Druk artikel

Aanhouer wen (régtig)!
LIG Oktober 2014
René Badenhorst

Die lewe is vol uitdagings, en dit vereis deursettingsvermoë. In 'n tyd waar onmiddellike bevrediging 'n sterk dryfkrag is, word dit al hoe belangriker dat ouers hulle kinders leer om met 'n taak vol te hou. Tot dit afgehandel is. Selfs al is dit nie altyd pret nie.

Diep in elke ouerhart is daar die begeerte om die lewe vir jou kind so maklik moontlik te probeer maak. 'n Stemmetjie wat sê dat daar oorgenoeg uitdagings in hierdie lewe is - “ék sal aan my kind se kant wees!” Dit is goed en reg.

Maar ons leef ook in 'n tyd waar tegnologie ons kinders leer dat dit wat jy doen, báie vinnig moet bevredig. Anders los jy dit.

Voeg bogenoemde bymekaar, en jy kry ‘n tipiese situasie waar jou kind na 'n halwe kwartaal se balletklasse sal kom sê: "Ek is nie meer lus nie!" – en jy heel gemaklik daartoe instem dat dit gestaak kan word.  "Toemaar, my kind,” sê jy dan, “jy hoef niks te doen wat jy nie wil doen nie."

Is dít goed en reg? Is dit werklik die beste wat jy vir jou kind kan doen?

Laat-maar-gaan

“Alhoewel dit sekerlik minder konflik sal veroorsaak om 'n kind te laat ophou met 'n aktiwiteit waarvoor hy of sy nie meer lus is nie, is dit nie 'n goeie lewensles nie,” sê dr Annelien Nieman, ‘n opvoedkundige sielkundige in Somerset-Wes. “Dit kan die betrokke kind laat vermoed dat ander dinge in die lewe ook gelos kan word wanneer hy of sy nie meer daarvoor lus is nie, of indien dit te moeilik word.

“So ‘n kind kan later dieselfde houding hê teenoor leerwerk wat moeite en tyd verg, of met 'n ingewikkelde skoolprojek. Dit kan selfs tot 'n laat-maar-gaan-leefstyl ontwikkel – en later uitkring na verhoudings, die akademie en die beroepslewe.”

Me Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Centurion, is dit hiermee eens. Sy voeg by:  “Kinders moet leer dat hulle dit wat hulle aanpak – of hulle dit vrywillig doen of nie -  moet voltooi. In baie gevalle het die kind nog nie lank genoeg geoefen nie, en dan word daar sommer handdoek ingegooi. Dit is moontlik dat hulle dit met meer oefening sal baasraak. As dit dán nie kan nie, bied dit 'n geleentheid om te leer hoe om teleurstellings te verwerk. 

'n Nuwe denkpatroon

Kinders moet van jongs af leer om klaar te maak waarmee hulle begin het, sê Annelien. Dit behoort deel van hulle denkpatroon en benadering tot die lewe te wees.

“As jou kind besluit om 'n legkaart te bou, moet dit voltooi word, al is dit met hulp. Inkleurprentjies moet volledig ingekleur word. Nié 'n stukkie op een prentjie, en dan 'n stukkie op 'n ander prentjie nie.

“Wanneer daar Lego- of blokkiemodelle gebou word, moet dit voltooi word, sê Annelien.  “Dit geld ook speletjies op die rekenaar of iPad. Indien daar in dié speletjie ‘n sekere hoeveelheid diere in 'n dieretuin opgespoor moet word, of 'n koek versier moet word, kan die speletjie nie sommer in die middel gestaak word nie.

“Dit alles leer kinders van vroeg af die ingesteldheid om hulle take te voltooi,” sê sy. “Dit bied ook 'n gevoel van prestasie en die tipiese bevrediging by die voltooiing van ‘n aktiwiteit. Hierdie benadering kan later toegepas word in situasies waar daar meer deursettingsvermoë nodig is.”

Net twee sekondes

Dit is hoe lank deelnemers aan 'n studie bereid was om te wag vir 'n video om op die internet te laai. “Daarna begin mense moed opgee,” sê ‘n kundige, prof Ramesh Sitaraman. “Na tien sekondes het die helfte al opgestaan en geloop.”  Dié behoefte aan onmiddellike bevrediging is nie nuut nie, sê hy, maar ons verwagting van “onmiddellik” het groter geword - en gevolglik is ons geduld minder. Bron: http://www.boston.com

Beste raad

Annelien gee raad aan ouers om hulle kinders deursettingsvermoë te leer:

