Druk artikel

‘Mamma, kyk! Ek het hom doodgemaak!’
LIG Julie 2014
René Badenhorst

Dit is altyd groot nuus: kinders wat moor. Maar kinders wat ander seermaak of boelie is ‘n redelik algemene verskynsel.  Wie maak hierdie monstertjies groot?  Sekerlik nie jý nie.  Tog nie in jóú huis nie. Of hoe?

Dit is op ‘n manier begryplik dat ‘n kind wat van jongs af aan byvoorbeeld bendegeweld blootgestel word, op ‘n dag so ver kan gaan om iemand anders se lewe te neem.

Maar hoe word ‘n kind wat in ‘n stabiele huis grootword ‘n moordenaar?

Dit is ‘n komplekse kwessie.  ‘n Sameloop van uitsonderlike omstandighede.

Maar waar begin jy dan soek na ‘n moontlike verklaring?  Na wie wys die beskuldigende vinger?

Dit is in die media! Word gesê.  Vind dáár jou sondebok!

Dit is natuurlik nie so eenvoudig nie, maar dit is wel ‘n onbetwiste feit dat die voorkoms van geweld in die media ‘n groter impak op kinders het as wat hulle ouers dalk besef.

Televisie-geweld

Studies oor die uitwerking wat televisiegeweld op kinders het, bevind telkens dat dit sulke kinders “immuun” maak teen die gruwel. Kinders wat gereeld na geweldadige televisieprogramme kyk, tree in baie gevalle meer aggressief op as wat gepas is.

“Bloot omdat hulle aan daardie sort gedrag blootgestel word,” sê me Wietske Boon, spelterapeut van Centurion. “Vir daardie kinders is die werklikheid wreed.”

Dieselfde gebeur met kinders wat by die huis of op ander plekke aan geweldadige gedrag of aggressie blootgestel word.  Hulle identifiseer met ‘n rolmodel (selfs al is dit ‘n karakter in ‘n tekenprent) wie se probleme deur geweld of aggressie opgelos word.  Só leer die kind dat dit ‘n aanvaarbare manier is om konflik op te los. 

Die tyd wat sommige kinders aan televisie-kyk bestee - ongeag die inhoud – laat ook min tyd vir opbouende aktiwiteite soos lees, stokperdjies, of om met maats te speel.

"Hier volg die nuus..."

Die dekking van nuusgebeure op die televisie en internet het die afgelope jare drasties toegeneem. Televisiekanale rapporteer nuusgebeure 24 uur per dag. Dramatiese beeldmateriaal word regstreeks uitgesaai en geweldadige voorvalle word in bloederige detail herhaal.

Navorsing het uitgewys dat kinders sulke nuusgebeure na-aap. Gedurige blootstelling aan hierdie tipe geweld kan dus lei tot afstomping. En selfs vrees, én dit kan sommige kinders ook meer aggressief maak.

Musiek en moraliteit

Musiek, soos die vertel van stories, speel oor die eeue heen 'n groot rol in die kommunikasie van kultuur en morele waardes. Daarom is die afbrekende temas van sommige tipes hedendaagse musiek kommerwekkend. Daar is lirieke wat dwelm- en alkoholmisbruik ophemel. Selfmoord word as 'n alternatief gepropageer. Musiekvideo's wys grafiese geweld - asook seksuele tonele wat fokus op beheer, sadisme en selfkastyding.

'n Kind met ‘n behoefte aan liefde of aanvaarding kan ontvlugting in sulke musiek gaan soek (en kry), en dit kweek allerlei wanpersepsies.

Rekenaarspeletjies?

'n Onderwyser in Engeland het ouers onlangs gewaarsku dat die kinders vreesbevange skool toe kom ...nadat hulle gewelddadige rekenaarspeletjies by die huis gespeel het. 'n Ander onderwyser het opgemerk dat kinders so jonk soos ses jaar tonele uit Grand Theft Auto - 'n rekenaarspeletjie met 'n “geen onder 18” -ouderdomsbeperking – met mekaar gespeel het. In hierdie rekenaarspeletjie neem die spelers die rol van kriminele in Amerika se donker onderwêreld aan.

Jong leerders het ook speletjies gespeel wat die voorstelling van verkragting en seksuele omgang insluit, en gesprekke oor dwelmgebruik op die speelgrond gevoer.

Wietske waarsku:  “Omdat kinders nog nie tussen fantasie en werklikheid kan onderskei nie, leef hulle hulleself in die speletjie in asof dit werklikheid is. Langdurige bloodstelling aan geweldadige speletjies leer kinders om geweldadig te dink en om, vanself en sonder om verder te dink, by voorkeur geweldadig te dink, by voorkeur geweldadig op te tree wanneer iemand hulle te na kom.

