Druk artikel

My kind doen swak op skool
Vrouekeur 4 April 2014

Hoe kan jy jou kind help wat op skool nie die paal haal nie, vra Ansja Ferreira.

Marietjie* maak haar 13-jarige seun, Pieter*, se rapport oop en kan nie glo wat sy sien nie.  Die woorde “voldoen nie aan die vereistes nie” en “moet dringende aandag kry” lyk vir haar onwerklik.  Pieter het dan so hard geleer! 

Hy is pligsgetrou en het elke dag sy huiswerk gedoen.  Hy is ook nie siek nie en lyk nie teneergedruk en of daar iets met hom fout is nie.  “Het ek dalk iets verkeerd gedoen?  Wat gaan ek doen?” wonder sy.

As ouers wil ons graag die beste vir ons kinders hê en is dit ‘n groot bron van stres as hulle nie goed op skool doen nie.  

Ouers met ‘n kind wat op skool sukkel, kan met gevoelens van angs, onsekerheid, frustrasie en skuldgevoelens worstel en wonder dikwels wat hulle verkeerd gedoen het. 

Volgens kenners is daar talle oorsake wat tot hierdie probleem kan lei en moet daar soms dieper as die voor die hand liggende oorsake gekyk word. 

Wietske Boon is ‘n spelterapeut van Pretoria.  Sy noem ‘n aantal faktore wat kinders se akademiese prestasie beïnvloed.

Dít kan kinders se akademiese prestasie beïnvloed 

1.  Motivering en ondersteuning

“Kinders wat nie gemotiveerd is om hul skoolwerk te doen nie, sukkel om aan die gang te kom wanneer huis- en leerwerk gedoen moet word.  Die ondersteuning wat kinders onvang, is vir hulle belangrik om gemotiveerd te bly,” sê Wietske.  “Wanneer jou kind se punte nie na wense is nie, bly kalm.  Julle gaan niks regkry met ‘n bakleiery nie.  Ondersoek liefs die redes en werk dááraan,” beveel sy aan.

“Vra na jou kind se dag uit en stel belang in wat hy of sy vertel.  Dit is belangrik dat kinders voel hulle kan enigiets met hul ouers bespreek,” sê sy. 

2.  Prioritisering en ontspanning

“Omdat kinders se dae so bedrywig is, voel hulle soms oorweldig deur alles wat van hulle verwag word,” sê Wietske.  “Wanneer jou kind nie prioritiseer en beplan nie, kan belangrike werk te min aandag kry of agterweë bly.  ‘n Kind wat nie tyd het om te ontspan nie, raak uitgeput en sukkel om te konsentreer.

“Kinders moet weet waarom dit belangrik is om te studeer, hetsy vir ‘n aanvaarbare rapportpunt of om later verder te kan studeer.”

Sy beveel aan dat jy jou kind help om doelwitte te stel, byvoorbeeld:  ‘n mikpunt van 60% vir ‘n vak waarvoor hy of sy voorheen 55% gekry het.

“Help hom om vooruit te beplan – genoeg tyd vir huiswerk, aktiwiteite, ontspanning en gesinstyd.  Help hom of haar om te prioritiseer sodat werk betyds voltooi word.

3.  Belangstelling en aanleg

Wanneer ‘n kind nie in ‘n vak belangstel nie, is dit soveel moeiliker om sin te maak van die inligting en om dit te onthou.  Deur toetsing kan vasgestel word waarvoor jou kind aangelê is.  Oorweeg vakkeuses waarvoor jou kind aangelê is en belangstelling toon.  Maak die werk interessanter deur kleure of prente te gebruik om dit op te som.

4.  Leeromgewing

Volgens Wietske kan ‘n raserige leeromgewing veroorsaak dat ‘n kind se aandag afgelei word en hy nie kan konsentreer nie. Volgens Wietske behels ‘n “vriendelike” leeromgewing goeie beligting, ventilasie, ‘n gemaklike stoel en tafel en ‘n rustige atmosfeer sonder aanhoudende afleiding.

