Druk artikel

My kind jok vreeslik!
LIG Maart 2015
René Badenhorst

Kinders kan met die mees fantastiese stories vorendag kom. Alles klaarblyklik uit die duim gesuig.  En soms doen dit skade. LiG het aan kenners gevra: Hoekom jok kinders? En wanneer moet hulle daarmee begin ophou?

As jou kind gedurig leuens vertel, laat dit jou dikwels moedeloos én magteloos voel.  Wat kan jy daaraan doen?

“Dit is belangrik om te onthou dat voorskoolse kinders dit moeilik vind om tussen fantasie en die werklikheid te onderskei,” sê Sanet Schoeman, ‘n opvoedkundige sielkundige van Durbanville. “Gevolglik is hulle maklik tot wensdenkery geneig, en om situasies te vergroot.  Dit is dus heeltemal normaal as jou jong kind jou by die huis inwag...met ‘n vergesogte storie.

“Soos wat kinders ouer word, ontwikkel hulle die vermoë om tussen waarheid en leuen te onderskei,” sê Sanet.  “Maar,” voeg sy by, “hulle het dan nog nie noodwendig die vaardighede ontwikkel om moeilike situasies op 'n beter manier te hanteer as om oneerlik daaroor te wees nie.”

Hoekom jok kinders? - 'n ouderdomsgids

Die eerste teenvraag op die vraag waarom kinders jok, is eenvoudig:  Hoe oud is die kind?

“Morele ontwikkeling en ‘n begrip van oneerlikheid hang met mekaar saam,” sê Wietske Boon, 'n spelterapeut in Centurion. “Kinders besef ook nie altyd die impak of skade wat hulle leuens tot gevolg kan hê nie,” sê sy.

Volgens haar ontwikkel hierdie begrip by 'n kind min of meer só:

  0 tot 3 jaar: Die kind ken nie die verskil tussen waarheid en leuen nie. Hy is ondersoekend en leer nog deur waar te neem en te toets.

  3 tot 5 jaar: Fantasiespel is hier belangrik. Hierdie kinders het soms denkbeeldige maats. Wanneer hulle stories versin, is dit meestal onskuldig. Hulle leer ook nog hoe om situasies te hanteer.

•  5 tot 9 jaar: Skoolgaande kinders behoort reeds tussen fantasie en leuens te kan onderskei. Dit is in hierdie tyd wat denkbeeldige maats verdwyn en kinders begin besef dat Kersvader en die tandmuis nie werklik bestaan nie. Hulle vertel leuens om uit die moeilikheid te kom of om iets te vermy waarvan hulle nie hou nie. Leuens oor tande borsel, huistakies of huiswerk is dus algemeen. Soms is hulle eerste reaksie om te jok wanneer hulle onkant gevang word - en dan volg daar nóg leuens om uit die moeilikheid te probeer kom.

•  Tienerstadium: Dit is normaal vir tieners om inligting van hulle ouers te weerhou. Dit is deel van die ontwikkeling van hulle onafhanklikheid. Hulle wil nie meer, soos in die verlede, álles met hulle ouers deel nie.

Leuens - 'n middel tot 'n doel

Kinders (en volwassenes) gebruik dikwels leuens vir selfbeskerming, en om situasies wat bo hulle vermoë is te hanteer. Hier is nóg ‘n klompie moontlike motiewe:

•  Om aandag te trek. Sommige kinders smag só na aandag dat hulle stories versin met die hoop dat hulle raakgesien gaan word.

•  Vir aanvaarding. Sommige kinders versin stories om by ‘n groep te kan inpas.  Om te wys dat hy/sy beter, sterker of ryker as die maats is, met die hoop om deur hulle aanvaar te word.

•  Vrees vir straf. Wanneer kinders weet dat hulle oortree het en dat hulle in die moeilikheid is, sal hulle jok om straf te probeer vermy.

•  Om die grense en reaksie te toets wat die stories ontlok. Sou die stories positief aanvaar word, leer hulle dat dit ‘n aanvaarbare manier is om aandag te kry.

  Angstigheid in sosiale situasies. Sommige kinders reageer impulsief wanneer hulle angstig is en wanneer hulle hulle nie in bepaalde situasie kan handhaaf nie. Dit is dán wanneer daar gejok word.

