Druk artikel

My angstige kind
Vrouekeur 11 Mei 2012
Maretha Botes

Jou kind is angstig, maar wat veroorsaak dit?  Volgens kenners kan selfs jou gejaagde lewenstyl die monster loslaat.

Die meeste ouers werk en kinders moet reeds vroeg na kleuterskole of dagmoeders gaan waar hulle nie altyd individuele aandag kry nie.  Vandag word daar ook meer druk op kinders geplaas. Werksgeleenthede het skaarser geword, maar die samelewing se vereistes het verhoog. 

“Daar word dus van jongs af van kinders verwag om beter te presteer en aan meer aktiwiteite deel te neem. Dit eis sy tol,” sê Wietske Boon, spelterapeut van Centurion. 

Oormatige angstigheid by kinders is egter glad nie ’n rare verskynsel nie en kan deur ’n verskeidenheid van gebeure of ’n kind se temperament of persoonlikheid veroorsaak word.  Sommige kinders funksioneer beter onder druk, spanning of verandering as ander en raak nie so gou angstig nie. Kinders van alle ouderdomme kan angstig wees, maar die maniere waarop hulle dit in die verskillende ouderdomsfases hanteer, kan verskil,” sê sy. 

Dr Rykie Liebenberg, psigiater van Sandton, sê genetika speel 'n rol in die ontstaan van angstigstoestande by kinders.  “Alle simptome moet beoordeel word met die kinders se ouderdom in gedagte. Hul temperament (mate van introversie), ouerlike angs, ouerlike konflik, verbrokkeling van ouer-kind-band of psigososiale probleme kan alles tot die ontwikkeling van angs bydra.”

“Oormatige ouerlike beheer en oorbeskerming kan tot angstige kinders lei wat die wêreld as 'n gevaarlike plek sien. Hulle leer ook nooit vaardighede om aan te pas en te oorleef nie, want die ouer doen alles vir hulle,” sê dr Rykie.  Sy sê simptome van angs in kinders is dikwels somaties, soos maagpyn, hoofpyn, naarheid, lighoofdigheid, vinnige hartklop en so aan. Hul gedrag kan ook versteur wees, soos huil- of woede-uitbarstings.  Hulle kan weier om van 'n ouer te skei, skool toe te gaan, alleen te wees of alleen te slaap. Hulle is bekommerd dat die ouer sal doodgaan of seerkry en wil gedurig huis toe bel of gaan en sal dikwels by die skool oor ‘n siekte kla om huis toe te gaan.

Ouderdom is hier belangrik. Dit is normaal vir 'n baba van omterent ses maande tot so 18 maande. Op ongeveer driejarige ouderdom begin kinders verstaan dat die skeiding net tydelik is en word dus minder angstig. Dit hang ook af hoeveel impak die angs op die kinders se funksionering het of dit as 'n versteuring geklassifiseer kan word.

Wanneer kinders aan ’n algemene angsversteuring ly, is die bekommernis of angs groter as met skeidingsangs, verduidelik dr Rykie. Kinders is bekommerd oor skoolpunte, vriendskappe, wêreldgebeure, hul gesondheid en families.

“Hulle sien die negatiewe gevolge van alles, oorskat die gevare van die wêreld en onderskat hul eie vermoëns om aan te pas en dit te hanteer,” sê dr Rykie.

Fisieke stressimptome is ook baie algemeen: “moegheid, hoofpyn, maagpyn, spierpyn en swak konsentrasie. Dan is daar slaapversteurings en hoë irritasievlakke.”

Algemene tekens sluit die ontwyking van situasies, uitreagerende gedrag (soos om maats seer te maak), vloermoere, psigosomatiese simptome, konsentrasieprobleme, rusteloosheid, slaap- en/of eetprobleme of gewoontes, soos om naels te byt in.

My storie

“Ons dogter, Lauren*, was 16 met ’n sterk persoonlikheid, leiereienskappe en waagmoed,” sê Belinda*.

“Sy het ook Tipe 1-diabetes. As Lauren se bloedglukose te hoog of laag is, verloor sy maklik haar konsentrasie. Dis maar hoe diabetes werk. Aan die einde van graad 10 moes sy twee van haar eindeksamensvraestelle skryf terwyl ek en my man vir sake weg was. Dit het nog nooit vantevore gebeur nie, maar ons kon nie anders nie. Haar broer, wat ses jaar ouer was, was nog in die huis en hulle was albei gelukkig met die reëling.

“Lauren se glukose het in dié tyd vreeslik geval weens die eksamenspanning. Dit het haar konsentrasie beïnvloed en haar een vak se punt het van 90% na 70% gedaal. Ek weet dis niks om oor histeries te raak nie, maar Lauren was baie ongelukkig.

