Druk artikel

Skielik ‘n (tweede) ma!
LIG November 2012
René Badenhorst

“‘n Radikale omwenteling!” Dit is hoe die oorgang van enkellopende vrou tot moeder van een of meer kinders beskryf kan word. 

Rentia Kotze*, is getroud met ‘n wewenaar-pa van ‘n driejarige seuntjie. Sy vertel: “So ‘n klein mensie open vir jou as nuwe ma ‘n nuwe lewe van oumas en oupas, tannies en ooms – ‘n hele klomp mense wat skielik in ag geneem moet word. Hulle is mense wat elkeen ‘n stukkie van hom wil hê:  ‘n kuiertjie, ‘n naweek se oorslaap, ‘n sê in sy lewetjie.

“Soms voel dit of ek hom nooit my eie sal kan maak nie. Word ek oorweldig deur die see van vreemde gesigte wat al soveel langer deel is van sy lewe. Ek wil so graag saam met sy pa die kleintjie se gunsteling wees, en tog is daar soveel ander aanspraakmakers op sy aandag. Dikwels bekruip ‘n gevoel van onbekwaamheid my as ek na al die goedbedoelde raad luister. Ander kere ervaar ek moedeloosheid en selfs trane omdat hy nie vinnig genoeg op my groot dosis liefde en aandag reageer nie.

“Uiteindelik kan dié gewaarwordinge toegeskryf word aan die sensitiewe plekkie in ‘n ‘tweede ma’ se hart.  Jy wil dan só graag hê dat hierdie nuwe mensie in jou lewe, jóú as sy mamma moet aanvaar.”

Jy hét ‘n plek

Me Elmarié du Plessis, ’n kliniese sielkundige in Durbanville, waarsku dat ‘n mens daarop voorbereid moet wees dat die “nuwe” vriende en familie aanvanklik skepties kan wees oor jou motiewe. Jy kan ook vir lank soos ‘n buitestaander voel.

Moenie probeer om vir die kinders soos hulle eerste ma te wees nie, sê Elmarié. Vertrou jou eie unieke bydrae in hulle lewe. Jou oortuigings en persoonlikheid en gewoontes sal noodwendig van dié van hulle ma verskil.  Daarom sal jy die kinders versigtig en met deernis daaraan moet blootstel, voordat jy kan verwag dat hulle dit moet aanvaar.

“Maar dit is verbasend hoe ma-wees sommer vanself kom as jy ‘n goed deurdagte en ‘deurbidde’ keuse gemaak het om die klein mensie as jou eie aan te neem,” sê Rentia. “Dit is waar alles vir my begin het. ‘n Besluit. ‘n Hardop ‘ja!’ Nie net vir die man aan my sy nie, maar ook vir die seuntjie aan sý sy. Die feit dat ek volkome vrede gehad het dat dit alles deel is van die Here se meesterplan vir my en my nuwe gesin, het baie gehelp.  Asook die maande vooruit se voorbidding deur onsself, ons vriende en familie. ‘n Mens maak soveel foute, veral aan die begin, maar jy leer ook gou wat om te doen.  En dat dit oukei is – en normaal! – om foute te maak.”

Wees geduldig

Maar die grootste aanpassing is waarskynlik die kind s’n, sê me Wietske Boon, spelterapeut in Centurion. “Sommige kinders beleef selfs skuldgevoelens wanneer hulle die nuwe ma in hulle lewe sonder meer aanvaar; dit laat hulle skuldig voel teenoor hulle biologiese ma. “Daarom moet die nuwe ma aanvaar dat die eerste ma deel was van die kind en sy pa se lewe,” sê Wietske. “Dit maak jou nie minder belangrik in hulle lewe nie. Maar wees geduldig en gun die kind tyd om deur sy of haar emosies te werk.”

Help die kind só

Behou so ver moontlik die roetine waaraan die kind gewoond is.  Dit maak die aanpassing by die nuwe omstandighede makliker.

Behou die gesinsfoto’s en foto’s van sy ma in die huis. Dit verseker bekendheid in die nuwe situasie.  Dit verhoed ook dat die kind voel dat jy sy ma se plek wil inneem.

Herinneringe aan sy ma is deel van die kind se lewe. Maak dit duidelik dat jy gemaklik daarmee is dat julle oor haar gesels. Toon begrip vir die kind se emosies wanneer hy soms hartseer of kwaad voel omdat sy nie meer daar is nie en hy na haar verlang.

Elmarié voeg by:  “Moenie die kind dwing om jou ‘ma’ te noem nie. Dit sal vanself gebeur wanneer hy gemaklik daarmee voel.

“Moenie te gou alles in die huis verander nie.  Indien die kind oud genoeg is, kan jy haar deel maak van die proses.

“Besef dat kinders tydens ‘n routyd hulle woede en onbegrip omdat hulle ma weg is, op jou kan projekteer. Toon begrip vir hoe die kind voel, en besef dat die aanvaardingsproses tydsaam gaan verloop.

“Besef dat die kind, wanneer jy en sy pa julle eie kinders kry, dalk onseker kan wees oor jou volgehoue liefde en lojaliteit. Moedig gesprek hieroor aan.

Ouerskapwenke vir beginners

Elmarié se ouerskapwenke

Lees boeke oor ouerskap, woon seminare by en wees betrokke by die kind se skool- en ander aktiwiteite.

Maak tyd om met elke kind spesiale een-tot-een-tyd te bestee.  Raak werklik betrokke by hulle belangstellings. Weet wie hulle maats is.  Weet waarvoor hulle bang is, en waarvan hulle hou.

Kinders vind sekuriteit in roetine en voorspelbaarheid in hulle dag. Indien dit nie reeds daar is nie, bespreek dit met jou man en begin dit saam toepas - soos ‘n vaste slaaptyd-roetine, televisietyd en huiswerktye.

Onthou jy is die kind se ma en nie sy of haar vriendin nie. Jy en jou man moet dieselfde riglyne, reëls en grense stel en dit konsekwent toepas. Wees daarop bedag dat jou “nuwe” kinders dalk die grense mag toets om te bepaal waarmee hulle kan wegkom.

Fokus daarop om die kommunikasie en liefdesbande tussen jou en jou man sterk te hou.

Wietske se raad

Maak tyd om ‘n verhouding met die kind te bou. Jy gaan nie van die eerste dag af sy ma wees nie. Wees eers ‘n vertroueling. Iemand op wie hy kan staatmaak en deur wie hy aanvaar word. 

Gee haar ‘n mate van beheer, selfs al is dit net om te besluit wat sy wil eet of aantrek. Moenie leë beloftes maak nie, want dit plaas die kind weer in ‘n situasie waar sy teleurgesteld word (soos met die eerste ma se weggaan).

Gun hom tyd om aktiwiteite of uitstappies saam met sy pa aan te pak.

Respekteer die kind se persoonlike ruimte en haar behoefte aan alleentyd.

Wees altyd opreg. Kinders voel vinnig aan wanneer jy nie jouself is nie en iets voorgee wat jy nie regtig voel nie.  Dit kan julle verhouding negatief beïnvloed.

Elke kind is anders. Wees ingestel op die betrokke kind se persoonlikheid en behoeftes. Ouerskapstyle moet dikwils aangepas word om vir die kind én die ouers te werk.

 

*Skuilnaam