Druk artikel

Stres by die skool
Vrouekeur 4 September 2015
Ansja Ferreira

Hoe hanteer jy dit as jou kind ongelukkig by die skool is?

Elize* wag in spanning in die motor buite die skoolhek.  Om die draai sien sy haar 12-jarige seuntjie aankom. Wanneer sy hom vra hoe sy dag was, fluister hy terug: “Sleg, my juffrou het weer met my geraas…”

Dit is die soveelste keer dié jaar wat sy hierdie boodskap kry en sy kan sommer sien haar kind kry swaar. Is dit ernstig, moet sy optree? Wat staan ‘n ouer in so geval te doen?

Wezet Botes, ‘n maatskaplike werker in privaat praktyk, sê dit is ‘n ernstige kwessie waarop ouers moet reageer.

“Onderwysers het ‘n baie groot taak op hande om ‘n klas vol kinders op ‘n reis na kennis en vaardighede te neem.  Kinders moet gelei word om aan die einde van die jaar die kurrikulumuitkoms te behaal, sosiaal te groei en selfstandiger te kan optree.

“Ons weet dat kinders se leervermoë drasties afneem as hulle bedreig voel.  In ‘n klas waar die onderwyser jou kind se veg-, vlug- of vriesrespons aktiveer, kan jou kind wat akademiese prestasie en algemene ervaring van skool betref, diepliggende skade opdoen,”  sê sy.

Jou kind se skoolomgewing is net so belangrik soos jou werksomgewing – dit moet werk, sê Wezet.

Moenie te lank wag voordat jy ‘n probleem by die skool op ‘n positiewe manier uitsorteer nie, sê sy.

“Kinders is die grootste deel van hul dag by die skool en as hulle nie daar gelukkig is nie, het dit ‘n groot impak wat ‘n mens meestal in hul gedrag kan waarneem,” sêWietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

Volgens Wietske onttrek sommige kinders van die klas en raak onseker van hulself, terwyl ander kinders teen die juffrou se gesag rebelleer. Afknouerigheid en boelies het al menigmale veroorsaak dat ‘n kind depressie ontwikkel en selfs selfdood as enigste uitweg sien om uit die situasie te kom.

“Kinders kan ‘n haat of vrees vir skool ontwikkel wat veroorsaak dat hulle nie skool toe wil gaan nie en belangstelling in hul skoolwerk kan verloor of selfs bang word om foute te maak omdat hulle die onderwyser se reaksie vrees,” sê sy.

“Wanneer jy opmerk dat jou kinders angs beleef as gevolg van die manier waarop hulle deur onderwysers behandel word, sal dit goed wees om hulle vir terapie te stuur om die angs te behandel voordat ‘n negatiewe geloofstelsel rondom hul eie waarde ontwikkel,” sê Lana Kleingeld, ‘n opvoedkundige sielkundige.

“In terapie word daar gefokus om hul selfbeeld te bou en om negatiewe denkpatrone en selfspraak teen te werk,” sê sy.

As jou kinders vir juffrou bang is

Wietske gee dié wenke:

  • Vind uit waarom jou kind vir die onderwyser bang is.
  • Hanteer die probleem deur met die onderwyser en indien nodig die departementshoof te praat.  In baie gevalle is die onderwyser nie van ‘n kind se vrees bewus nie en is gewillig om te help waar hy of sy kan;
  • Soms raas ‘n onderwyser met ‘n ander kind/ers, wat vrees by die onskuldige kind veroorsaak. In so ‘n geval kan die situasie aan die kind verduidelik word en die kind kan gehelp word om dit nie te internaliseer nie. ‘n Kind wat baie sensitief is, sal ook by terapie baat.
  • Probeer waar moontlik die verhouding tussen die kind en onderwyser herstel deur die onderwyser se gedrag vir die kind te verduidelik en die onderwyser van die kind se reaksie op sy of haar optrede bewus te maak.
  • Vir jonger kinders kan die aanpassing by die skool, die nuwe juffrou en die klasreëls oorweldigend wees en tot vrese lei. Berei jou kind goed voor vir wat hy of sy deur die dag kan verwag en waarom daar reëls is en waarom hy of sy moet luister wanneer juffrou praat.
  • Bemagtig jou kinders om die situasie te hanteer.

Slaan en skree is ewe sleg

“Baie ouers verwag van onderwysers om hul werk te doen en die kind dissipline te leer,” sê *André, ‘n hoërskoolonderwyser.  “Dit moenie eers vir ‘n onderwyser nodig wees om met ‘n kind te raas nie.  Kinders behoort reeds deur hul ouers gedissiplineer te wees.  Ons mag byvoorbeeld nie kinders uit die klas jaag nie, want dan ontneem ons hul regte.  Maar ontneem die ontwrigtende leerder nie die ander leerders se reg op onderwys nie?”

