Druk artikel

Speel ons kinders nog genoeg buite?
Vrouekeur 19 September 2014
Luisa van der Linde

Jou kinders sit liewer met die iPad in die hand as om boom te klim, maar wat doen dit aan hul lyfies?

Onthou jy nog die tye toe jy as kind tot laataand buite in die straat gespeel het? Vandag lyk die prentjie ietwat anders. Is ons kinders vandag minder fisiek aktief as tien of twintig jaar gelede? Speel kinders minder buite of voel dit net so? Is hulle net minder onfiks as hulle heeldag sit of het dit ‘n invloed op hul liggaamlike ontwikkeling?

“Ons leef in ‘n tegnologiese era waar die meeste kinders se ouers lang ure werk. Die maklikste is om van kleins af die babas voor die TV te sit om hulle te vermaak sodat die ouers tyd het om kos te maak of voor slaaptyd ander huishoudelike take te verrig,” sê Mareta Cornelissen, ‘n Gautengse arbeidsterapeut.

Mareta sê baie gesinne woon weens die hoë lewenskoste in beperkte leefruimtes en dit is gevaarliker as tien jaar gelede vir kinders om alleen in die strate fiets te ry, bal te skop of na aktiwiteite toe te loop.

Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Centurion, stem saam: “Weens veranderende omstandighede is kinders se speelruimte tot erwe, komplekse en sakegedrewe speelplekke beperk. Kinders se vryheid is baie meer ingeperk as vroeër.  Met die vooruitgang van tegnologie in die afgelope paar jaar, verkies baie kinders om eerder tuis te bly en hulself met rekenaarspeletjies te vermaak. Kinders se ontwikkeling word hierdeur benadeel”.

Mareta sê die afgelope 14 jaar wat sy in praktyk is, het sy gesien dat kinders minder speel as hulle nie by die skool gestimuleer word om aan aktiwiteite soos Playball, swem of perdry deel te neem nie.

“Ek sien gevalle waar die kinders op die ouderdom van drie jaar Pappa of Mamma se iPad kan bemeester, maar nie ‘n vetkryt kan vashou om te teken of in te kleur nie. Sulke kinders kan nie hulself vermaak deur agter karretjies aan te kruip, hul eie speletjie uit te dink of hulle eie Lego-skepping te bou nie”.

Wietske sê sy ervaar ook dat sommige kinders oormatig tyd aan rekenaar- en tegnologiese speletjies bestee. “Daar is egter nog kinders wat verbeeldingspel geniet. Party ouers voel dat die opvoedkundige speletjies op die rekenaar en tegnologiese geletterdheid goed vir 'n kind se ontwikkeling is, terwyl ander ouers voel dat vryspel en verbeeldingspel belangriker is. Sommig kry dit reg om 'n balans te handhaaf.

“Kinders ontdek hul omgewings, hulself en ander mense deur spel.  Spel is ook belangrik vir liggaamlike en kognitiewe ontwikkeling. Kinders behoort aan ouderdomsgepaste vryspel en aktiwiteite deel te neem aangesien belangrike vaardighede  hierdeur aanleer word.”

Buitespeel is belangrik

Speletjies help hul sosiaal

“Wanneer kinders speel of met ander in aanraking kom, leer hulle sosiale vaardighede aan. Kinders se selfkonsep ontwikkel namate hulle nuwe aktiwiteite bemeester. Speletjies en die oplos van konflik help ook om hom te vorm,” sê Wietske.

“Verbeeldingspel help kinders om die realiteit beter te verstaan en te hanteer. Kinders hanteer hul teleurstellings, trauma en konflik deur dit uit te speel. Wanneer kinders nie speel nie,kry hulle nie die geleentheid om hul emosies te hanteer en verwerk nie. Die beste manier om spanning te ontlaai, is deur buitelugaktiwiteite”.

Lyfies en sintuie ontwikkel

Wietske meen fisieke ontwikkeling vind plaas wanneer ‘n kind aan aktiwiteite deelneem soos om bal te skop, boom te klim of selfs kunsaktiwiteite aan te pak wat fyn motoriese vaardighede ontwikkel.

Mareta sê wanneer kinders nie meer buite speel en motories aktief is nie, kan dit ‘n negatiewe effek op die algehele ontwikkeling van hul liggaamlike en sintuiglike (somato-sensoriese) stelsels hê.

Klim en klouter leer waagmoed

“Wanneer kinders nie aan verskillende bewegings, soos om te swaai en om van glyplanke af te gly, blootgestel word nie, kan dit hulle waagmoed inperk,” sê Mareta.

Sy sê as die vestibulêre stelsel sensitief is vir beweging, veroorsaak dit angs gedurende beweging wanneer die kind se voete van die grond af is. Klim en klouter help ook met die ontwikkeling van spiertonus en balans. Die oorsaak van gravitasie-onsekerheid is onvoldoende ruimtelike waarneming.

“’n Kind met gravitasie-onsekerheid se oogspierbewegings is ook onvoldoende. Hierdie kinders is bang vir hoogtes, om te swaai en te klim en klouter.”