5.  Maats en boelies

Wietske sê maats kan ‘n enorme invloed op ‘n kind en sy skoolwerk hê.  “As maats nie in skoolwerk belangstel nie, kan jou kind weens groepsdruk sy werk afskeep.Dit kan ook die geval wees dat jou kind gespot of afgeknou word.

“Wees betrokke in jou kind se lewe”, sê Wietske.  Sy stel voor dat jy maats huis toe nooi, sodat jy hulle kan leer ken.  “Leer jou kind die nodige vaardighede om afknouerige maats te hanteer,” sê sy.

6.  Leerstyle

“Daar is verskeie leerstyle,” sê Wietske.  “Hoewel leer in die klaskamer meestal plaasvind deur te lees en te luister, leer sommige kinders beter deur byvoorbeeld breinkaarte te gebruik, terwyl ander die inligting beter puntsgewys onthou.  As kinders nie op die regte manier studeer nie, gaan hulle sukkel om die inligting te memoriseer. Kinders kan kursusse oor studiemetodes bywoon,” stel Wietske voor. 

7.  Spanning

“Spanning speel ‘n groot rol in die memorisering en weergee van inligting.  Al ken hulle die werk, kan sommige kinders weens spanning nie die inligting herroep nie,” sê Wietske.  “Vra jou kind vrae oor die werk voor ‘n toets om vas te stel of hy die werk ken.  Leer hom of haar ontspanningsoefeninge aan sodat hy of sy rustig kan raak.”

Wanneer die oorsaak nie duidelik is nie

Janine Shamos is ‘n opvoedkundige sielkundige wat by opleiding by Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angs-steungroep (Sadag) betrokke is en 16 jaar ondervinding in die veld van geestelike gesondheid het.Volgens Janine is daarverskeie redes vir kinders wat nie genoegsaam op skool presteer nie en is dit belangrik om te onderskei tussen kinders wat bloot net nie akademies aangelê is nie en nooit goed op skool gedoen het nie en kinders wat voorheen goed gedoen het en skielik nie meer goed presteer nie. 

“Laasgenoemde het dikwels die een of ander trauma of verandering beleef wat hanteer kan word,” sê Janine.  “As die kind nooit goed gedoen het op skool nie, kan daar ander faktore wees wat ‘n rol speel – miskien is hy of net nie akademies aangelê nie of sukkel met taalstruikelblokke. 

“Dit is altyd belangrik om met jou kind te praat en uit te vind of hy of sy vriende in die klas het, die werk verstaan, geboelie word en goed genoeg kan sien.  Kinders steek soms die feit weg dat hulle eintlik ‘n bril nodig het,” sê Janine.  

Esta Hattingh is ‘n opvoedkundige sielkundige met ‘n privaatpraktyk en verbonde aan Grey Kollege inBloemfontein. 

Sy verduidelik wanneer eksterne faktore soos onderrigtyd en -gehalte, studiemetodes, aanleg, vermoëns en belangstelling as oorsaak van leerprobleme uitgeskakel is, kan die volgende moontlik ‘n rol speel:

  • Die leerder beskik nog nie oor die volwassenheid om feitelik korrek, onafhanklik en verantwoordelik op te tree nie.  Dit bring mee dat sy of haar emosies, vriende en ander afleidings sy of haar fokus beïnvloed.
  • Emosionele probleme soos ‘n swak selfbeeld en mislukkingsprofiel wat tot ‘n gebrek aan motivering lei.
  • Oorbetrokke ouers waar te veel druk die leerder lam lê (dalk vrees vir mislukking) of ‘n onbetrokke ouerskapstyl waar die kind nie belangrik of van waarde voel nie.
  • Ongesonde lewenstyl en middelmisbruik, byvoorbeeld alkohol en dwelms.

