Druk artikel

Hoe raak dit ander (wanneer 'n ouer probeer selfdood pleeg)
Vrouekeur 10 Julie 2015
Maretha Botes

Wanneer ’n ouer probeer selfdood pleeg, ruk dit die mat onder ’n gesin uit. Hoe hanteer die ander ouer só ’n uiters sensitiewe situasie sodat die kinders heel anderkant uitkom?

Die middag toe Mercia* (38) probeer het om haar eie lewe te neem, het sy geglo haar plan is waterdig en dat niemand haar sal kry nie. Dit was die laaste ding wat sy wou hê. Sy wou alles beëindig deur ’n oordosis pynpille met ’n bottel whiskey af te sluk en haarself daarna in die motor te vergas.

Die kinders, Melanie* (9) en Tiaan* (11), was by Ouma en haar man, Alexander*, het naweekskof gewerk. Terwyl sy in die motor gesit het, het sy besluit om ’n laaste teksboodskap aan Alexander, haar man van 15 jaar, te stuur.

Hy vertel: “Die SMS was onsamehangend en vol spelfoute. Ek het my ma gebel, want ek het nie gemaklik gevoel nie. My ma het gebel en vir my gesê ek moet onmiddellik huis toe gaan. Haar woorde was: ‘Daar’s groot fout.’”

Alexander het die motor in die garage hoor luier.

“’n Mens dink nie, jy doen net. Ek het alles oopgeruk: eers die garagedeur en toe die motordeur. Gelukkig het sy dit nie gesluit nie! Ek het haar op die gras neergelê, die ambulans gebel en toe mond-tot-mondasemhaling toegepas. Dit was verskriklik. Sy was so ’n vreemde, grys kleur.”

Hulle kon Mercia se lewe red en sy is drie weke gehospitaliseer, eers in die waakeenheid en toe in die psigiatriese afdeling van die hospitaal.

Die maande vooraf

Sowat 18 maande vantevore, het Mercia en Alexander se huwelik begin verbrokkel. Alexander het uitgevind sy het ’n buite-egtelike verhouding. Mercia het besef sy wil eerder haar huwelik probeer red en het die ander verhouding beëindig. Hulle het vir berading gegaan, maar dinge was nooit weer dieselfde nie.

Die kinders het angstig begin raak oor hul ouers se konstante rusies. ’n Jaar later het Alexander ’n prokureur gaan sien en hy het Mercia ingelig hy wil skei. Hy het in ’n meenthuis ingetrek waar die kinders elke tweede naweek na hom toe gekom het.

Alexander vertel: “Die laaste maand voordat Mercia probeer selfdood pleeg het, was sy uiters buierig. Ek het nie eintlik geweet hoe om dit te hanteer nie. Dit het nooit by my opgekom dat sy moontlik depressief is nie. Ek het agtergekom die kinders hanteer die situasie baie sleg, veral Tiaan. Hy het baie keer vir my gesê hy wens ons kan net ophou baklei. Hy het ook baie buierig geraak. Sy trane het dikwels vlak gesit, maar hy wou nooit voor my huil nie.”

Alexander het geglo dit sal oorwaai as die egskeiding net eers verby is en ’n nuwe roetine gevestig is.

Die maande daarna

Die dag toe dit gebeur het, was die kinders gelukkig by Alexander se ma en sy kon hulle versorg toe Alexander hospitaal toe is.

Ouma moes egter ’n verduideliking gee waarom Mamma vir lank nie sal huis toe kom nie en waarom Pappa by die hospitaal vir haar kuier.

Alexander sê: “Dit was seker die moeilikste – om die nuus oor te dra. My ma het verduidelik dat hul mamma te veel pille gedrink het en nou baie siek is daarvan. Sy het ook vir hulle gesê dat Mamma ’n ander siekte ook het (depressie) en dat dit iets is wat ’n mens net met ’n dokter se hulp gesond kan maak.”

Toe Mercia ontslaan is, het die kinders nog ’n rukkie by hul ouma gebly voordat hulle terug is na haar toe. Alexander het die kinders vir berading en spelterapie geneem en het self ook berading ontvang.

“Mercia is nie heeltemal stabile nie. Dit is egter vir haar en die kinders belangrik dat sy vir hulle daar is. Om in die aand vir hul stories te lees, saam huiswerk te doen en vir hulle kos te maak,” sê hy.

Wanneer skadebeheer nodig is

Dr Irene Strydom, ’n sielkundige van Wellington, sê voor so ’n traumatiese gebeurtenis sou kinders reeds lankal kon aanvoel iets haper met Ma en dat Pa en Ma soms probeer om die moontlike chaos te hanteer.

