Druk artikel

Jou tusseninkind
Vrouekeur 10 Mei 2013
Shanda Luyt

Jou ouer laerskoolkind beleef ’n baie unieke lewensfase,maar min ouers is werklik hierop voorbereid, sê Shanda Luyt.

 “Ouers sukkel dikwels om kinders in hul middeljare te verstaan,” vertel Liesl Bekker,opvoedkundige sielkundige van George.  “Sy optrede is die een oomblik kinderlik, laf en lieftallig en binne sekondes verander hy in ’n tornado vol woede en sarkasme. Een dag wil hy niks eet nie, die volgende dag eet hy ’n pad deur jou yskas. Sy pak nog nie haar Barbiepoppe weg nie, maar jy sien hoe sy al vir die buurseun loer. Hy trek elke dag sy ou PT-broekie aan, maar nou wil hy skielik ’n nuwe Billabong-hemp hê.”

Wietske Boon, spelterapeut van Centurion, stem saam: “Vir kinders is dit ’n moeilike stadium, aangesien hulle nie meer die jong kinders van vroeër is nie, maar ook nog nie adolessensie bereik het nie. Sommige ouers vind dit ’n stadium wat met baie bekommernisse gepaardgaan, aangesien hulle onseker is hoe om kinders in hierdie nog-vis-nog-vlees-stadium te hanteer.”

Belangrikejare

Hierdie jare is nie ’n rusperiode voor kinders hul tienerjare betree nie, beklemtoon Liesl, maar ’n belangrike ontwikkelingsfase.  “’n Studie wat pediaters onder 2 000 kinders in Brittanje gedoen het, toon kinders se emosionele welstand op tienjarige ouderdom bepaal hul sosiale aanpassing op 16 en hul psigiese welstand op 30. Probleme wat in adolessensie ondervind word, soos oormatige aggressie, se oorsprong is dikwels in die middelkinderjare.”

 Elke fase waardeur ’n kind gaan, bring eiesoortige veranderinge, aanpassings en konflik en stel ander eise aan kinders, verduidelik Liesl. Sy sê die middeljare is die oorgangsfase van afhanklikheid van die ouers na groter selfstandigheid en dus ’n baie belangrike tyd vir die vaslegging van norme en waardes en sosiale vaardighede.  “Dis wanneer kinders dikwels kennis maak met boelies, ongesonde groepsdruk en mededingende spansport waaraan hul eiewaarde daagliks gemeet word. Hulle word dalk vir die eerste keer aan rook, dwelms, jeugmisdaad of riskante seksuele gedrag blootgestel. Hulle word ook deur advertensies en die sosiale media in ons gekommersialiseerde samelewing verlei.”

’n Kykie in hul koppe

Jou kind speel soms nog soos ’n kind,maar raak meer selfversekerd oor sy leer en ander vaardighede, openbaar meer selfbeheer en kom met kompetisie in sy portuurgroep in aanraking, vertel Liesl.  “Hy moet ook die groot veranderinge in sy liggaam aanvaar. Dikwels lyk dit of hy eintlik maar net ’n bietjie water trap voor sy groot soeke na ’n eie identiteit, maar eintlik skep hierdie fase by kinders ’n gevoel van angs en opwinding vir die avontuur wat voorlê in die wêreld buite die sekuriteit en grense van hul ouerhuis.”

Vriende

Wietske vertel hierdie is tipies ’n tyd wanneer jou kind meer onafhanklik van jou wil raak, terwyl vriende, sport, aktiwiteite en stokperdjies belangriker word. “Vir hierdie kind is dit baie belangrik om in ’n groep aanvaar te word.” Liesl sê op sosiale vlak word kinders al meer selfstandig en betroubaar. “Verwerping deur die portuurgroep en gedragsprobleme mag begin kop uitsteek. Hulle is nog liefdevol teenoor ouers, maar begin al skaam raak om voor maats gesoen te word. Hulle raak kieskeuriger oor vriende. Dit raak nou baie belangrik om te ‘behoort’ en om in die ‘in groep’ te wees.”

Teenoorgestelde geslag

Kinders begin nou al meer in die teenoorgestelde geslag belangstel. “Dít veroorsaak opwinding, maar tog ook onsekerheid,” sê Wietske. Liesl sê die geslagte is nuuskierig oor mekaar, maar verkies om tyd saam met hul eie geslag deur te bring. “Seuns sal dikwels nou hansworsstreke in die groep uithaal en met minagting deur die meisies aangegluur word!” Sy vertel hulle kan baie nuuskierig wees oor seks. “Selfbewustheid en onhandigheid is tipies van hierdie fase.”

Fisieke veranderinge

Baie meisies beleef nou merkbare veranderinge en sommige begin menstrueer. Seuns se ontwikkeling begin gewoonlik later, maar hulle kan fisiek geweldig mededingend raak. “Meisies is nou baie sensitief vir opmerkings oor hul liggaam en begin belangstelling in hul voorkoms toon en begin ontevrede raak met sekere aspekte van hul voorkoms,” verduidelik Liesl.

Nuuskierigheid

Saam met groter onafhanklikheid begin kinders meer vrae vra oor die lewe, wat met hulle gebeur en waarom, sê Wietske. “Hulle het meer onsekerhede en nie altyd die vrymoedigheid om dit met hul ouers te bespreek nie.  Tóg soek hulle steeds hul tyd en aandag.”

