Druk artikel

Kry jou kinders genoeg aandag?
Vrouekeur 18 September 2015
Ansja Ferreira

Jou tyd is min en jy kom nie by die kinders uit nie.  Wat kan jy doen om dit te verander?

“Ek kom net eenvoudig nie by alles uit nie. Daar is net 24 uur in my dag en ek moet werk en ‘n huishouding behartig.  Ek voel hulpeloos, want dit voel vir my of ek nie genoeg aandag aan my drie kinders gee nie,” sê Annette*, ‘n werkende ma.

Annette se dilemma word deur baie ma’s gedeel wat werk én kinders grootmaak. 

Hierdie vroue ervaar dikwels geweldige spanning en uitputting.  Hulle kan ook skuldgevoelens ervaar omdat hulle voel dat hulle nie heeltyd by hul jong kinders is nie.  Aan die ander kant kan so ‘n ma dalk voel dat sy nie haar beroep voluit kan beoefen nie omdat sy haar aandag tussen haar werk en haar kinders moet verdeel. 

Navorsing deur die Pew-navorsingsentrum wys dat werk-en gesinsverantwoordelikhede baie stres by werkende ouers tot gevolg het en dat 56% van werkende ma’s en 50% van werkende pa’s dit moeilik vind om balans tussen hul werk en gesinslewe te vind.

Kry ons kinders genoeg aandag, veral wanneer Ma ook werk en dalk moeg van die werk af kom?

En is daar iets soos te veel aandag gee en die kind “versmoor” en hom of haar nie kans gee om sy of haar eie ding te doen nie? Het alle kinders ewe veel aandag nodig? Waar is die balans? Hoe kan jy ‘n kind met selfvertroue grootmaak?

“My mening is dat hoe jonger die kind is, hoe meer ure moet die kind saam met die ma deurbring, omdat dit beter vir die kind is,” sê Louis B. Steenkamp, ‘n sielkundige berader, huweliks-en gesinsterapeut, verbonde aan die Vita Nova-beradingsentrum.

In die eerste twee lewensjare beïnvloed die gehegtheid van die kind aan sy primêre versorger, wat gewoonlik die ma is, die basis vir hoe die kind as volwassene in verhoudings gaan funksioneer. In die wêreld van sielkunde praat ons van die gehegtheidsteorie en dit is kommerwekkend hoe baie gesinne/ouers oningelig oor hierdie belangrike tydperk in ‘n kind se lewe is.

“Natuurlik is elke jaar van ‘n kind se lewe ongelooflik belangrik ten opsigte van persoonlike ontwikkeling,” sê Louis.  “In vandag se wêreld waar die meeste ma’s werk, is die word ‘prioriteite’ van kardinale belang. Wat kinders die meeste van hul ouers nodig het, is nie dinge en geld nie, maar persoonlike tyd, ‘n voorspelbare omgewing en gesonde roetines. Ouers moet eenvoudig hul prioriteite só in plek sit dat hulle daagliks tyd met hul kinders bestee en dat hierdie tyd gehaltetyd is. Dit beteken dat Ma nie op haar foon kan sit en gesels of e-posse stuur as haar kind vir haar iets wil wys nie.  Dit is beter om jouself een uur per dag in die wêreld van jou kind te plaas as wat jy vir vyf ure met groot frustrasie die tyd saam met jou kind probeer omkry en hy of sy baie keer net in die pad voel.

“Hierdie persoonlike tyd moet voorspelbaar wees en ‘n roetine volg. Jou kind moet kan weet in die laatmiddag of vroegoggend (vir werkende ma’s) is dit net ek en my mamma wat saamspeel of tyd saam deurbring,” sê Louis.

“Ek gebruik die woord speel omdat dit een van die basiese maniere is hoe kinders hulself uitdruk en kommunikeer. Nog‘n belangrike aspek in ouerskap, veral ten opsigte van jou kind se selfvertroue, het te doen met hoe jy met jou kind identifiseer. Ouers wat self trauma of ongebalanseerde kinderjare beleef het, kan dikwels met hul kinders oor-identifiseer. Dit beteken dat wat hulle in hul kind sien en ervaar, aktiveer hul eie pyn van die verlede,” verduidelik Louis.

Hy gee ‘n voorbeeld van ‘n ma wat haar tweejarige kind vir die eerste keer na die kleuterskool of dagsorg neem.

