Druk artikel

Te veel TV?
Baba & Kleuter Desember 2015
Daniella de Witt

Wat sou ons sonder daai vriendelike pers dinosourus en oulike oranje vissie gedoen het? Die TV sorg vir die heerlikste vermaak, maar watter invloed het dit nog op jou kinders?

Dit was ‘n dol dag. Die baba huil en jou kleuter is neulerig. Gelukkig is hy gek na Barney en sodra jy hom voor die TV sit gemaak het, kan jy rustig aandete kook en die baba voer...

Baie ma’s stem saam dat die TV hulle al menig maal gehelp het om ‘n kind tevrede te hou. En Hollywood doen verseker sy deel met ‘n stewige stroom strokieflieks om klein mensies (en hul dankbare ouers) gelukkig te hou.

Maar wat is die invloed van soveel TV-tyd op kleuters en peuters? Neurowetenskaplikes in Japan het studies onder 290 kinders gedoen en gevind dat TV inderdaad kinders se breinontwikkeling beïnvloed. Hulle het beduidende anatomiese verskille in breindele gevind wat ooreenstem met die aantal ure wat die kinders voor die TV deurbring. Hoe meer TV die kinders gekyk het, hoe groter was die verandering in breinstruktuur.

Die dele van die brein wat aangetas is, was dié wat met emosionele reaksie, aggressie en visie gemoeid is. Die toetse het bevestig dat die kinders se verbale IK afgeneem het in verhouding met die aantal ure wat hulle TV gekyk het.  TV-tyd het van geen tot vier uur per dag gewissel.

Veranderinge is ook gevind in die bedradingsnetwerk in die serebrale korteks van die brein. Die navorsers se boodskap was dat vandag se ouers beslis die uitwerking van te veel TV-tyd in gedagte moet hou. Maar hoeveel is te veel?

Kenners stem nie altyd hieroor saam nie, sê Wietske Boon,‘n spelterapeut van Pretoria.  Sy meen peuters behoort nie meer as 10 minute per dag skermtyd te geniet nie omdat hulle nog basiese mylpale soos loop en spring ontwikkel en hul omgewing fisiek moet ontdek.

Kleuters, weer, se skermtyd behoort tot hoogstens 30 minute twee keer per dag beperk te word sodat daar genoeg tyd oor is om op ander maniere te ontwikkel.

Anel Annandale, ‘n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, meen kinders onder twee jaar oud behoort glad nie TV te kyk nie.


Die voordele

TV kan ontwikkeling aanhelp, maar dit hang af van die soort program sowel as die hoeveelheid tyd wat hulle per dag voor die TV deurbring, sê Wietske.

“Daar is oulike opvoedkundige programme wat kinders se algemene kennis, taal en wiskundige kennis uitbrei. Skermtyd behoort egter nie die plek van enige ander ontwikkelingsaktiwiteit in te neem nie. Jou kind moet genoeg tyd te kry om op alle gebiede te ontwikkel, soos fisiek, sintuiglik en wat probleemoplossing betref. Opvoedkundige programme is net 'n baie klein deel van jou kind se ontwikkeling.”

TV kan kinders aan diere, dinge, plekke en situasies blootstel wat hulle nie noodwendig sou ervaar het nie, sê Anel.

“Die TV is die perfekte medium om vir kinders te wys hoe dinge werk.”

Sy meen ook TV kan kinders help bedaar en hulle empatie met ander leer omdat hulle saam met karakters emosies ervaar.

 

Die nadele

TV kan wel ‘n kind se kreatiwiteit demp, waarsku Anel.

“Baie ouers verwar verbeelding met kreatiwiteit. Die TV het wonderlike karakters en wêrelde om ‘n kind se verbeelding te stimuleer, maar dit word alles op ‘n skinkbord aangebied,dus hoef kinders nie enigiets self te skep nie.

“TV-programme se gebeure het ook ‘n bepaalde volgorde en gevolgtrekking en daarom het kinders nooit die geleentheid om self oplossings vir die probleme te probeer vind nie. Kinders se aandag kan ook na hierdie TV-wonderwêreld verskuif as hulle op werk moet konsentreer of met maatjies speel.”

Anel sê dit kan selfs taalontwikkeling ondermyn. “Aan die een kant help dit inderdaad om woordeskat uit te brei, maar te veel TV kan kinders se vermoë skaad om hulleself uit te druk. Dis ‘n visuele medium en vereis dikwels baie min verstandelike verwerking.