  • Bespreek aan die begin van die kwartaal of met die begin van 'n nuwe aktiwiteit wat die wedersydse verwagtinge is. Hokkie, netbal en rugby moet byvoorbeeld vir die hele seisoen lank volgehou word.  Daar is immers die ander spanlede en die afrigter wat op die kind se deelname staatmaak. Aktiwiteite wat nie seisoensgebonde is nie, soos ballet, skaak of musiek, moet tot die eksamen/konsert/einde van die toernooi volgehou word. Daar kan ook ooreengekom word op 'n minimum tydperk, byvoorbeeld 'n volle kwartaal, aangesien lesgeld dikwels daarvolgens bereken word.
  • Leer jou kind om korttermyn- en langtermyndoelwitte te stel en te beplan. Vestig ‘n hapgrootte-beginsel:  Wanneer jou kind met ‘n aktiwiteit sukkel, verdeel dit in kleiner porsies en pak dit stuk-stuk aan.  Gee 'n week lank tuis aandag aan ‘n deel van die balletroetine; bemeester eers 'n deel van die moeilike musiekstuk; stel eenvoudige doelwitte vir elke rugby- of netbaloefening.
  • Gee erkenning aan die ontwikkelingsproses, deelname en ywer. As jy net op die eindresultaat of uiteindelike prestasie fokus, kan kinders moedeloos raak met die aanleer van nuwe vaardighede, veral wanneer hulle daarmee sukkel.
  • Stel gereeld klein uitdagings.  Op hierdie manier kan jou kind in korter tye leer om frustrasies te hanteer. Byvoorbeeld 'n moeilike legkaart en die bou van modelle, of uitdagende speletjies, soos om 'n bal tien keer agtereenvolgend deur 'n net te gooi.
  • Moenie bang wees vir die emosies en ongemak wanneer jou kind sukkel nie. Bespreek die frustrasie met jou kind.  Help hom of haar om uiting aan moedeloosheid te gee.  Soek saam na oplossings, buite julle emosies om.  ‘n Moontlike oplossing is om die taak van nuuts af te beplan, maar ánders.
  • Lees verhale van mense wat ten spyte van moeilike omstandighede baie bereik het.  Daar is ‘n goeie voorbeeld van Michael Jordan wat nie vir sy skool se basketbalspan gekies is nie en later een van dié sport se heel grotes geword het.  Kleiner kinders sal baie leer uit die storie van die treintjie wat gesukkel het om by die bult op te ry - The little engine that could.

Aanhou bou karakter

Wanneer 'n kind leer om te voltooi wat hy begin het  - soos 'n buitemuurse aktiwiteit of 'n legkaart - leer hy baie belangrike lesse.  Onder meer dat hy nie altyd onmiddellik iets hoef reg te kry nie, of dat hy dadelik goed hoef  te doen nie, maar dat hy wel – deur oefening en met tyd - 'n vaardigheid kan baasraak.

Annelien sê:  “Sy leer ook dat haar vaardighede nie net beperk is tot dit wat sy reeds kan doen nie, maar dat sy met tyd en deursettingsvermoë méér kan vermag as dit wat sy gedink het moontlik is. Dit leer haar selfdissipline en dit motiveer haar om dinge aan te pak wat buite haar gemaksone is.”

Wietske voeg by:  “Dit het natuurlik 'n negatiewe effek op ‘n kind indien hy of sy keer op keer iets aanpak en dit nie voltooi nie. Só ‘n kind kan moedeloos raak en sy of haar selfvertroue kan erg geknou word.”

Om met 'n bepaalde aktiwiteit vol te hou, veral wanneer dit moeilik is of indien die kind nie vir die span gekies word nie, kan baie frustrasie, hartseer en moedeloosheid tot gevolg hê.

“Maar,” sê Annelien, “hierin lê ook waardevolle lesse. Dit leer jou onder meer om moeilike emosies te verwerk, en om ten spyte daarvan weer gemotiveerd te word, die bul by die horings te pak en aan te gaan.

“Indien kinders dit vroeg leer, sal hulle nie opgee wanneer hulle tersiêre studies moeilik is nie.  En wanneer hulle eendag in die arbeidsmark is, sal hulle weet hoe om moeilike werksprojekte of beroepsprobleme te bowe te kom.”

Onthou!

Kinders is geneig om vinnig moed op te gee. Baie kinders kom na ‘n paar probeerslae agter dat 'n aktiwiteit tog nie so sleg is nie, dat hulle dit selfs begin regkry. Laat jou kind eers ‘n hele paar keer probeer, laat daar tyd verloop, en besluit daarná of die aktiwiteit gestaak kan word.

Pasop!

“Daar is ook die wesenlike gevaar dat 'n mens te veel druk op jou kind kan plaas om te presteer,” waarsku Wietske. Sy gee die volgende riglyne:

  • Dit is belangrik dat ‘n kind aan ouderdomsgepaste take of aktiwiteite deelneem.
  • Probeer om uithouvermoë speel-speel aan te leer, eerder as deur strawwe kompetisie. Dieselfde geld vir buitemuurse aktiwiteite.  Dit moet lekker wees vir die kind!
  • Stel vas wat die werklike rede is waarom jou kind nie meer aan die aktiwiteit wil deelneem nie. Soms is dit moontlik om dit wat hom of haar afskrik uit die weg te ruim of op te los.
  • Sou die aktiwiteit beserings veroorsaak of trauma tot gevolg hê, kan dit summier gestaak word.