Druk artikel

Speel-speel beter!
Baba & Kleuter November 2015
Shanda Luyt

Spelterapie is soos ‘n goue sleutel wat jou kind se emosies kan ontsluit.  Ons kyk wat dit behels en hoe dit werk.

Jy kan meer oor iemand leer in ‘n uur se spel as in ‘n jaar se gesprekke. 

Hierdie woorde word soms verkeerdelik toegedig aan die groot Griekse filosoof Plato, maar die meeste spelterapeute sal jou vertel dat wie dit ook al gesê het, ‘n goeie skoot wysheid kwytgeraak het.  Dis immers presies wat spelterapeute doen:  deur jou kind se spel te bestudeer, kom hulle agter wat hom pla en help hulle hom dan om die probleem op te los.

“Kinders kommunikeer deur spel. Deur te speel, ontdek hulle hul omgewing, hanteer hulle die eise wat die samelewing aan hulle stel en hanteer hulle hul emosies,” verduidelik Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

“Met spelterapie word verskillende speelgoed en tegnieke ingespan om kinders by te staan om hul emosies te erken, te kommunikeer en te leer om dit doeltreffend te hanteer. Omdat die speelkamer ‘n veilige omgewing vir kinders is, dit is ‘n plek waar hulle nuwe gedrag kan ondersoek en leer om gemaklik met hulself in hul omgewing te wees.”

Dis perfek vir kinders

Wie kan dan nou bedreig voel of stres as jy net lekker met allerhande interessante speelgoed kan speel?  Die voordeel van spelterapie is dat die veilige omgewing en die unieke terapeut-kind verhouding die kinders op hul gemak stel, sê Wietske.

“Die omgewing en tegnieke laat kinders veilig voel en moedig hulle aan om deel te neem aan terapie sonder dat dit veeleisend is of dat die kind gedwing voel om inligting met die terapeut te deel. Spelterapie vind op die kind se vlak en binne sy vermoë plaas, wat die kind in beheer en op sy gemak laat voel. Dít is ‘n groot faktor in die sukses van die terapie.”

Ouerleiding vind ook plaas sodat die ouers hul kinders by die huis kan ondersteun en help en sodat die nodige verandinge in die kind se omgewing plaasvind as dit nodig is.

‘n Tipiese sessie

Tydens ‘n spelterapie-sessie kan die terapeut ‘n verskeidenheid speelgoed gebruik om die kind deur waarneming emosioneel te evalueer en die oorsake van sekere gedragspatrone vas te stel.  Die kind se keuse van speelgoed, gewilligheid tot interaksie met die terapeut en gedragspatrone terwyl hy speel gee alles vir die terapeut leidrade.  Daarna kan die terapeut spelterapie op die kind se vlak toepas.  Speelgoed tot die kind se beskikking kan insluit ‘n sandbak, poppe, speelhuise, karretjies, diere, balle, bordspeletjies, kaarte, klei en selfs kuns- of verfgoed.

“Terapie vind op ‘n kind se vlak plaas - terapie met ‘n kleuter sal dus anders verloop as met ‘n skoolgaande kind. Die terapie word ook aangepas om by die kind se persoonlikheid en voorkeure te pas,” verduidelik Wietske.

Sommige kinders wag vir die terapeut om leiding te neem (byvoorbeeld dat sy moet sê met watter speelgoed hulle moet speel), terwyl ander daarop aandring om in beheer te wees, sê Wietske.  “Wat wel dieselfde is by alle terapiesessies, is dat kinders hul emosies en denke op hul spel of tekeninge projekteer. Sodra die kind sy emosie geprojekteer het, byvoorbeeld ‘n vrees vir die donker, hanteer ons daardie vrees of emosie deur daaroor te praat, dit te teken of dit in spel uit te beeld. Op dié manier erken die kind sy vrees of ander emosie en leer om dit te kommunikeer. Daarna vind ons maniere om die probleem soos die vreessituasie te hanteer sodat die kind nie meer nodig het om bang te wees vir die donker nie.  Hy leer dus om die vreessituasie doeltreffend te hanteer.”

Het my kind dit nodig?

