Druk artikel

Ons kind het kanker
LIG Oktober 2015
Conette le Roux

Enige kankerdiagnose is uiters traumaties. Indien dit boonop met ‘n jong kind gebeur, is dit lewensveranderend vir ‘n ganse familie.

Kenners praat oor die invloed op ‘n gesin

'n Kankerdiagnose by een van die kinders raak ‘n gesin in sy diepste wese.

Wietske Boon, 'n spelterapeut wat in haar nagraadse studies heelwat navorsing hieroor gedoen het, sê dat die gesonde kinders hulle ouers as “anders” begin beleef.  Die ouers is nou baie langer en baie meer dikwels uithuisig.  Dit het onder andere tot gevolg dat die tuisblyers verveeld is, meer as gewoonlik TV kyk,  meer videospeletjies speel – en met ouers te doene het wat eensklaps van hulle skoolaktiwiteite vergeet het...

“Uiteraard het die ouers – veral wanneer die siek kind gehospitaliseer is – nie juis ‘n keuse nie.  Hulle moet hulleself dus nie te hard oordeel nie.”  Maar Wietske raai ouers aan om tog te probeer om iewers tyd te vind om aan hulleself en die ander kinders in die gesin aandag te gee -  al is dit slegs vir ‘n kort rukkie op ‘n slag.

Ester Steyn is ‘n direkteur van Kinderkrag wat landwyd verskeie kursusse vir ouers aanbied. Sy sê dat gesinslede met mekaar móét kommunikeer en hulle seer met mekaar deel. Almal moet die nodige inligting oor die siek boetie of sussie se siekte hê, of dit nou tydens of ná die behandeling is.  “En die ouers moet probeer om steeds die basiese dissipline in die huis te handhaaf.

“Moet ook nie van jou huwelik vergeet nie,” sê sy. “Die skok oor die diagnose tref immers albei huweliksmaats. Omdat mans en vroue emosioneel van mekaar verskil, sal die manier waarop hulle die skok verwerk ook verskil.

“Hier is dit belangrik dat die egpaar mekaar se onderskeie maniere om dit te hanteer respekteer. Gee aan die ander een die ruimte om die swaar op sy/haar unieke wyse te verwerk.  Werk saam met mekaar.  Die belangrikste is om julle emosies met mekaar te deel - en ook met die res van die gesin.”

Die gesonde sussie of boetie

Volgens Wietske kan die gesonde sibbe ‘n maat en ‘n beskermer vir die siek ene wees – maar soms ook ‘n “teenstander.”

“Die gesonde kinders voel dan ook dikwels skuldig as hulle geïrriteerd of jaloers is omdat die siekte al die aandag kry.  Hulle emosies wissel tussen jammerte en irritasie – net om gou weer skuldig te voel oor laasgenoemde,” sê sy.

Wietske het die volgende raad vir ouers ten opsigte van hulle gesonde kinders:

  • Stuur hulle vir terapie om hulle emosies en vrese ten opsigte van kanker te hanteer. Die gesonde kinders weerhou hulle soms daarvan om hulle emosies te kommunikeer, onder meer omdat hulle nie verdere spanning vir hulle ouers wil veroorsaak nie. Ouers moet op die uitkyk wees vir gedragsveranderinge by hierdie kinders, omdat dit gewoonlik die eerste aanduiding is dat hulle sukkel om die situasie te hanteer.
  • Die kinders se onmiddelike emosies en belewenisse moet hanteer word. Praat dus gereeld met hulle hieroor. Gee hulle die geleentheid om vrae te vra.
  • Gee hulle genoeg liefde; ondersteun hulle.
  • Hulle behoort ouderdomstoepaslike inligting oor die verloop en behandeling van ’n boetie/sussie se kanker te ontvang. Berei hul voor vir moontlike veranderinge in voorkoms, byvoorbeeld dat Sussie se hare kan uitval of dat sy baie siek gaan voel.
  • Bespreek die redes vir die noodwendige veranderinge wat in die gesin se omstandighede gaan voorkom.
  • Probeer so ver as moontlik hulle gewone roetine en aktiwiteite te handhaaf.
  • Wanneer dit moontlik is, ruim genoeg geleentheid in vir genotvolle gesinsuitstappies saam.

Slegs ‘n gedeelte van die volledige artikel