Esta gee raad vir ouers as enige van die bogenoemde dalk die probleem kan wees:

  • Ouers moet kinders begelei om self hul “gevegte te veg” en nie die kind se verantwoordelikheid oor te neem nie.
  •  Leerders moet hul eie doelwitte stel en aanspreeklikheid vir hul prestasies of teleurstellings aanvaar.
  •  ‘n Gesonde oorsaak en gevolg-uitkyk moet gehandhaaf word met toepaslike voorregte en strawwe.
  • ‘n Gesonde lewenstyl- en studie-omgewing moet tuis gehandhaaf word.
  • Ononderbroke fokus op kinders se emosionele welstand is nodig.  Ouers moet in hul kinders se lewe en skoolwerk betrokke wees.

Voorkomende en pro-aktiewe optrede deur ouers voorkom baie probleme.  Ouers moet toesien dat kinders daagliks werk.

Ingeligte en toegeruste ouers dra baie tot suksesvolle leerders by.

In hul boek The Turned-Off Child, Learned Helplessness and School Failure deur Robert and Myrna Gordon, verduidelik die skrywers dat hulpeloosheid aangeleerde, gekondisioneerde gedrag is en dat so‘n kind doodeenvoudig net opgegeehetom te probeer.

Hulle het “afgeskakel” omdat dit in hul gedagtes of denke die veiligste manier is om mislukking te vermy. 

Hul verduideliking is “Ek is dom” of “Ek kan niks reg doen nie”.  Volgens die skrywers van die boek kan die probleem suksesvol met kognitiewe-gedragsterapie behandel word. 

Enige ongediagnoseerde en onbehandelde mediese toestand wat met die kind se daaglikse lewe, insluitende die skool, kan inmeng, kan ‘n rol speel, sê Janine.  Volgens Janine is dit is baie belangrik dat ouers met hul kinders praat.    

“Vind uit hoe hul dag verloop het, watter klasse hulle dié dag gehad het, waarvan hulle hou en nie hou nie, oor hul onderwysers en skoolmaats.  Onthou jou kind se sterk punte verskil dalk van joune.  Jou kind is dalk uitstekend met kuns en jy was dalk weer goed met wetenskap, sê Janine. 

“Laat jou kind toe om anders te wees en om sy of haar drome te volg en op hul sterk punte te bou.  As jy bekommerd is oor jou kind, jou kind onlangs trauma beleef het, die slagoffer van boelies was, net nie hom- of haarself is nie of  skoolpunte besig is om te verswak, kry hulp.  Praat met die kind en praat met ‘n kenner wat kan help,” beveel Janine aan. 

Depressie kan ook ‘n rol speel

Kinderdepressie het nie dieselfde simptome as depressie by volwassenes nie, sê Esta. “Baie keer is swak akademiese vordering asook destruktiewe gedrag simptome van depressie by kinders,” verduidelik sy.

“Kinders bring die meeste van hul tyd by die skool deur en onderwysers het dikwels meer aangesig-tot-aangesig-kommunikasietyd met die kinders as die ouers, daarom kan ouers waarskuwingstekens van depressie by hul kind te mis,” sê Janine. 

“Dit is noodsaaklik dat ouers en onderwysers kommunikeer omdat die kind dalk anders by die skool as by die huis optree,” sê sy. 

“Depressie word dikwels uitgedruk op maniere wat ons nie normaalweg met depressie assosieer nie, soos woede, vyandigheid en fisieke pyn soos maagpyn en kopseer,” sê sy. 

Aandagafleibaarheid

Volgens Sadag is aandagafleibaarheid/hiperaktiwiteitsindroom (ADHD) ‘n toestand wat dit moeilik maak vir ‘n persoon om stil te sit, gedrag te beheer en aandag te gee.  Die hooftekens van dié sindroom is probleme om aandag te gee, baie aktief te wees (hiperaktief) en om impulsief op te tree.  Hierdie probleme begin dikwels voor die kind sewe jaar oud is, maar die gedrag word dikwels nie raakgesien totdat die kind ouer is nie.  Dokters weet nog nie presies wat ADHD veroorsaak nie. Volgens Sadag kan soveel as vyf uit elke 100 dié probleem hê en is seuns drie keer meer daartoe geneig as dogters.

*Skuilnaam