By die meeste speletjies is daar helde en skurke. Indien albei partye geweldadig optree, kry die speler(tjie) die boodskap dat aggressie ingespan kan word om probleme op te los. Kinders wat geweldadige speletjies speel, toon ook minder empatie; hulle leer immers dat dit aanvaarbaar is om ander mense leed aan te doen.

Wat kan ouers doen?

Buiten groter waaksaamheid betreffende hulle kinders se blootstelling aan geweldadige kykstof, is daar ook ander dinge wat ouers kan doen om die uitwerking van televisie-geweld op hulle kinders te verminder.

  • Kyk saam met hulle. Wys jou kinders daarop dat die akteur nie regtig seergekry het nie, maar dat sulke soort geweld in die regte lewe régtig seermaak. Keur die geweld op die televisie af – in jou kinders se teenwoordigheid. Verduidelik aan hulle dat dit nié die manier is om probleme op te los nie. Oorweeg dit om die televisie uit jou kinders se kamer te verwyder.
  • Praat met jou kinders oor dit wat in die nuusprogramme gerapporteer word.  Verseker jou kinders van hulle veiligheid, en help hulle om te verstaan wat hulle gesien het. Neem jou kinders se ouderdom, volwassenheid, ontwikkelingsvlak en lewenservarings in ag wanneer jy besluit aan watter tipe nuus jy hulle gaan blootstel. Wees op die uitkyk vir tekens dat die nuus vrese by jou kind aanwakker – dinge wat byvoorbeeld slapeloosheid, bednatmaak of huilerigheid tot gevolg het.
  • Neem kennis van watter musiek jou tiener koop, luister en aflaai. Help hulle om te onderskei; laat hulle self besluit water musiek afbrekend kan wees. Praat openlik daaroor, sonder om té krities te wees.
  • Wees ‘n goeie rolmodel. Maak seker dat jou kind positiewe rolmodelle het. As ouers ten alle koste hulle sin probeer kry, of hulle woede ontlaai deur gewelddadig teenoor mekaar of hulle kinders op te tree, sal laasgenoemde op dieselfde wyse reageer.
  • Leer jou kinders hoe om probleme op te los en woede doeltreffend te kommunikeer. Indien die kinders wel aggressie gebruik om uiting aan hulle emosies te gee, help hulle om alternatiewe metodes te vind. Prys positiewe gedrag. Só versterk jy aanvaarbare optrede.
  • Ontwikkel empatie en 'n gewete. Hou jou kinders verantwoordelik vir hulle dade en maak seker dat die gevolge hiervan as 'n leerervaring aangepak word. Leer jou kinders om hulle foute te erken. En hoe om óm te gee vir ‘n ander se welstand. Onthou: Om bloot “jammer” te sê, is betekenisloos as jou kind dit nie bedoel nie. Help hulle om hulleself in ‘n omgekeerde situasie in te dink, met ander woorde wanneer húlle die slagoffer van ‘n bepaalde soort optrede is.

Beste raad

Wanneer jy opmerk dat jou kind kwaad is, kan jy sy emosies bevestig deur byvoorbeeld te sê: "Ek kan sien jy is kwaad". Wanneer die kind die woede negatief hanteer deur iemand seer te maak, sê aan hom dat jy kan verstaan dat hy nou kwaad is, maar dat dit nie aanvaarbaar is om die maat te slaan nie. Help hom reg deur alternatiewe moontlikhede aan te bied – soos om 'n bal te skop, 'n slaansak te slaan, in 'n kussing te skree, of om sy woede op 'n stuk papier te teken.

Seuns en gewere


Moet ouers hulle seuns verbied om met speelgoedgeweertjies te speel?

“So ‘n verbod sal nie werk nie,” sê Wietske.  “Hulle gaan waarskynlik ‘n maat hê wat ‘n speelgoedgeweertjie het.” Speelgoedgeweertjies is ook nie per definisie verkeerd nie. Daar is wel ‘n klompie faktore om in gedagte te hou wanneer jou kind daarmee (wil) speel.