Spelterapie kan doeltreffend vir ‘n verskeidenheid probleme gebruik word, sê Wietske.  Dit sluit in:

  • Trauma (egskeiding, misdaad, afsterwe van ‘n geliefde, nuwe baba in die huis)
  • Emosionele probleme (kinders wat dit moeilik vind om aggressie en woede te hanteer, buierigheid of huilerigheid, kinders wat sukkel om aan te pas by ‘n nuwe omgewing)
  • Gedragsprobleme (kinders wat byt of boelie, vrese vir spesifieke situasies ervaar, of skielike gedragsveranderinge)
  • Sosiale probleme (kinders wat sukkel om maats te maak, om vriendskappe te behou of nie oor die nodige sosiale vaardighede beskik om aanvaar te word binne die groep nie)

“ ‘n Goeie riglyn om te bepaal spelterapie nodig is, is wanneer ‘n kind sukkel om alledaagse gebeure met gemak te hanteer, ná ‘n traumatiese gebeurtenis of wanneer die ouer of skool skielike gedragsveranderinge by ‘n kind opmerk,” sê Wietske. 

“‘n Ouer ken haar kind en wanneer sy bekommerd is oor haar kind se vordering of gedrag, moet sy eerder werk daarvan maak.”

Wie is opgelei om spelterapie te doen?

‘n Spelterapeut beskik ook ‘n meestersgraad in spelterapie, sê Wietske. “Opvoedkundige sielkundiges en kliniese sielkundiges is ook opgelei om spelterapeutiese tegnieke in te span.

‘Hoe spelterapie my kind se hakkelry verbeter het’

Liesl Engelbrecht, ‘n ma van drie van Durbanville, het onlangs haar jongste dogter, Sabine (4), na ‘n spelterapeut begin neem en is tot dusver baie tevrede met die resultate.

“Sabine het op twee en ‘n half ‘n effense hakkel ontwikkel.  Ons is aangesê om dit eers net dop te hou, want dit is ouderdomstoepaslik en sy kon dit dalk ontgroei.  Vir ‘n tyd lank het dit inderdaad beter geword, maar toe trek ons van Pretoria af Kaap toe en dit vererger.”

Liesl-hulle het Sabine in die Kaap na ‘n spraakterapeut geneem, want Sabine het nou baie erger as ooit tevore gehakkel.  Die spraakterapeut het ná ‘n paar sessies aanbeveel dat Sabine saam met die spraakterapie ook spelterapie ondergaan.  Sy het vermoed Sabine se probleem was emosioneel eerder as fisiek.

“Dit was ander maatjies, ‘n ander skool, ‘n ander huis – al haar bekende goed was weg, en dit het haar spraakprobleem vererger.”

Sabine het al agt spelterapie-sessies gehad en Liesl glo dit het ‘n merkbare verskil gemaak.  “Die juffrou by die skool het vandag vir my gesê dit gaan al baie beter en Sabine praat al baie langer sinne heeltemal vlot.  Ons het ook ander voordele gesien:  Voorheen het Sabine heeltemal weggeskram daarvan om te praat met mense wat sy minder goed ken, maar sy doen dit nou – dalk omdat sy nie meer so sukkel om te praat nie.  Daar is dus ‘n verbetering op sosiale vlak ook.”

Liesl vertel Sabine geniet die spelterapie-sessies baie.  “Die terapeut gebruik veral basiese speltegnieke (sy noem dit primitiewe spel) soos sand- en kleispel.  Hulle teken ook en speel met poppies, maar ek hoor die meeste van die sandspeel en kleispeel.

“Die spelterapeut het vir my gesê die rede waarom spelterapie Sabine so goed help, is omdat al die fokus op die spel is terwyl hulle speel.  Dit neem dus die fokus van haar spraak af en daar is nie druk op haar om lang sinne te sê nie.  Sy voel gemaklik en daarom is haar spraak gewoonlik meer vlot.

“Daar is ook nie druk om die woordjies 100 persent reg te sê soos met spraakterapie nie, want die fokus is op speel en as sy ‘n foutjie maak, maak dit ook nie saak nie.  By spraakterapie het Sabine aan die begin sommer ophou praat omdat daar meer fokus is op wat sy sê en hoe sy dit sê.”

Liesl dink dis belangrik dat ouers kyk na die interaksie tussen hul kind en die terapeut en self gemaklik voel met die terapeut.  “Natuurlik moet ‘n mens aanvaar dat dit ‘n rukkie gaan duur voor jou kind aan die terapeut gewoond is, maar as jy self nie gemaklik voel nie, soek tot jy die regte mens kry.