Onthou!

Kinders kom van kleins af agter wanneer hulle ouers nie die waarheid praat nie, inligting weerhou of aan hulle ‘n verdraaide weergawe opdis. Dit is nie net ‘n slegte voorbeeld nie, maar het ook ‘n impak op die vertroue wat die kind in die ouer het.

Nee, die kinders hóéf nie alles te weet nie, maar sou daar iets opduik wat hulle regstreeks raak, behoort dit op ‘n ouderdomsgepaste wyse aan hulle oorgedra te word.

Hoe om eerlikheid te leer

Om 'n kind te dwing om oor sy/haar wandade of leuens te bieg, is selde doeltreffend. Mense wat in 'n hoek gedryf word, gaan hulself probeer beskerm. 

Maak jou kind eerder op ‘n kalm wyse bewus daarvan dat jy die waarheid weet. Gee hom of haar kans om die leuen reg te stel.

Sanet sê: “Dit is ook baie belangrik om uit te vind waarom die kind gekies het om te jok. Dit kan 'n aanduiding wees van bepaalde stressors in die kind se lewe.  Indien daar wel onderliggende probleme is, behoort dit dadelik aandag te kry.”

Gesels openlik oor oneerlikheid -  wanneer jou kind skuldig is, of wanneer julle opgelet het dat iemand anders só optree. Praat met mekaar oor die gevolge wat ‘n leuen kan inhou - byvoorbeeld dat iemand se gevoelens seergemaak word, of dat ander mense jou nie meer gaan vertrou nie. Vertel hulle hoe een leuen dikwels ‘n stortvloed van leuens tot gevolg het.  En hoe leuens om sosiaal aanvaar te word, meestal ‘n kringloop versinnig en verwerping tot gevolg het.  

As jok ‘n knaende gewoonte word, moet dit op 'n besliste manier aangespreek word. Daar kan byvoorbeeld voorregte weggeneem of sakgeld verminder word. Daar kan selfs ‘n klein beloning wees wanneer daar nie (meer) oor iets soos huiswerk gejok word nie.

Moenie die kind persoonlik aanval en hom/haar as “leuenaar” etiketteer nie. Leer hulle bloot dat daar negatiewe gevolge sal wees as hulle sou voortgaan om te jok.

Die ouers se voorbeeldbly steeds die beste manier om kinders te leer om eerlik te wees. As die ouer oor die kinders se ouderdom jok ten einde goedkoper ingangsfooie te betaal, of vir die verkeerskonstabel oor waarom jy die spoedgrens oortree het, dra dit 'n duidellike boodskap aan die kinders oor.

Positief en proaktief!

Moedig jou kinders aan om die waarheid te praat en prys hulle wanneer hulle dit regkry om eerlik te wees. Psalm 34:13-14 is gepaste Skrifgedeelte om te memoriseer: "As iemand die lewe liefhet en 'n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens."

Lees gerus!

Stories bied ’n prettige manier om jou kind goeie waardes te leer. Die verhale in Vertel vir my 'n storie deur Wendy Maartens bevat belangrike lewenswyshede, en gee ook praktiese wenke oor hoe kinders die waardes in die alledaagse lewe kan toepas.

Wit leuentjies en die tandmuis

Om ander mense se gevoelens te spaar, word daar soms ‘n “witleuentjie’ vertel. Sanet sê: Leer jou kind om eerder op die positiewe klem te lê. “As ‘n maatjie byvoorbeeld vra of sy prent mooi lyk, kan jy reageer met iets soos: ‘Ek hou van die kleure wat jy gebruik het.’  Eerder as om te sê dat dit is ‘n lelike prent is.  Of om ‘n witleuentjie te vertel en te sê die prent is vir jou báie mooi...”

Wat tradisionele fantasiekarakters betref (soos die tandmuis, Kersvader en Klaas Vakie) sê Wietske: “Daar is ‘n verskil tussen fantasie en leuens. Klaas Vakie en die tandmuis is deel van ‘n kind se gesonde fantasiewêreld en dit verskaf die kind heelwat plesier. Dit doen niemand skade nie, inteendeel.