Druk artikel

Opgepiep
Baba en Kleuter Maart 2013
Daniella de Wit

Jy hardloop nader as jou kind net struikel, jy maak ‘n afspraak by die dokter sodra sy die geringste teken van ‘n loopneus toon en dis vir jou niks vreemdsom haar kleuterskool elke uur te bel nie. Ja, sommige mense noem jou dalk ‘n paranoïese ma, maar jy weet jy doen als in jou vermoë om jou lieflingkind te beskerm.

Ons maak ons kinders immers vandag in ‘n baie ander wêreld groot as dié waarin ons grootgeword het toe ons nog sorgeloos buite kon speel en fietsry.

Ons lees elke dag van aaklige dinge wat met onskuldige mense gebeur en daarom is dit sekerlik reg as ‘n mens al die moontlike doen om jou kind te beskerm? Of is dit?

Sinette van Rooy Booysen, ‘n kliniese sielkundige van Durban,sê dit is inderdaad vir ouers moeilik om die balans tussen beskerming en oorbeskerming te vind. “Ouers wat hul kinders oorbeskerm, doen hulle nie ‘n guns nie, maar ontneem hulle van belangrike lewensvaardighede wat bydrae tot gesonde persoonlikhede en die vaardighede om daaglikse probleme op te los, sê Sinette.

“Dit is moeilik om te bepaal waar die balans tussen oorbeskerming en beskerming is, maar dit is belangrik om nie die kind se persoonlike ruimte in die proses te betree nie.”

Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Centurion in Gauteng, sê oorbeskermende ouers gee hul kinders min geleentheid om onafhanklik te wees.

Daar word dikwels na hierdie ouers as helikopter-ouers verwys, want hulle hang nes helikopters oor hul kind. Wietske sê dit is dié ouers wat dadelik by is as dit net lyk asof die kind moontlik kan seerkry.

“Alle kinders val en kry soms seer, maar wanneer ‘n ouer ‘n groot bohaai daarvan maak en die kind oppiep, is selfondersoek nodig.

“Wees bedag daarop wanneer jou grense of vrese veroorsaak dat jou kind verhinder word om ondersoekend te wees en vrylik aan normale spel deel te neem,” maan Wietske.

Helikopter-ouers beskou fisieke aktiwiteite dikwels as gevaarlik en kan hul kind dus daarvan weerhou om haar omgewing te ondersoek en aan sekere aktiwiteite deel te neem omdat dit gevaar inhou.

So lyk helikopter-ouers...

Die sielkundige Sinette van Rooy Booysen sê helikopter-ouers het dié eienskappe:

  • Hulle kan net ontspan as hulle hul kind in die oog hou.
  • Hulle deel heeltyd opdragte uit.
  • Hulle aanvaar dat iets met hul kind sal verkeerdloop.
  • Hulle voel heeltyd angstig en is oortuig dat iets slegs met hul kind gaan gebeur.  Hulle ondersoek hul kind dadelik ná‘n val want hulle aanvaar sy het seergekry.
  • Hulle het streng reëls oor netheid en laat hul kind nie toe om vuil te word nie.
  • Hulle het onnodige streng reëls en strawwe vir nietighede.
  • Hulle plaas groot klem op akademiese sukses.

Meer kwaad as goed

Oorbeskerming kan ‘n kind se ontwikkeling meer skade as goed doen, waarsku Wietske.

“‘n Oorbeskermende ouer stuur vir haar kind ‘n boodskap dat haar omgewing nie ‘n veilige plek is nie. So word die kind bang vir ‘n omgewing waarin sy veronderstel is om te leer en ontwikkel.”

Omdat oorbeskermde kinders nie die geleentheid gegun word om normale aktiwiteite te geniet nie, ly kreatiwiteit en fantasiespel daaronder.

“Kinders leer en oorkom vrese deur ondersoekend te wees en deur soms te val en weer op te staan. Dit leer hulle nuwe vaardighede, selfstandigheid en ‘n gesonde mate van onafhanklikheid. Oorbeskerming ontneem hulle daarvan,” maan Wietske.

Verder kan oorbeskermende gedrag ook vernedering veroorsaak wat die ouer-kind-verhouding benadeel. Volgens Wietske kan een van die gevolge wees dat ‘n kind nie leer om haar te verdedig of om teleurstellings te oorkom nie.“As jong volwassene maak die kind dan steeds op die ouers se beskerming en hulp staat en kan sy nie haar eie probleme oplos nie.”

Sinette wys op verdere gevolge:

  • Oorbeskerming moedig ‘n kind aan om in latere jare te jok omdat haar ouers se verwagting so hoog is dat sy wangedrag verberg.
  • Kinders raak onnodig bang vir die wêreld omdat die gesonde waag van risiko’s ontmoedig word, soos om op ‘n roltrap te ry of nuwe speelgrond te ondersoek.
  • Kinders leer dat mag belangrik is omdat oorbeskerming op die ouer se mag oor die kind gegrond word. Dit kan later sosiale probleme veroorsaak.
  • Kinders kan die wêreld en ander mense wantrou.
  • Oorbeskerming vereis dat die kind altyd inskiklik moet wees en nie vrae moet vra nie. Die basis van die band tussen ouer en kind is nie op eerlikheid en wedersydse respek gegrond nie.
  • Gedrag word deur uiterlike dinge gemotiveer sodat die kinders geneig is om as volwassenes manipulerend en materialisties te wees.
  • Dit kan selfs tot latere depressie bydra omdat die kind gereeld ervaar dat sy “sleg” is as iets nie haar ouers se goedkeuring wegdra nie. Dit ondermyn haar selfvertroue en selfbeeld.
  •  Die kind kan ook later ‘n wrok teen ouers begin koester.

Wat kan jy doen?

Helikopter-ouerskan begin deur te praat met ander ouers wat hulle vertrou, sê Sinette. “Vra uit oor hoe hulle sekere situasies hanteer. Dit kan jou help om meer realistiese eise aan jou kind en jouself te stel. As jy steeds sukkel, kan jy‘n terapeut of berader raadpleeg.”

Sy sê dis belangrik dat jy billike verwagtinge en eise aan jou kind stel. “Kinders moet toegelaat word om kinders te wees en nie klein volwassenes nie. Hulle moet geleidelik begelei word om verwagte gedrag aan te leer en te leer dat sekere dinge gevaarlik is eerder as om ‘geprogrammeer’ te word wat reg, mooi en aanneemlik is. Ouers moet kinders die geleentheid gun om soms self die frustrasies in die lewe uit te werk sonder om die oplossing te verskaf. Ons moes almal van ‘n fiets afgeval het om te leer fietsry. As jy jou kind keer om te ‘val’, voorkom jy dat sy leer om werklik aan die wedren van die lewe deel te neem,” waarsku Sinette.

Wietske sê jy moet probeer om ‘n balans te vind tussen toesig en om jou kind teen alles te wil beskerm. “Stel billike grense sodat jou kind weet wat van haar verwag word. Leer jou kind verantwoordelikheid sodat sy self daarteen sal waak om ernstig seer te kry.”

Vra jou af of iets regtig so erg is voor jy jou kind keer om dit te doen. “Jy het ook sekerlik al risiko’s gewaag, dalk hier en daar seergekry, maar sterker aan die ander kant uitgekom. Gun dit ook vir jou kind. Sy moet immers eendag op haar eie bene kan staan.”