Druk artikel

A is vir appel
Baba en Kleuter Junie 2013
Daniella de Witt

Die Amerikaanse sangeres Beyoncé het die wêreld verras toe sy vir die kletskoningin Oprah Winfrey in ‘n onderhoud vertel het hoe haar 13 maande oue baba al flitskaarte lees. “Verstommend,” het party mense gesê terwyl ander dit as bog afgemaak het. Flitskaarte is egter ‘n baie bekende vorm van intellektuele stimulering.

Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria, sê flitskaarte is kaarte met prente, letters en syfers wat vir ‘n baba gewys word. “Die kaarte moet groot genoeg wees dat die prente duidelik sigbaar is. Gepaste geselsies kan dit vir die baba gesellig maak as jy dit wys. Doen dit vir kort rukkies op 'n slag sodat jou baba nie moeg daarvoor raak of oorgestimuleer word nie.”


Studies toon babas wat met flitskaarte geleer word, ontwikkel gouer hul sin van sig en gehoor as ander kinders. Navorsing wys ook kinders – en veral babas – leer teen ‘n verrassende spoed.

Martie Kruger, mede-eienaar van die opvoedkundige webtuiste Kinderwerf, is ‘n voorstander van flitskaarte.

“Dit brei jou kind se woordeskat uit. Dit ontwikkel ook jou kind se visuele geheue en gehoor en leer hom van die wêreld om hom. Dit is goeie voorbereiding vir lees omdat jou kind leer dat 'n prentjie 'n visuele voorstelling van die ‘regte’ voorwerp is. Dit stel weer jou kind aan die simboliese voorstelling van letters en syfers bekend. Flitskaarte met prentjies en woorde onderaan is die beste aangesien jou kind van kleins af so blootgestel word aan woorde en wat dit simboliseer.”

Flitskaarte stimuleer babas se sintuiglike ontwikkeling soos sig en gehoor, asook hul verstandelike ontwikkeling, kennis en begrip, is die mening van Melanie Oelofse, ‘n opvoedkundige sielkundige in privaat praktyk en ‘n dosent aan die Universiteit van Pretoria.

“Die prentjies op flitskaarte ontwikkel babas se regterbreinhelfte terwyl die woorde hul linkerbreinhelfte stimuleer.

Baie opvoedkundige sielkundiges voel dat jy die flitskaarte so vinnig moontlik vir jou baba moet wys sodat sy regterbreinhelfte die inligting onthou.  Dit is moontlik deur een kaartjie per sekonde te vertoon.”

Onthou egter dat babas nie vir lank kan konsentreer en fokus nie, sê Melanie.

“Moenie hierdie aktiwiteit langer as 15 minute doen nie.  Jy kan dit liewer twee of drie keer per dag doen.”

Die gewese Mej. SA en sakevrou Amy Kleinhans-Curd het vandat haar kinders - Phillipa (15), Thomas (13) en Georgia (6) – vyf en ses maande oud was, vir hulle flitskaarte gewys.

“Ek het in 1994 ‘n breinintelligensiestimuluskursus in Amerika gevolg. Ons het geleer hoe om die brein van geboorte af te stimuleer en flitskaarte was die doeltreffendste manier om stimulasie saam met fisieke beweging te gebruik. Dis ‘n mite dat ‘n kind wat nie kan praat nie ook nie kan lees nie.”

Die voordeel van flitskaarte is dat jy dit op enige plek en baie vinnig kan gebruik, sê Amy.

“Ek het dit ingespan wanneer my kinders vir ete in hul eetstoeltjie was.  Ek sou vyf woorde en vyf syfers op ʼn slag wys, wat 15 sekondes elk geduur het.

“Ek het dit interessant gehou deur elke twee tot drie dae ‘n woord en ‘n nommer te ruil. Dit moet vir ouer en baba pret wees.” 

’n Baba wat kan lees?

Niemand kan stry dat flitskaarte voordele het nie, maar wat van mense wat pasgebore babas met flitskaarte probeer leer?

“Elke kind verskil en dis moeilik om te sê wat presies die regte ouderdom is om met die kaarte te begin,” sê Martie. “My mening is dat 'n pasgebore baba klaar deur 'n onbekende wêreld van kleure, klanke, mense en geure oorweldig is. Ek dink ‘n mens moet so ses maande wag tot wanneer jou baba meer waaghalsig en nuuskierig word. Jy sal sien wanneer jou kind lus is om meer van die wêreld te ontdek. Wys dan die flitskaarte. Jy sal wel sien of jou baba belangstel of nie.

“Die belangrikste is om nie die leerdery aan jou kind op te dwing nie. Babas en kinders is van nature nuuskierig en leer aanhoudend. Dit is nie nodig om hulle te oorstimuleer nie. Jy moet egter beslis ekstra geleenthede vir leer aan jou baba bied, waarvan flitskaarte een is. As jou baba dit geniet om na die prentjies te kyk, wat baie babas tog doen, hou daarmee aan!”

Stimulering skep verbindings tussen sinapse in die baba se brein en versterk ontwikkeling, sê Meg Faure, medeskrywer van die bekende Baby-Sense reeks.

“Normale gesonde interaksies binne die konteks van ‘n liefdevolle verhouding is egter baie meer werd as die jongste leertegnieke. Maar as jy die tyd het en jy wil jou baba graag met flitskaarte verder ontwikkel, sal dit nie skade aanrig nie, mits daar in jou baba se basiese en verhoudingsbehoeftes voorsien word sowel as sy behoefte aan slaap- en rustyd.”

Flitskaarte maak net ‘n klein deel uit van die verstandelike stimulering van babas, sê Wietske. “'n Baba leer, onthou en verstaan beter as hy die regte ding sien. Babas leer deur hul interaksie met hul omgewing (deur wat hulle sien en hoor en waaraan hulle blootgestel word), daarom is dit belangrik dat die baba deur die gebruik van sy sintuie leer.”