Jou kind moet weet waar sy is

“Kinders se spiere en gewrigte maak hulle van die posisie van hul liggaam in ruimte bewus.  Dit help hulle om sonder dat hulle hul lyfie sien, te weet in watter posisie hulle is en hoe hul ledemate beweeg. Goed ontwikkelde spiere en gewrigte stel ‘n kind in staat om te kan skryf, ‘n bal te kan vang of te gooi of te skop. Spring, kruip, kruiwaloop en toutrek kan hiermee help,” sê Mareta.

Voel, hoor, sien, proe en ruik

Wietske sê ‘n kind wat nie aan fisieke aktiwiteite deelneem nie, se sintuiglike ontwikkeling en leerondervindings ly daaronder.

Mareta verduidelik hoe fisieke aktiwiteit jou kind se sintuie kan help ontwikkel:

Tas

’n Kind se tasstelsel speel‘n belangrike rol in die ontwikkeling van ‘n goeie liggaamskonsep. Dit help jou kind weer met goeie ruimtelike gewaarwording, goeie groot en fyn motoriese bewegings en die onderskeiding van links en regs. Goeie tasgewaarwording is ook belangrik om emosioneel te kan reageer. Só help die aanraking en bewustheid van papier jou kind om beter te kan skryf. Dis ook belangrik om te kan identifiseer waaraan ons vat.

Sig

Jou kinders se ogies sien voorwerpe, lig en kleur. As hul sig goed ontwikkel is, kan hulle van naby tot ver sien, kleure onderskei en het hulle ook dieptepersepsie en persepsie van dimensie.

Die gevolg van onvoldoende oogspiere is dat kinders nie bewegende voorwerpe kan navolg nie. Dit het‘n negatiewe effek op hul hand-oog-koördinasie. Hulle kan nie ‘n bal goed vang nie. Hulle ondervind probleme om van die swartbord af te kopieer. Hul oë raak vinnig moeg en is rooi en tranerig. Hulle sukkel om te lees omdat hul oogspiere spring. Fynkoördinasievaardighede,asook visuele perseptuele vaardighede en skryf word negatief beïnvloed.

Gehoor

Ons leer eers om te onderskei waar klank vandaan kom en heg later betekenis aan elke klank. Wanneer‘n kind buite speel, leer hulle hoe dit klink as die wind waai,‘n voëltjie fluit of motors verbyry en vliegtuie verbyvlieg.

Reuk

Reuke word chemies deur reseptore in die neus waargeneem. Hierdie waarneming is die enigste wat direk na die emosionele sentrum in die brein gevoer word. As kinders buite speel, leer hulle hoe ruik die lente en hoe ruik die grond ná die reën.

Smaak

Kinders kan binne die huis aan smake blootgestel word. Maar dit is ook nodig dat hul buitesmake soos sand leer ken.

Die voordele is eindeloos

Jou kind se beweging word uiteindelik beïnvloed deur hoe die brein sintuiglike boodskappe en tekens van die spiere en ligamente ervaar en verwerk, vertel Mareta.

Die brein het die vermoë om die volgorde van motoriese funksies in onbekende aktiwiteite te herken, dit te beplan, te organiseer en uitvoering daaraan te gee.

“As dié aspekte nie geïntegreer is nie, word die uitvoering van die take as ongekontroleerd en ongekoördineerd waargeneem. As ‘n kind motoriese probleme ondervind, is sekere komponente van die uitvoering van die take nie teenwoordig nie.”

Kinders moet die geleentheid gegun word om motories aktief te wees. Sodra hulle passief is, is die kans groot, dat hulle nie voldoende sal ontwikkel nie, aangesien hul senuweestelsel nie die geleentheid gegun word om al die inligting vanaf al die reseptore in die liggaam na die brein te vervoer en te integreer nie, maan Mareta.

Hulle kry dan nie die geleentheid om te leer en weer te probeer nie. Byvoorbeeld: “Ek is nie vandag sterk genoeg om tot bo te klim nie, môre probeer ek weer”. Kinders leer om te beplan, uithouvermoë te hê en om te leer waartoe hul lyf in staat is. Hy ontwikkel‘n goeie liggaamskonsep waarmee hy lekker kan lees en skryf, want kinesteties weet hulle hoe hul lyf “voel”.

“Hulle kan die letters aanleer en goed bemeester om te kan skryf. Hul oogspiere werk mooi saam en hulle kan van die bord afskryf. Om ‘n bal te vang en skop, is belangrik, want dit ontwikkel goeie balansvaardighede en goeie hand-oog koördinasie.”

Mareta sê nog voordele is as ‘n kind buite kruip en speletjies speel, bevorder dit hul bilaterale integrasie en midlynkruisingsvaardighede wat belangrik vir lees en skryf is. “As kinders net sit en TV kyk, leer die spiere nie om sterk en gekoördineerd te wees nie. Hulle kan ook bang wees om te swaai, te klim en te klouter en om nuwe dinge aan te pak. Kinders wat ‘n bal kan vang, leer goeie tydsberekening en spierbeheer. Dit is weer belangrik om te kan skryf.”

Loer na aktiwiteite waarmee ouers kan help op www.vrouekeur.co.za.

Mareta Cornelissen, arbeidsterapeut stuur epos na:maretacornelissen@mobileemail.vodafonesa.co.za

Wietske Boon, spelterapeut, stuur epos na: wietske@childtherapist.co.za. of besoek www.childtherapist.co.za

Bykomende bron: Koester jou baba.Metz press 2004, Megan Faure en Ann Richardson.