“In die ideale situasie sou Ma self vir die kinders in eenvoudige taal verduidelik het wat haar siektetoestand behels en wat hulle kan verwag.

“Pa moes ook reeds met hulle gesels het oor wat hulle te wagte kan wees as Ma nie gesond voel nie. As dit nie gebeur het nie, is so ’n gebeurtenis vir die kinders en familie uiters skokkend en traumaties. Nou moet skadebeheer gedoen word, wat altyd moeiliker is.”

Irene se raad vir die ander ouer: “Terwyl Ma (of Pa) in die hospitaal is, sal die ander ouer vir die kinders moet verduidelik dat die ouer hom- of haarself wou seermaak en dat die dokters hom of haar nou help om gesond te word. Hulle moet verstaan dat dit ’n siektetoestand is wat met medikasie en baie praatwerk beter gemaak kan word. Hulle behoort ook te weet dat hulle niks verkeerds gedoen het nie. Dit is nie hul skuld nie. Hulle moet weet dit gaan ’n hele tydjie neem voordat hul ouer gesond sal wees en dat hy of sy altyd daaraan sal moet werk om gesond te bly.”

Wietske Boon, ’n spelterapeut van Centurion, sê kinders moet die nuus by ’n ouer hoor (of in dié geval die ouma) eerder as wat hulle by vriende, maats of kennisse die waarheid, of ’n gedeelte of verdraaide weergawe daarvan, hoor.

Irene sê: “Sommige kinders sal baie detail wil weet en ’n mens kan nie regtig hierdie groot geheim bewaar van wat werklik gebeur het nie. ’n Mens neem altyd die kind se ouderdom en vlak van begrip in ag wanneer detail gedeel word. ’n Mens moet ook in gedagte hou dat die ander lede van die gemeenskap en familie sal weet wat gebeur het en hulle kan die kinders pols oor wat nog alles gebeur het. Die kinders behoort hierteen beskerm te word en behoort genoeg inligting te ontvang en voorberei te word om hierdie vrae te hanteer.”

Vóórdat kinders by die ouer in die hospitaal gaan kuier, is dit wys om sulke besoeke met die dokter te bespreek, meen Wietske. Hy sal weet wanneer die omstandighede van so ’n aard is dat besoeke aanbeveel word.

In die toekoms

Die sielkundige sou al met die ouer in die hospitaal begin werk het en sou die hantering van die kinders wou bespreek. Die ouer se gesondheid kom eerste, maar as hy of sy later beter voel, kan hy of sy voorberei word om met die kinders te gesels. Die kinders wil hoor dat hul ouer nog altyd lief vir hulle is en hulle nie alleen wou laat nie. Die kinders moet gerusgestel word dat die ouer hulle nie wou weggooi nie. Die kinders moet weet dat hul ouer gaan terugkom huis toe en dat hulle sal kangesels oor wat gebeur het en hoe elkeen daaroor voel. ’n Oop en eerlike verhouding behoort gevestig te word en die kinders moet gehelp word om hul ouer te ondersteun, maar nie vir sy of haar herstel verantwoordelik te voel nie.

Maats se vrae

Wietske sê: “Sommige kinders verkies om nie daaroor te praat nie, terwyl ander gemaklik daaroor gesels. As die kinders voel hulle wil nie met hul maats daaroor praat nie, mag hulle so sê.”

Irene gee ook raad: Die maatjies sal natuurlik wil weet wat gebeur het en die kind moet voorberei word om ander se vrae te hanteer.

  • My mamma was siek en het haarself probeer seermaak.
  • Sy was in die hospitaal omdat sy te veel pille gedrink het.
  • Sy is nou uit die hospitaal en voel beter.
  • Ons gesels elke dag oor wat gebeur het en kyk hoe ons kan keer dat dit nie weer gebeur nie.
  • Ons voel nou sterker as ’n gesin omdat ons nou almal goed saamwerk.
  • Ek kan nie nog vrae van jou hanteer nie, want ek ken nie al die antwoorde nie - kom ons speel eerder net lekker saam.

Moet die ander ouer en die kinders berading ontvang?

“Beslis. Dit neem ’n hele klomp maande, indien nie jare nie, om van só ’n voorval te herstel,” sê Irene. “Dit moet as’n gegewe in die psige geïntegreer word en die ongemak van so ’n proses eis sy tol. Dis is egter onafwendbaar dat in hierdie geval die pa by sy eie sielkundige sal uitkom en dat die kinders na ’n opgeleide opvoedkundige sielkundige, wat in traumahantering spesialiseer, sal uitkom. Individuele sessies asook familieterapiesessies moet beplan word.”

*skuilname