Druk artikel

Maak jy ín behaagslaaf groot?
Lig Maart 2012
Rene Badenhorst

“Ek stem nie saam nie” is seker die moeilikste frase vir ’n behaag­slaaf, oftewel ’n “people pleaser”, om te gebruik. Behaagslawe is hipersensitief vir kritiek, blameer hulleself wanneer dinge verkeerd loop, het ’n oorontwikkelde sin vir verantwoordelikheid en vrees vir verwerping. Alhoewel ons graag “gawe” gedrag by kinders aanmoedig, kan dit ’n vernietigende effek hê as hierdie kinders volwassenes word wat té graag almal wil behaag.

Dit is belangrik dat kinders ’n gesonde balans handhaaf tussen hulle eie belange aan die een kant en mededeelsaamheid en medemenslikheid aan die ander kant, sê mev Wietske Boon, spelterapeut van Centurion. ’n Oormatige behoefte om ander tevrede te stel maak kinders baie beïnvloedbaar vir groepsdruk. Hulle vermy dit om konflik te hanteer en vind dit moeilik om te onderhandel, aangesien hulle nie maklik hulle eie emosies en behoeftes kan verwoord nie. Behaagslawe het ’n lae selfbeeld en voel onwaardig ten opsigte van enige positiewe gebeure of komplimente. Hulle gun hulleself niks nie en praat negatief oor hulleself en enigiets wat hulle aanpak.

Die wortel van die kwaad

Volgens dr Rika Swanzen, ma van twee en hoof van die Departement Kinder-en-Jeugontwikkeling by Monash-Universiteit se Suid-Afrikaanse kampus, het ouers se geaardhede en benadering tot verhou­dings ’n groot invloed op hulle kinders. Hoe ouers by­voorbeeld situasies in die winkel hanteer waar hulle die ontevrede klant is, word deur kinders waargeneem as die regte manier van doen.

Ouers se hantering van dissipline speel ook ’n belangrike rol. Alhoewel dit belangrik is om kinders te leer om respek vir volwassenes te hê en nie terugpratery te duld nie, moet kinders ook geleentheid gegun word om hulle mening te lug. 

Behaagsieke gedrag word ook aan­ge­moedig in gevalle waar dissipline op die kind persoonlik gemik is in plaas van op sy of haar gedrag, sê Wietske. Enige vorm van mishandeling (insluitend emosionele mishandeling) kan die kind dryf om sy ouers tot elke prys tevrede te wil stel. Op díé manier hoop hy of sy om te voorkom dat hulle verder seergemaak word. Sommige kinders ervaar dat hulle ouers hulle net liefhet wanneer hulle die ouers tevrede stel. Die goeie gedrag is dan ’n hulpkreet om liefde en aanvaarding.

Behaagsieke gedrag kan ook bloot die gevolg wees van lae selfbeeld of onderliggende depressie, sê Wietske. Die kind doen wat ander wil hê hy moet doen om ’n gevoel van geborgenheid, waarde, aanvaarding en tevredenheid te kan ervaar. Eksterne aanvaarding is vir behaagslawe baie belangrik aangesien hulle aanvaarding van hulleself dikwels onvoldoende is.

In sommige gevalle kan egskeiding die oorsaak wees. Wanneer een ouer voor die kind sleg praat van die ander ouer, voel die kind verplig om die ouers gelukkig te hou sodat die geveg tussen hulle kan ophou.

Toegeeflikheid met selfvertroue – die gesonde balans

Daar is ’n fyn grens tussen ’n behaag­slaaf en iemand wat toegeeflik is, sê Rika. Om inskiklik te wees en ander se opinies en gevoelens in ag te neem, is een van die kenmerke van emosionele intelligensie en kan vir ’n kind goed wees in die sin dat dit sy of haar status in die portuurgroep verhoog.

As die kind egter om die verkeerde redes mense wil tevrede stel, en dit daartoe lei dat sy eie behoeftes nooit vervul word nie, word dit ’n slegte gewoonte. Kinders moet leer dat dit nie selfsugtig is om na jouself om te sien nie. ’n Mens het minder om te bied as jy jou identiteit en sin vir eiewaarde verloor het. In gesonde verhoudings moet ’n mens gee én neem deur ’n proses van onderhandel en kompromieë aangaan.