Lana sê daar is vandag baie leerders wat nie respek vir onderwysers en volwassenes het nie.

“Al hoe meer leerders is ongemanierd, ongehoorsaam en opstandig teenoor onderwysers.  Hulle word gedurig van hul regte bewus gemaak en raak baie keer onverskillig ten opsigte van die reëls omdat hulle weet daar is nie veel wat die onderwysers aan hulle mag doen nie.  Daarom gebeur dit dat baie onderwysers op kinders skree om beheer terug te kry, sê Lana.

“As ‘n onderwyser skree, is dit gewoonlik ‘n teken dat die onderwyser voel hy of sy het nie beheer oor die klas nie,” sê sy.

Volgens Lana moet onderwysers eerder hul gesag in die klas laat geld sonder om die kinders te verskree, te verkleineer of te boelie.

“Die onderwyser wat vanaf die eerste dag van die jaar dissipline handhaaf deur die leerders ferm van die reëls bewus te maak en konsekwent optree, skep ‘n rustige atmosfeer en kultuur van dissipline en wedersydse respek vir die res van die jaar.

“Net so min as wat dit aanvaarbaar is om kinders te slaan, is dit nie aanvaarbaar om op kinders te skree en hulle af te takel of te verkleineer nie. Verbale wonde veroorsaak baie keer veel meer langtermyn skade as fisieke wonde, sê Lana.

“Wanneer onderwysers op kinders skree, breek dit hul selfbeeld af en skep ‘n gevoel van minderwaardigheid by die kind, verduidelik sy.

“In baie gevalle verdien die kind nie eens die aftakeling nie omdat die onderwyser woede van ‘n vorige klas of situasie op die kind uithaal wat nou dalk net vir ‘n minuut te lank omgekyk het,” sê Lana.

“’n Mens weet ook nie altyd wat in die kinders se huise aangaan nie en hoe dit moontlik hul gedrag beïnvloed nie. Daardie afbrekende woorde kan dalk net die laaste strooi wees wat die kameel se rug breek en die kind laat hoop verloor.”

hanteer jy dit

Wezet gee die volgende riglyne:

Neem jou kind ernstig op.  Luister na wat jou kind sê en vra vrae ter verduideliking.  Let veral op patrone van inligting oor ‘n paar voorvalle.  Tree onmiddelik op as jou kind fisiek seergemaak word.

Kry die feite. Ondersoek jou kind se bewerings en kry inligting van ‘n paar verskillende bronne soos ander kinders in die klas, die onderwyser self en moontlik eksterne bronne soos ‘n evaluasie deur ‘n spelterapeut of opvoedkundige sielkundige.

Wees bereid om albei kante te hoor.  Dit maak baie maal moeilike gesprekke meer draaglik as albei partye bereid is om ‘n middeweg te vind.

Kommunikeer met die skool.  Praat met die onderwyser oor die saak.  Kry inligting van sy of haar kant oor die voorval.  Let op na die onderwyser en die skool se houding teenoor jou en jou kind.  As die onderwyser aggressief of min gepla is, is daar dalk nog groter probleme.

Werk ‘n aksieplan uit.  Werk ‘n tydsgebonde aksieplan uit as daar veranderings by jou kind en die onderwyser moet wees.  Sit dit op skrif en monitor die plan.  As daar nie verbetering binne die sperdatum is nie, moet die plan of jou koers van aksie in heroorweging geneem word.

Noodmaatreëls.  Enige fisieke dissipline deur ‘n onderwyser is ontoelaatbaar.  Rapporteer die voorval aan die hoof of aan jou plaaslike department van onderwys se kantoor.

As jou kind se emosionele welvaart of akademiese vordering in gedrang is, kan jy ook die volgende oorweeg:

1.  Vra dat jou kind op ‘n ander plek in die klas sit wat nie soveel onder die onderwyser se oë is nie (graad R – 3).

2.  Vra dat jou kind dalk na ‘n ander klas skuif (Gr R – 3).

3.  Vra vir ‘n rondetafelbespreking oor jou kind se vordering met ‘n departementele verteenwoordiger op streekvlak.

4.  Soek ‘n ander skool as jou kind nie binne die gewone akademiese program vorder nie.

Wietske se wenke vir ouers

  • Wees betrokke in jou kind se lewe en behou goeie kommunikasie tussen jou en hul onderwysers.
  • Gee jou kinders geleentheid om oor die onnie te gesels of om dit met die jonger kind uit te speel deurdat sy of hy byvoorbeeld die juffrou is en jy die kind. 
  • Indien nodig, kry ‘n professionele persoon om julle in die proses by te staan.

 

*Skuilnaam