“Haar kind staan onseker in die klas rond en die ma ervaar só emosionele pyn.  Sy besluit om haar kind huis toe te neem, want dit was net te erg vir hom.’ Wat eintlik gebeur, is dat dit te erg vir die ma was. Die beeld van haar kind het haar eie pyn van haar kinderjare geaktiveer en nou hanteer sy die situasie nie uit liefde nie, maar uit angs,” sê Louis.

“Dit is nie altyd lekker om weg van ons kinders te wees nie, maar ons moet eenvoudig na ons eie emosies kyk en waar hierdie emosies vandaan kom. Dieselfde geld vir woede-uitbarstings, hoe ons ander mense behandel en stres hanteer. Kinders is soos sponse wat ons gedrag opsuig en as die norm aanvaar. Om jou eie emosionele haakplekke op jou kind uit te haal, gaan nie selfbeeldontwikkeling bevorder nie,” sê Louis.

Het alle kinders ewe veel aandag nodig?

“Alle kinders het aandag nodig, maar omdat kinders se ouderdom en persoonlikheid verskil,verskil die soort aandag wat hul nodig het,” sê Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.  

“Kinders het op verskillende ouderdomme verskillende behoeftes. Sommige kinders soek fisieke aandag, om byvoorbeeld op Mamma se skoot te sit, terwyl ander dit meer sal waardeer as jul saam aan aktiwiteite deelneem.  Om vir ‘n kind die boodskap te gee dat jy vir hom of haar lief is, moet jy tyd maak om gepasteaandag te gee. Genoegsame aandagis die basis van ‘n kind se gesonde ontwikkeling en daarom is dit noodsaaklik dat ouers gehalte tyd vir hul kinders maak”, sê Wietske.

“Probeer balans handhaaf tussen aandag envryheid -  gepasvir die kind se ouderdom. Lees jou kind se behoeftes - soek hy nou aandag of wil hy eerder ‘n rukkie alleentyd geniet?”

Wietske beveel ook aan dat jy jou kinders se ouderdom in ag neem. 

“Klein kinders benodig baie aandag, maar soos kinders groter word, soek hul meer vryheid om hulself te ontdek,” sê sy.

Wietske se wenke  

  • Gehaltetyd is belangrik.  Gee jou onverdeelde aandag, al is dit vir ‘n kort tydjie elke dag.Luister en wees betrokke by jou kind. Werk hierdie tydin jul daaglikse roetine in sodat julle daarby uitkom en sodat die kinders weet wanneer hulle ma se volle aandag gaan hêom oor sake wat vir hulle belangrik is, te kan gesels.  
  • Waar moontlik, maak eerder tyd vir jou kinders en laat staan die dinge wat ‘n bietjie kan wag tot later of wanneer die kinders in die bed is. Kinders kan help deur ouderdomsgepaste take te verrig, dit maak Ma se las ‘n bietjie ligter en bou ‘n kind se selfvertroue en sin van verantwoordelikheid.
  • Wees net saam, laat jou kinders by jou sit en speel, huiswerk doen of selfs help terwyl jy kosmaak.
  • Doen klein dingetjies om te wys dat jy vir jou kinders lief is. Sit ‘n briefie in hul kosblik.

Wietske se raad om ‘n kind met selfvertroue groot te maak

  • ‘n Goeie begin is om jou kinders te leer om regop te loop, ‘n netjiese voorkoms te hê en oogkontak te maak wanneer hulle met iemand praat.
  • Selfkennis is belangrik (waarvan hou ek en hou ek nie, wanneer is ek op my gemak en wanneer nie) en die wete dat hierdie eienskappe hom of haar uniek en spesiaal maak.
  • Gee positiewe versterking soos “Dankie vir jou hulp” en “Ek is trots op jou.”
  • Gee opbouende kritiek.  Kinders moet leer om uit hul foute te leer sonder om dit as ‘n persoonlike aanval te ervaar.
  • Maak tyd om saam met jou kinders te speel en op uitstappies te gaan.
  • Die manier waarop jy met jou kind praat, het ‘n groot invloed op hul selfvertroue.  Praat dus altyd op ‘n mooi manier met jou kinders.
  • Gee hulle die geleentheid om selfwaarde te ontwikkel deur met takies in en om die huis te help.
  • Leer hulle om hul emosies en denke te kommunikeer.
  • Wees self ‘n voorbeeld deur die manier waarop jy jou dagtake aanpak en moeilike situasies hanteer.

*Skuilnaam