’n Mens wil nie hê jou kind moet selfgesentreerd wees nie, maar hy of sy moet ook nie ’n te lae selfbeeld en oormatige selfkritiek hê nie. Dít is ’n baie moeilike balans vir ouers om aan kinders oor te dra. Die volgende wenke kan met hierdie taak help:

  • Vra soms jou kind se mening. Dit forseer hom om te dink en uiting te gee aan sy gevoelens, sê Rika. As jy weet hoe jou kind voel, kan julle daaroor gesels. Hoe meer ’n kind by die huis waar hy veilig voel, oefen om sy gevoelens te uiter sonder om gekritiseer te word, hoe makliker sal hy dit in ander situasies ook doen.
  • Boeke of flieks waardeur kinders goeie waardes by die held of heldin kan leer, help met hulle karaktervor­ming. Kyk saam na die flieks en vra daarna interessante vrae daaroor. Dit gee kinders ’n veilige plek om deur hulle gedagtes te werk. As ’n kind reg dink, sal hy reg doen. So kan ’n ouer leiding gee in die kind se denkrigting.
  • Maak tyd vir gesels of gebruik leer­geleenthede vir verduidelikings. As daar byvoorbeeld ’n insident by ’n winkel plaasgevind het, vra jou kinders wat hulle beleef het. So hoor ’n mens wat hulle interpretasie van en gevoelens oor die gebeure was. Die ouer kan byvoorbeeld sê: “Ek het nou met die hond geraas, maar eintlik was ek kwaad oor die onreg­ver­dige behandeling by die winkel. Volgende keer gaan ek probeer om vir die bestuurder te sê wat my van ’n produk pla, sodat ek nie my ongelukkigheid binne hou en dan binne ’n kort rukkie met ’n stukkende produk sit of my frustrasie by die huis kom uithaal nie.” Die karaktervorming wat met sulke openhartige gesprekke plaasvind, het soms ’n groter impak as ’n straf- en beloningstelsel, want kinders kan deur persoonlike ervaring die ouer se morele les aan ’n praktiese gebeur­tenis koppel.
  • Rika glo dat kinders by die huis ’n veilige plek moet hê waar hulle hulle gevoelens vrylik kan uitdruk, maar dat hulle dit nie in elke situasie kan doen nie. Dikwels wil ons net hê iemand wat omgee, moet luister en wil ons nie noodwendig die “skuldige party” aanvat nie. Rika waarsku egter: “Evil prevails when good men do nothing.” Sy ondersteun dus haar kinders se pogings om beswaar te maak wanneer daar iewers onregverdigheid is. Dit beteken dat sy ook luister as hulle voel sý was onregverdig teenoor hulle.

Wietske se raad

  • Werk aan jou kind se selfbeeld deur op sy sterk punte en positiewe gedrag te fokus. Laat jou kind goed voel oor homself. Gee positiewe terugvoering en komplimente as hy iets regkry. Daar is heelwat boeke en speletjies beskikbaar wat op gesonde selfbeeldontwikkeling fokus.
  • Maak tyd vir jou kinders en gee genoeg gesonde aandag aan hulle.
  • Moenie jou kind persoonlik aanval wanneer jy dissipline toepas nie. Straf diegedrag.
  • Wees onvoorwaardelik lief vir jou kinders. Hulle het ’n fyn aanvoeling vir jou aanvaarding én jou afkeuring.
  • Hou kommunikasiekanale met jou kinders oop sodat hulle die vrymoedigheid sal hê om met jou te praat wanneer hulle ongelukkig voel.
  • Leer jou kind van ’n vroeë ouderdom af dat dit goed en reg is om soms van mening te verskil en om te weet wanneer om nie saam met die groep te stem nie, al is daar druk op jou.
  • Maak jou kind bewus van sy gedrag en die gevolge wat sulke gedrag vir hom kan inhou. Oefen by die huis scenario’s waar die kind leer om “nee” te sê en sy man te staan.

Die behaagslaaf se plek in die gesin

Daar word geglo dat dit meestal middel­kin­ders is wat behaagslawe word, aange­sien die oudste kind die ouers se trots is en die jongste die “baba” wat baie aan­dag kry. Dus probeer middelkinders dikwels om hulle ouers se aandag te kry of hulle raak rebels. Dit kan egter enige kind in die gesin wees, na gelang van die kind se persoonlikheid, die gesin se omstandighede, en die ouers se opvoe­dingstyl.