Dit werk vir my!

Linda Nel is die stigter van die organisasie Gifted Children SA en die ma van twee begaafde kinders, Justin (7) en Lisa (14 maande).

“Ons het flitskaarte vir Justin gewys en gebruik dit steeds vir onder meer die leer van maal en deel en Zoeloe. Ons het daarmee begin toe hy ses maande oud was. Lisa kyk ook al sedert ses maande oud na flitskaarte.

Linda sit oorkant haar dogtertjie en wys vir haar flitskaarte. Haar kind het dan ‘n driedimensionele voorwerp wat sy by die kaart pas.

“Ek wys byvoorbeeld vir haar A is vir appel en sy het dan ‘n appelvormpie wat sy by die kaart pas. Dis vir haar ‘n vreeslike lekker speletjie.”

Linda sê dis baie belangrik om jou baba dop te hou.

“As jou kind sy lyfie wegdraai of na ‘n ander speelding soek, moet hom nie dwing om na die flitskaart te kyk nie. Probeer net weer later.

“Justin en Lisa is albei ongelooflik leergierig. Lisa haal nou al self die kaarte en speelgoed wat daarby pas uit, bring dit vir my en sê ‘speel’. Sy pas al die meeste van die kaarte en speelgoed bymekaar. Sy weet wat ‘n appel is. As sy ‘n appel in ‘n boek sien, sê sy ‘appel’. As sy ‘n appel in die winkel sien, sê sy ‘appel’. So ook met die ander kaarte. Haar boetie het van vroeg af al woorde begin sê, vroeg begin spel en het glad nie ‘n probleem met spelling of lees nie.

“Lisa besef nie ons is aktief besig om te leer nie. Dis vir haar net ‘n speletjie, net soos wanneer ons met die vormsorteerbal speel of op haar speelgoedklaviertjie tokkel.”

Mense wat sê stimulering vir babas is belaglik, ‘n mens moenie jou kind ryp druk of met stimulering kry hulle nie kans om te speel nie, vergeet dat babas se breine soos sponse is, sê Linda.

“Hulle wil leer – en veral as dit ‘n speletjie is waar mamma en pappa by hulle sit en saamspeel.”

Linda glo ook nie daar bestaan iets soos te vroeë stimulering nie.  “Sielkundiges beveel immers aan dat baba al in die baarmoeder intellektueel gestimuleer word met aktiwiteite soos Mozart-musiek en wiegeliedjies.

“Babas word ná geboorte rustiger as hulle dit weer hoor. Babas leer dus al in die baarmoeder.

Wenke vir flitstyd

  • Flitskaarte moet verkieslik groot wees, sê die webtuiste eienaar Martie Kruger. “Ons beveel die A5-grootte aan. Die prentjies moet realisties en baie duidelik wees en die regte voorwerp so goed moontlik voorstel.”
  • Die woorde op die flitskaart moet in skoolskrif (kleinletters) en groot geskryf wees.
  • Daar moet niks anders op die flitskaart wees wat die aandag trek nie.
  • Flitskaarte kan goed gebruik word om 'n tweede of derde taal aan te leer.
  • Gebruik flitskaarte met prentjies van dinge soos diere en musiekinstrumente, sê die sakevrou en oud-Mej. SA Amy Kleinhans-Curd.
  • Die flitskaarte moet net as deel van ‘n speletjie gewys word en nie vir te lank nie.
  • Linda Nel, begaafdekindkenner, sê ‘n mens kan jou eie flitskaarte maak met letters en prentjies soos: P – pap; D – doek; S – slaap; M – melk en B-bottel.
  • Namate baba ouer word, kan jy die flitskaarte teen ‘n muur plak. Sodra baba ‘n bottel soek, kan hy na die bottelkaart wys. Baba kry dan sy bottel nadat mamma die woord "bottel" 'n paar keer herhaal het. “Watter ouer wil nie graag hê hul baba moet so vinnig as moontlik met hulle kommunikeer oor wat hulle wil hê nie?” vra Linda.
  • Opvoedkundige speletjies moet egter nie inbreuk maak op baba se speeltyd nie, sê Linda. “Sit so 10 minute ‘n dag saam met baba en speel met die flitskaarte - as jou kind wil en gereed is. Maar lees ook boek, sing en klap hande. Gesels, gesels, gesels!”
  • Ouers kan ook hul baba se bewegings- en sintuiglike vaardighede insluit, sê die opvoedkundige sielkundige Melanie Oelofse.  Wys ‘n flitskaart met ‘n appel op en laat baba dan aan ‘n happie appel proe.  Of wys ‘n regte teddie as daar ‘n flitskaart van ‘n teddiebeer op is en laat jou kind daaraan voel.

Ander maniere om te stimuleer

Wietske het die volgende wenke:

  • Stel jou baba aan dinge uit sy direkte omgewing bloot.
  • Gaan op uitstappies, verduidelik wat hy sien, luister na die geluide wat diere maak, ensovoorts.
  • Glimlag, praat, lees stories, kyk prentjies in boeke en sing liedjies.
  • Speel op die mat, in die tuin, in die sand en in die water.
  • Speel met verskillende sagte speelgoed.
  • Smeer jou kind se lyfie met room.
  • Gooi klippies, ryskorrels en sand in verskillende blikkies en skud dit.  Maak net seker die blikkie is goed verseël sodat hy dit nie uithaal en daaraan verstik nie.
  • Gee jou kind plastiekbakkies en kartonboksies van verskillende groottes om mee te speel.
  • Wys hom wat hy sien en watter geluid dit maak.
  • Wieg jou baba in jou arms.