Druk artikel

Jou huis is vol speelgoed
Baba en Kleuter Januarie 2014
Daniella de Witt

Kersfees is verby, die bome en blink balle is gebêre, nuwe speelgoed is al gebreek of vergete en ons beursies is aansienlik dunner.

Natuurlik is dit lekker om jou kind met die blinkste, raserigste speelding te bederf, maar die waarheid is dat min speelgoed babas en peuters regtig lank kan besig hou. Hulle is ontdekkers en nuuskierige agies, en is gek daarna om iets nuuts onder hande te neem. Probeer om uit jou kind se oogpunt na sy wêreld te kyk en nut in allerlei huisware te vind. Jy sal verbaas waarmee jy alles speelgoed kan maak en daardie speelgoed kan in der waarheid van groot sensoriese waarde vir jou kind wees.

Sensoriese spel is ‘n belangrike deel van kinders se leerproses, sê Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Centurion. “Kinders leer die beste wanneer al hul sintuie by die proses betrek word. Sensoriese spel is ook die manier waarop kinders kontak maak en inligting oor die omgewing insamel. Hierdeur leer ‘n kind ook homself ken – sy voor- en afkeure in teksture, reuke en geluide - wat ook belangrik vir emosionele ontwikkeling is.”

Supersensoriese speelgoed

Wietske gee dié raad:

SIG

  • Maak ‘n bewertjie deur verskillende voorwerpe met tou aan ‘n hanger vas te maak.   (0-1 jaar)
  • Verf twee leë toiletrolle en plak hulle aan mekaar vas om ‘n verkyker te maak. Plak gekleurde deurskynende plastiek as “glase” voorop. Skielik lyk die omgewing anders en in ‘n nuwe kleur getooi. ‘n Alternatief is om ‘n bril uit ‘n boks te knip en gekleurde deurskynende plastiek as lense op te plak. (2+ jaar)
  • Plak ‘n prentjie (iets gepas uit ‘n ou tydskrif) op ‘n stewige karton. Sny dit ‘n groot blokke en gebruik dit as ‘n legkaart. (2+ jaar)
  • Knip prentjies uit tydskrifte en maak beurte om stories oor die prentjies te vertel. (3+ jaar)

TAS

  • Gooi verskillende voorwerpe in ‘n sak of kussingsloop. Laat jou kind sy hande in die sak steek en raai wat alles daarin is. (2+ jaar)
  • Kielie mekaar met vere onder die voete, op die hande en wange (0-2jaar)
  • Maak spesiale tyd om sy lyfie met room te smeer en maak dit sommer lekker geselstyd ook.

GEHOOR

  • Gooi sand, klippies of ryskorrels in ‘n leë bottel en verseël dit goed. (0-2 jaar)
  • Versamel blikke van verskillende groottes en laat jou kind die geraas geniet wat elke blik maak wanneer hy daarop slaan. Blikke van verskillende groottes gaan natuurlik verskillende klanke maak.(1+ jaar)

REUK

  • Gooi speserye of vanieljegeursel in klein botteltjies en laat hulle raai wat in die botteltjie is. (Wees tog maar versigtig vir te sterk geure). (2+ jaar)

ANDER

  • Bou ‘n huis van ‘n boks. Verf die boks en sny ‘n deur en vensters daarin. Dit kan vir ure se verbeeldingspel sorg.
  • Maak maskers uit papierborde. Sny oë, neus en ‘n mond daarin, kleur die gesiggie in en sit ‘n rekkie aan. Dit is ook prettig om rolspel daarmee te doen.
  • Bou ‘n toring uit plastiekbakkies.

