en sukkel om te konsentreer. Hy kan ook fisieke simptome soos moegheid, slaap- en eetprobleme en psigosomatiese simptome ervaar.

Die tweede is ‘n oorgangsfase waarin die kind hulpeloos, magteloos en moedeloos voel. Die aanvanklike chaos is verby, maar die kind kan tekens van depressie toon. Hy mag ook aggressie toon, hom onttrek of swak vaar op skool.
As hy met skuldgevoelens sukkel oor iets wat hy gesê het, moet hy verseker word dat dit nie sy skuld is nie, sê Wietske.

“‘n Voorbeeld kan wees:  As hy sy tas vroeër gepak het, soos sy ma gevra het, sou hulle nie laat gewees het nie en dan was Pappa nie in die motorongeluk nie.  Kinders glo ook dat hul denke iemand se dood kan veroorsaak.  ‘n  Kind wat gewens het sy irriterende sussie wil iets oorkom en sy sterf, kan glo dat hy dit veroorsaak het”.

In die derde fase, wanneer die kind homself emosioneel uitgewoed het, kan hy begin om homself van die geliefde los te maak. In dié fase het hy meer energie en motivering om ‘n positiewe uitlaatklep vir sy gevoelens te kry.

DAAR’S GEEN FORMULE NIE
Onthou, geen rouproses is eenvoudig of verloop dieselfde nie.
Kimberley beklemtoon dat ouers moet besef hartseer het nie ‘n eenvoudige oplossing nie. Kry professionele hulp as jou kind se gedrag jou bekommer.