“Kinders met slegte TV-gewoontes kan dikwels nie ‘n storie in volgorde verduidelik nie en is langdradig met verduidelikings of gebruik byklanke wanneer hulle woorde moet gebruik.”

Nog ‘n nadeel is dat as kinders te veel TV kyk, hul belangstelling in minder opwindende of meer fisiek uitdagende aktiwiteite verloor, sê Anel.

“Hulle wil dikwels nie buite speel of eens nuwe maatjies maak nie.”

TV-geweld kan jong kinders traumatiseer of tot aggressiewe gedrag aanleiding gee, sê sy. Daarby moedig TV verbruikersdruk aan.
“Al die slim advertensies teiken kinders en laat hulle glo dat hulle vreeslik baie dinge nodig het wat hulle eintlik glad nie nodig het nie. Dit moedig net vloerstuipe, konflik en toegeeflike ouerskap aan en lei daartoe dat kinders nie begrip van uitgestelde bevrediging verstaan nie.”

 

Wietske se wenke vir ouers

  • Maak seker die programme waarna jou kinders kyk,is opvoedkundig en ouderdomsgepas.
  • Verduidelik vooraf dat jou kinders net een storie (van ongeveer 30 minute) gaan kyk en dat julle daarna iets anders gaan doen. Kinders het voorspelbaarheid nodig en dit voorkom baie keer konflik wanneer dit tyd is om die TV af te sit. Ouers moet dan by dié reël hou al is boetie of sussie nie gelukkig daarmee nie.
  • As jou kleuters ander takies het soos speelgoed opruim, of as dit badtyd is, maak seker daardie dinge is afgehandel voor hulle TV kyk.
  • Sit slegs 'n storie aan wanneer die kinders vra om TV te kyk.
  • Kinders behoort nie TV te kyk terwyl hulle eet of gesinstyd geniet nie.
  • Vermy skermtyd net voor slaaptyd - kinders is geneig om te sukkel om daarna aan die slaap te raak.

 

Anel se wenke

  • Kinders moenie te lank TV kyk nie en moet nooit ‘n TV in hul slaapkamer hê nie.
  • Moenie sommer die TV aansit as jy niks anders het om te doen nie. Beplan vooraf watter programme julle wil kyk en besluit op aktiwiteite wat jou kinders kan besig hou terwyl hulle nie TV kyk nie.
  • Moenie voor die TV eet nie. Daar is al bewys dat dit kinders oorgewig help maak, want hulle besef nie hoeveel hulle eet as hul aandag by TV-programme is nie.
  • Kyk saam TV, want so kan jy met hulle gesels oor wat hulle kyk.

 

Wat sê studies?

Die Amerikaanse kindermediakenner Shelley Pasnik sê op die webtuiste www.psb.org dat daar nog nie genoeg studies oor die saak gedoen is nie, hoewel ondersoeke die afgelope paar jaar toegeneem het.

Verskeie studies toon ouderdomgeskikte programme kan kleuters help om taal te leer, maar daar is baie minder studies wat op peuters fokus. Daar is wel bewyse dat kinders van 18 maande oud op die prentjies van programme met woorde sal reageer, veral as die inhoud van hoë gehalte is.

Ander studies wys weer dat kinders onder die ouderdom van 22 maande woorde minder doeltreffend van die TV af leer as wat hulle van interaksie met mense leer.

Shelley sê kinders tussen ses maande en drie jaar behoort nie TV-tyd bo speeltyd buite te kies nie, maar vir vier- tot sesjariges kan dit verskil. Kinders van hierdie ouderdom wat baie TV kyk, speel sowat ‘n halfuur minder per dag buite en lees agt minute minder as kinders wat minder TV kyk.

Die Kaiser Family Foundation in Amerika het ‘n studiegedoen oor die invloed van TV in die lewe van kinders. Hulle het die volgende bevind:

Kinders jonger as twee

  • Meer as vier uit tien (43 persent) van kinders jonger as twee het elke dag TV gekyk, en een uit vyf (18 persent)het elke dag DVD’s gekyk.
  • Altesaam 74 persent van peuters het voor die ouderdom van twee TV gekyk.

Kinders jonger as ses

  • Hulle het omtrent twee uur per dag voor die TV deurgebring – dieselfde hoeveelheid tyd as wat hulle buite speel en drie keer soveel tyd as wat hulle met boeke deurbring.
  • 77 persent het self die TV aangeskakel.
  • Altesaam 71 persent het gevra om hul gunsteling-DVD te kyk en 67 persent om spesifieke TV-programme te kyk.
  • Altesaam 62 persent kon self die afstandbeheerder gebruik.

 

Ekstra bronne