Beslis vir Baba

  1. Teken eenvoudige gesigte op ‘n papierbord. Gebruik dieselfde papierbord om ‘n spiraal uit te knip wat jy bo jou baba kan hang.
  2. Laat jou baba met sponsies, borseltjies en plastiekbakkies in water speel.
  3. Vul allerlei houers en blikkies met macaroni en laat baba dit skud!
  4. Laat jou baba na homself in ‘n spieël kyk en begin hom sy liggaamsdele leer.
  5. Hang klokkies of krale aan ‘n lint en bind dit aan jou baba se arms of bene vas. Pasop net vir te styf!
  6. Vul ballonne met suiker of jellie. Hy sal gek wees daarna!
  7. Vul ‘n ou kous met sellofaanpapier. Jou baba sal heerlik daarmee speel.
  8. Sit ‘n blikkie met ‘n plat deksel en allerlei artikels voor hom neer. Baba kan dit heerlik in- en uitpak en probeer om die dekseltjie toe te maak.
  9. Stoot jou baba in ‘n groot boks of badjie rond of laat hom in- of onderdeur kruip.
  10. Skeerroom is ‘n heerlike speelding. Spuit ‘n bietjie in jou baba se handjies of sit dit op sy eetstoeltjie se blad om met sy vingers te ontdek.
  11. Gooi droë pasta of rys in ‘n ou bababad en sit tregters, maatkoppies, speelgoedbekertjies by. Jou kleintjie kan heerlik daarin sit en speel.
  12. Frommel ou tydskrifblaaie, vorm dit in balletjies en laat jou baba dit rondgooi!

Ideaal vir peuters & kleuters

  1. Gee vir jou kind produkte soos rosyntjies om tussen verskillende papierborde te verdeel.
  2. Hou piekniek saam met jou kind in jul eie “tent” van lakens onder die tafel.
  3. Bou saam koekies of kolwyntjies.
  4. Speel skattejag en gee vir jou kind leidrade.
  5. Draai die sproeier aan en speel saam buite.
  6. Gee jou kind papier en vingerverf. Dit hou hulle op ‘n prettige manier besig.
  7. Gee jou kind ‘n groot bak vol water met klomp klein bakkies en koppies. Hulle kan dan heerlik water skink en mors. Hou maar net ‘n ogie!
  8. Doen jou eie eksperiment saam met jou kind. Plaas tinfoelie in ‘n bak. Sprinkel koeksoda op die bodem en giet dan asyn daarop sodat die koeksoda kan bruis. Jou kleuter sal gefassineer wees.
  9. Span ‘n wasgoeddraad in jou kind se kamer op sy hoogte en laat hom allerlei kledingstukke met wasgoedpennetjies ophang.
  10. Plaas ‘n klomp speelgoed in die bad en laat jou kleuter dit was.
  11. Laat jou kind op ‘n groot stuk papier lê en trek sy lyfie daarop af. Laat hy dit inkleur en versier en ook liggaamsdele benoem.
  12. Maak saam musiek en leer jou kind rympies en liedjies. Kyk op Baba & Kleuter se webtuiste as jy vergeet het! Daar is talle Afrikaanse liedjies en rympies wat jy kan uitdruk.
  13. Moedig jou kind aan om sy verbeelding te gebruik. Laat jou kind dink aan verskillende gebruike vir ‘n boks: Dit kan ‘n motor, ‘n vuurpyl of ‘n huisie wees.
  14. Versamel boksies van verskillende groottes en laat jou kind dit aan mekaar vasplak.
  15. Bou ‘n hindernisbaan vir jou kleinding met allerhande goed uit die huis soos kussingslope en duvets.
  16. Maak jou eie soutklei. Meng ½ k water met 1 e sonneblomolie. Roer 2 k koekmeel en ½ t sout by. Knie tot ‘n deeg vorm. Giet nog water by indien nodig. Voeg voedselkleursel by en knie goed. Bêre in ‘n plastieksakkie om die klei sag te hou.
  17. Maak self verf. Meng 1 k meel met 1 k sout. Voeg 1 k water by en meng tot glad. Verdeel die mengsel in plastieksakkies en voeg verskillende kleure voedselkleursel in elke sakkie. Voeg nog water by om dit te verdun. Gooi dit in botteltjies met deksels uit.
  18. Meng skottelgoedseep met water en gooi dit in leë borrelhouertjies. Kinders is mal daaroor om borrels te blaas.
  19. Bou saam met jou kleinding ‘n vulkaan. Bou dit uit klei of papiermaché met ‘n gat in die middel. Gooi nou 2 t koeksoda in en giet asyn stadig daaroor.
  20. Wys jou kind hoe om eenvoudige halssnoere uit pasta te maak. Ryg verskillende soorte ongekookte pasta aan ‘n toutjie.
  21. Maak ‘n hoedjie van enige gekleurde papier.


Het jy geweet: Enige voorwerp wat deur ‘n toiletrolring pas (soos ‘n melkdoppie) is ‘n verstikkingsgevaar vir babas.

 

BRONNE:

www.babycenter.com, www.babysense.com, www.kleuters.co.za, www.tinkerlab.com