  • Sommige kinders gaan onskuldige pret met die geweertjie hê, terwyl ander meer aggressief daarmee gaan speel.  Dit hang af van die kind se persoonlikheid. Hou jou kind dop wanneer hy met ‘n speelgoedgeweertjie speel.
  • Indien hy aggressie toon, praat met hom daaroor. Vra hom wat hy doen en gesels daaroor. Onthou dat kinders nie die begrip van "doodskiet" verstaan nie, en dat dit nabootsing is van dit wat hulle elders sien en hoor.
  • Wanneer ‘n kind gereeld blootgestel word aan regte wapens en die gebruik daarvan, moet ‘n ouer ekstra waaksaam wees wanneer daardie kind met ‘n speelgoedgeweertjie speel;  hy gaan heel waarskynlik iemand anders se gedrag naboots.
  • Daar behoort ‘n goeie balans te wees tussen sy speeltyd met die geweertjie en dié met ander speelgoed.  Die speelgoedgeweertjie behoort nie die enigste speelding te wees waarmee hy wil speel nie.
  • Wanneer ‘n kind ‘n speelgoedgeweertjie kry, moet dit nie soos ‘n regte geweer lyk nie. ‘n “Kindervriendelike” geweer – byvoorbeeld ‘n helderkleurige een uit plastiek – is meer gewens.
  • Leer jou kind om eerder na ‘n teiken te mik as na mense of diere.

Voorsorgmaatreëls


Wietske sê:  “Indien daar vuurwapens in die huis is, moet dit in ‘n kluis toegesluit wees, buite die kinders se bereik. Dit is ook beter om dit te hanteer wanneer die kinders nie teenwoordig is nie.”

Leer jou kinders wapenveiligheid -  ongeag of daar wapens in die huis is of nie. Vuurwapens is gevaarlik. Dit word nié gebruik soos dit dikwels op televisie uitgebeeld word nie. 

Voorsorgmaatreëls

  • Los dit uit!
  • Verlaat die vertrek of omgewing waar die wapen is.
  • Gaan roep ‘n volwassene.

Indien jou kind vrae oor wapens het, antwoord dit so eerlik as moontlik, en beklemtoon die gevaar wat dit inhou.

Kliek-kliek

Vir meer riglyne oor wapenveiligheid, gaan nahttp://www.natshoot.co.za/firearmSafety.php

Draai die ander wang?

Jesus leer ons om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Hy was 'n goeie voorbeeld van iemand wat eerder na God geluister het as om vanuit sy eie wil te reageer.

"Wanneer ‘n ouer ‘n kind leer om terug te slaan, leer jy hom dat dit aanvaarbaar is om konflik op te los deur iemand anders te beseer of skade te berokken,” sê Wietske.  “Leer eerder jou kind om sy man te staan deur aan die maatjie te sê hoe hy voel (byvoorbeeld: ‘Jy het my geslaan, en nou is ek kwaad vir jou.’); deur weg te stap; deur 'n volwassene oor die voorval in te lig."

Ds Fanie Kriel, pastorale sielkundige en leraar van die Paarl, reken dat 'n mens jou kinders kan leer om meer geduldig te wees, die probleme uit te pluis deur daaroor te praat, of deur 'n ouer te roep as die boetie of sussie nie wil rede verstaan nie. Wanneer daar egter 'n kind by die skool is wat geweldadig teenoor jou kind optree, bied dit ‘n groter uitdaging. Leer jou kind om homself in die ander kind se skoene te probeer plaas. Dalk weet die klein moeilikheidmaker nie van beter nie, of dalk tree hy so op omdat hy self bang en seergemaak voel.

Indien dit  'n patologies-aggressiewe kind is, moet 'n mens met die onderwysers of die kind se ouers gaan praat. “En as niks anders werk nie,” sê Fanie, “moet jou kind homself beskerm ... deur die boelie een goeie hou te gee!” 

Kry betyds hulp

Wees op die uitkyk vir waarskuwingstekens rakende geweldadige gedrag by jou kind. Dit sluit in: intense woede, om gereeld sy humeur te verloor, uitermatige geïrriteerdheid, uitermatige impulsiwiteit en frustrasie wat gou en maklik ontstaan.

Wanneer sy gedrag nie deur dissipline beheer kan word nie en hy ‘n gevaar vir homself ander persone of diere inhou, is dit raadsaam om professionele hulp in te roep.

Moenie sommer jou kind se wangedrag in dié verband toeskryf aan aandagafleibaarheid of hiperaktiwiteit nie. Daar mag ander oorsake wees. Laat 'n sielkundige 'n behoorlike diagnose doen.

Bronne

http://www.aacap.org;

http://www.empoweringparents.com/when-Kids-Get-Violent.php; http://www.expressandstar.com/news/uk-news/2014/04/07/parents-warned-over-violent-games/;

http://www.psychalive.org/7-ways-to-stop-your-child-from-becoming-violent/