Druk

Waar kinders sport vir die prêt gedoen het, is daar deesdae afrigting vir alles, sê Liesl. “Kinders word baie vroeg aan hul ouers en afrigter se verwagtinge blootgestel en dit plaas geweldig baie druk op hulle; emosioneel en liggaamlik. Om vir ’n span gekies te word, raak lewensbelangrik en weglating veroorsaak dikwels onherstelbare selfbeeldskade. “Sommige kinders voel oorweldig deur hul skedule, sê Wietske. “Dit moet wys hanteer word.”

Selfbeeld

Wanneer ’n taak nie suksesvol voltooi word nie, voel kinders moedeloos en onseker oor hulself, vertel Wietske. “Wanneer sy voel sy is nie mooi, slim of maer genoeg nie, kan dit ’n invloed op haar gemoedstoestand hê.”

Morele veranderinge

Kinders begin nou ’n sin vir regverdigheid ontwikkel, vertel Liesl. “Hulle sukkel om hul foute te erken, maar begin meer verantwoordelikheid aanvaar. Hulle is baie bewus van reg en verkeerd en het sterk morele standaarde. Soms kan hulle oorreageer of rebelleer teen reëls wat hulle as onregverdig beskou, want hulle fokus meer op wat verkeerd is as op dit wat reg is.

Raakvat raad

Hierdie jare is by uitstek die tydperk waar ouers se aanvaarding, ondersteuning, begrip, leiding en dissipline ’n baie belangrike rol speel, sê Liesl. “Om hulle tot verantwoordelike, selfstandige tieners te lei, moet ouers weet watter tipiese ontwikkeling plaasvind en watter slaggate voorlê.”

Leer jou kind verantwoordelik optree

“Verkeerde gedrag moet gevolge hê,” sê Wietske. “Besluit saam op die reëls en hou daarby. Slim dissipline is om voorregte weg te neem, soos geen TV, sakgeld of selfoon nie vir ’n bepaalde tyd.” Liesl sê dis belangrik dat jou kind weet jy aanvaar hom nes hy is, al keur jy nie sy gedrag goed nie. Sy sê kinders moet nou toegelaat word om keuses te maak en dit met logiese redenering te regverdig. “Hulle moet leer dat hulle van hul ouers (en ander mense) mag verskil, maar die manier waarop hulle dit doen, moet respekvol wees.”

Bring tyd saam met jou kind deur

Gee jou kind jou onverdeelde aandag. “’n Goeie ouer-kind-verhouding is belangrik en jou kind moet die vrymoedigheid hê om met jou oor enige saak te gesels, sê Wietske. “Dis belangrik dat jou kind jou kan vertrou met die inligting wat sy met jou deel.”

Bou hul selfbeeld

Moedig jou kind aan om aan aktiwiteite deel te neem, prys voltooiing daarvan en help hom op ’n positiewe manier wanneer hy struikelblokke ervaar,” sê Wietske. “Wanneer sy oorgewig is, help haar om gewig te verloor. Moenie haar probleme as onbenullig afmaak nie.” Liesl sê liefde en aanvaarding is die grootste bousteen van sy selfbeeld.  Sê en wys vir jou kind jy is lief vir hom.

Luister na probleme

Luister wanneer jou kind met jou wil gesels, beklemtoon Wietske. “Moenie haar veroordeel wanneer vriendskappe nie uitwerk nie. Help haar met rollespel om goeie verhoudings te bou. Maats is nou belangrik en dus kan die afwesigheid van maats of konflik jou kind se gemoedstoestand negatief beïnvloed.”

Stel haalbare doelwitte

“Stel ’n rooster op waarin tyd gemaak word vir akademie, sport en ontspanning en ander aktiwiteite,” sê Wietske. “Moenie vrye tyd afskeep nie.”

Praat oor liggaamsverandering

“Moedig hulle aan om met jou daaroor te gesels. Wees geduldig terwyl hulle hulself leer ken,” sê Wietske. Leer hulle dat dit reg is om hul emosies met mense naby aan hulle, soos hul ouers of beste maats, te kommunikeer.” Liesl maan ouers om vroegtydig met hul kinders oor hul veranderende liggaam te praat – en ook oor die veranderinge in die teenoorgestelde geslag se liggame. “Daar is meisies wat teen negejarige ouderdom begin menstrueer en hulle kan dit as ’n groot skok ervaar.”

Let op na liggaamsbeeld

Ouers moet nou na ’n oormatige belangstelling in diëte, ’n obsessie met kos en om maer te wees en ’n verwronge liggaamsbeeld oplet, sê Liesl. Hier speel veral die ma ’n belangrike rol. Jou dogter behoort nie saam met jou op ’n dieet te gaan nie. Moenie ander vroue se liggame bespreek en voor haar negatiewe opmerkings oor liggaamsvorms maak nie. Pa’s en broers moet ook nie spot met haar liggaam wat verander nie – dit maak haar skaam en verleë oor iets waaroor sy geen beheer het nie. Respekteer haar privaatheid.”

Moedig kuier in ’n gemengde groep aan

Vermy egter een-tot-een-kuier met die teenoorgestelde geslag, raai Liesl aan. En moenie jou kind spot nie. “Niks gaan jou tienjarige so ontstel soos ’n gespot dat hy van ’n sekere meisie hou nie.”

Wees realisties oor media

Baie ouers verbied hul kinders enige toegang tot sosiale netwerke en is baie streng oor die gebruik van selfone, sê Liesl, “maar hou in gedagte dat dit nou deel van ons leefwêreld is en deel van kinders se toekoms vorm. Dis onrealisties om te verwag (en glo) dat kinders geen blootstelling hieraan gaan hê bloot omdat jy dit verbied nie. Dan is dit beter om hulle te leer om dit verantwoordelik te gebruik.” Geniet jou amper-tiener! Vk