“Ons het agterna die onderwyser gaan spreek en hy het toe haar klaspunt gebruik. Toe die skool die volgende jaar begin, het dinge sommer vroeg begin skeefloop. Lauren het my een oggend ná ’n wiskundetoets in trane gebel omdat sy niks kon doen nie. ‘Ek kan nie meer toets skryf nie,’ het sy gesê. Wiskunde was een van haar gunstelingvakke. Ek het gedink sy oorreageer, maar die wind was uit my seile toe sy 30% vir die toets kry. Sy het gewoonlik in die tagtigs gekry.

“’n Hele paar toetsfiasko’s gevolg met vakke waar sy moes dink, soos wiskunde, rekeningkunde en wetenskap. Die leervakke was geen probleem nie. Dit het egter ook in haar persoonlike lewe oorgespoel en daar was gedurig wrywing met vriende. Ek is nie seker of dit was omdat sy gespanne en ongelukkig oor haar punte was en of dit maar die algemene angstigheid was wat haar krapperig gemaak het nie. Sy het ook baie sleg geslaap en was dus nog meer prikkelbaar.

“Ek het haar na ’n opvoedkundige sielkundige geneem, maar sy het nie aanklank by die vrou gevind nie. Toe die eerste kwartaal se eksamen nader kom, het ek besef ons het groot probleme en sy was in ’n toestand. Sy was nog altyd pligsgetrou en ek kon sien dat die ding haar hele wese raak.

“Op aanbeveling van ’n vriendin het ons ’n psigiater in Sandton gaan sien. Ek was maar huiwerig omdat ek altyd gedink het psigiaters is net vir mense met ernstige sielkundige probleme. Wel, ek was geweldig beïndruk. Sy het gesê Lauren het algemene angsversteuring en ‘n mens kan kognitiewe gedragterapie doen of die medikasieroete volg.

Ek was sku vir medikasie, maar ons was desperaat en het nie genoeg tyd voor die eksamen gehad om 12 weke van gedragsterapie te doen nie. Lauren was ook nie geneë nie.  Die psigiater het ’n “serotonin re-uptake inhibitor” voorgeskryf en dit het dadelik ’n verskil gemaak. Toe haar toetspunte verbeter, het haar selfvertroue ook teruggekom. Dis mos maar ’n hele kringloop.

“Sy het dit vir die hele graad 11 en 12 gebruik en dit toe oor ‘n paar weke geleidelik verminder en opgehou. Dit was nooit weer nodig nie en het haar BSc.-graad met vlieënde vaandels geslaag.

“My raad aan ma’s is om so gou as moontlik by die regte psigiater uit te kom. Die medikasieroete het vir ons gewerk, maar elkeen moet maar self besluit. Ek kon net sien dat die angstigheid heeltemal die mat onder my voorheen selfversekerde kind se voete uitgepluk het en dit het haar eindeloos gefrustreer dat sy nie in beheer gevoel het nie. Ek dink dit kan ’n langtermyneffek op ’n kind se persoonlikheid hê as mens dit nie dadelik aanspreek nie. In haar geval was die effek van die hoë bloedglukose die sneller, maar dit kan in baie gedaantes voorkom.”

Kry hulp

Dr Rykie raai ouers aan om professionele hulp te soek en eers alle mediese redes vir angstigheid uit te skakel. “Miskien is die huisdokter 'n goeie begin en dan kan julle na 'n sielkundige vir terapie verwys word en indien nodig 'n kinderpsigiater vir medikasie. Soms is dit nodig dat die hele gesin vir terapie gaan, veral as daar probleme is soos egskeiding, drankmisbruik, mishandeling of geweld.”

Volgens Wietske kan angstigheid ook doeltreffend deur spelterapie opgelos word.  Veral jong kinders het nog nie die vermoë ontwikkel om hul emosies te verbaliseer nie, maar kan dit wel deur spel kommunikeer.

Die speelkamer is ‘n veilige plek waar die kinders hulself kan wees. Spel gee hulle die geleentheid om emosies te eien, dit te kommunikeer, en die gebeure wat tot angstigheid aanleiding gee, te verwerk en om hul selfbeeld te versterk sodat angstigheid verminder,” sê sy. 

“Wanneer ouers besef hul kind ervaar angstigheid, is hulle dikwels onseker en soms ook angstig oor hoe om die kind op die regte manier te help.  Bly kalm en wees geduldig met jou kind,” maan Wietske.

“Moenie hulle verneder, verkleineer of straf omdat hulle sukkel om hul daaglikse aktiwiteite te hanteer nie. Moenie kinders kritiseer of met ander vergelyk nie. Laat jou kind geliefd voel.”

Nuttige wenke

  • Roetine in die huis is baie belangrik vir die kind wat tot angstigheid geneig is.
  • Identifiseer die oorsaak vir die kind se angstigheid en spreek dit aan.  
  • Pas jou kind se dieet aan deur kunsmatige suikers en chemiese voedsel te vermy aangesien dit angstigheid verhoog.
  • Ontspanningsoefeninge kan jou kind help om spannende situasies positief te hanteer.  Die angstige kind het baie ondersteuning van die ouers nodig om sosiale geleenthede of situasies positief te hanteer.

*Skuilname