Druk artikel

n Nuwe baba in die huis help ouboet of ousus aanpas by die verandering
Wietske Boon

Ek is drie jaar oud.  My hele lewe lank nog gee mamma en pappa al hul aandag net aan my. Hulle speel en gesels met my.  Wanneer ek gaan bad, kan ek lekker in die water speel en plas.  Wanneer ons winkel toe gaan, bederf mamma of pappa my soms met iets lekkers of iets waarvan ek hou.  Al die speelgoed in die huis is myne.  Wanneer ons by vriende kuier, groet almal my vriendelik en maak ‘n bohaai oor hoe oulik ek is en hoe groot ek geword het.  Nou verwag mamma ‘n nuwe baba!  Wat ek nie verstaan nie, is waar het die baba vandaan gekom?  Almal vertel my ‘n ander storie en ek weet nie meer wie om te glo nie. Dan is ek boonop bang dat alles gaan verander:  gaan mamma en pappa nog net so lief vir my wees?  Wie gaan met my speel, want ek hoor babas hou mammas baie besig. My speelgoed is vir my spesiaal, sê nou net die baba vat alles en breek dit!  Ek weet darem nie van die hele baba-besigheid nie...

 

‘n Nuwe baba in die huis hoef nie ‘n traumatiese gebeurtenis vir ‘n kind te wees nie.  Hier is ‘n paar riglyne om die aanpassing makliker te maak.

Tydens swangerskap

  • Wanneer julle uitvind dat daar ‘n nuwe baba oppad is, vertel dit vir haar.  Gee haar die geleentheid om vrae te vra en beantwoord dit eerlik, op haar vlak.  Daar is boeke beskikbaar wat vir kinders verduidelik waar babas vandaan kom en wat die meeste van hul vrae beantwoord.  “Waar kom babas vandaan?” geskryf deur Sally Ann Wright en Honor Ayres (Lux Verbi) is ‘n goeie voorbeeld van so boek.
  • Wees altyd eerlik (op ‘n vlak wat sy verstaan) oor wat sy kan verwag wanneer die nuwe baba gebore is.  Daar gaan lekker tye wees wanneer sy kan help met die versorging, maar by tye gaan die baba huil en baie van mamma se tyd verg.
  • Kyk saam deur haar fotos van haar babajare en gesels met haar oor waarvan sy gehou en wat sy gedoen het.
  • Wanneer julle die dokter besoek, neem haar saam om na baba se hartklop te luister.  Dit is ‘n spesiale ervaring vir julle, net so is dit ‘n spesiale ervaring vir haar ook.
  • Betrek haar by die kies van ‘n naam vir haar nuwe boetie of sussie.  Maak dit pret en lag en gesels daaroor.
  • Betrek haar by die inrig van die babakamer. As sy na ‘n ander kamer moet skuif, berei haar voor en verduidelik vir haar waarom dit nodig is.

Wanneer baba gebore word

  • Om die verhouding tussen ousus/ouboet en die nuwe baba op ‘n hoë noot af te skop, gee vir hom of haar ‘n geskenk wanneer sy die eerste vir julle in die hospitaal kom besoek.
  • Neem 'n foto van haar saam hospitaal toe en sit dit op die kassie langs die bed, sodat sy kan sien dat sy steeds ‘n belangrike rol in julle lewens speel.
  • Om vir haar beheer te gee oor die situasie: wanneer sy die eerste keer vir baba ontmoet, laat sy hom eerder saam met pappa in die babakamer gaan haal en na mamma se kamer toe bring

Wanneer baba huis toe kom

  • Laat haar toe om wanneer mamma en baba tuis kom, vir baba die huis gaan wys.
  • Koop vir haar ‘n babapop wat sy kan voer, doek aansit en haar ma se gedrag kan naboots op die pop.  Dit gee haar sin van beheer oor haar situasie asook die geleentheid om die verandering te verwerk en positief te hanteer.
  • Betrek haar by die versoring, vra haar byvoorbeeld wat sy dink die baba moet aantrek.  Laat sy, indien oud genoeg, help met take soos badtyd.
  • Maak tyd om aandag aan háár te gee, al beteken dit dat ouma ‘n uur na baba moet kyk.  Dit is belangrik dat sy ervaar dat julle nog net so lief vir haar is en dat haar behoeftes nogsteeds vir julle prioriteit is.
  • Daar moet steeds duidelike grense gestel word in terme van wat aanvaarbare gedrag is en wat nie. Sy kan moontlik onseker wees wat toelaatbaar is met die nuwe baba by die huis.
  • Wees geduldig en gee baie liefde.
  • Oorreed familie en vriende om haar eerste te groet en ‘n geselsie te maak of gee haar die geleentheid om haar babasussie of –boetie aan die mense voor te stel.
  • Ousus kan moontlik tekens van regressie toon, byvoorbeeld dat sy weer wil bottel drink of glipsies het.  Dit is háár manier om die verandering te hanteer.  Soms raak kinders jaloers of aggressief.  Indien julle bekommerd raak oor haar gedrag, maak vir haar ‘n afspraak by die Spelterapeut om haar te help om haar emosies te verstaan en by die verandering aan te pas.