Druk artikel

Van Engeltjie tot Monster?
Vrouekeur 13 Mei 2016
Ansja Ferreira

Een dag is hulle nog oulik en die volgende oomblik word jy om elke hoek uitgedaag. Hoe hanteer ‘n mens die voortienerfase?

Hulle word “tweens”of “tweenies” of voortieners genoem. Hulle is nie meer klein kinders nie, maar ook nog nie volwaardige tieners nie en hul ouers getuig dat hulle merkbare veranderinge by hulle opmerk. 

“My 11-jarige het net skielik ‘n baie sterk wil ontwikkel en sal my vir die geringste dingetjie net afjak.  Hy kry ook sulke op-en-af-buiewisselings.  My vriendelike, spelerige kind het net oornag van gedaante verwissel.  As dit ‘n voorsmakie van die tienerjare is, weet ek regtig nie hoe ek dit gaan hanteer nie,” kla sy ma, Martie*.

*Anita kla weer oor haar 12-jarige meisiekind wat soms net buierig raak en alleen in haar kamer wees en dan irriteer haar jongste sussie haar grensloos. 

Terwyl daar soveel fokus op adolessensie geplaas word, is die voor-tiener-fase net so belangrik, sê Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

“Dit is tusseninjare waarin kinders baie nuwe vaardighede en konsepte aanleer.

Kinders voel soms dat hulle nie goed genoeg is nie en kan selfs erge angs ervaar, veral wanneer hulle dink dat hulle nie vinnig genoeg vaardighede aanleer of as die druk van verwagtinge te intens is,” sê sy.

Lana Kleingeld-Coetsee is ‘n opvoedkundige sielkundige wat in Weltevredenpark en Randparkridge praktiseer. Volgens Lana kan die ouderdomme tussen sewe en 12 uitdagend vir die kind en die ouers wees omdat daar so baie veranderinge tydens hierdie stadium plaasvind.

“Die beste manier om hierdie stadium te beskryf, is as ‘n tussenfase of oorgangsfase, want hulle neem van die meeste van hul kinderlike maniere afskeid, maar pas ook nog nie regtig by die volgende stadium in hulle lewe, naamlik adolessensie, in nie,” sê sy.

“Hierdie stadium van ontwikkeling gaan ook gepaard met baie fisieke veranderinge en groeiprosesse in hul liggaam, asook hormonale veranderinge wat hul emosies beïnvloed. Dit staan as puberteit bekend.

Hulle voel ongemaklik en vreemd in hul eie liggaam, verstaan nie die veranderinge wat gebeur nie en voel verward deur wat hulle ervaar.

“Hulle begin ‘n wil van hul eie ontwikkel en wil self begin besluite neem. Soos besluite oor watter klere hulle wil dra, wanneer hulle huiswerk wil doen, waarheen hulle wil gaan.

“Hierdie eiewilligheid kan tot gedragsprobleme lei wanneer die huisreëls nie meer by hulle voorkeure inpas nie en hulle probeer grense verskuif en soms reëls breek. Hulle sal begin “nee” sê bloot omdat hulle kan en jou begin uitdaag om te toets met hoeveel hulle kan wegkom.

“Hulle raak ook meer terugpraterig en gebruik al hoe meer gevorderde taal en woordeskat om met jou te debatteer om jou te probeer oortuig dat hul mening korrek is. Wanneer hulle weet dat hulle verkeerd is, sal hulle ook baie keer jok of geheimsinnig raak om te keer dat hulle in die moeilikheid beland.”

Die regte grondslag

Die portuurgroep begin ‘n groter rol speel en hulle hang meer aan wat hul vriende dink en sê. Hul keuse van klere, stokperdjies, musiek en programme moet die portuurgroep se goedkeuring wegdra, want dit is hoe hulle voel hulle word aanvaar.

“In vandag se tyd word kinders baie vinniger groot, veral met die blootstelling aan die media. Dis baie uitdagend vir die meeste ouers om die oorgang vanaf kind na tiener sonder slaaplose nagte te hanteer,” sê Derika de Villiers, ‘n kliniese sielkundige, verbonde aan die Vita Nova-beradingsentrum in Elarduspark, Pretoria.

Volgens Derika vind puberteit nou vroeër as in vorige geslagte plaas. “Aan die einde van laerskool sal meeste kinders fisieke en emosionele veranderinge ondergaan. Kinders se hormone verander en hulle raak buierig, huilerig, hul emosies ry wipplank en hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie.

“Ouers besef nie altyd dis dit nie en sien hierdie gedrag as ‘kinders wat net moeilik is’. Daarom moet ouers op die uitkyk wees daarna sodat hulle hul kind kan begelei. Die brein ondergaan nou veranderinge wat tweenies se gedrag so onvoorspelbaar maak. Die invloed van vriende sal ook geleidelik groter as dié van die ouers word soos hulle adolesensie bereik.

“Dit is baie belangrik dat ouers nou ‘n sterk grondslag ten opsigte van dissipline, verwagtings en verantwoordelikheid bou sodat hulle hul kinders kan help om verantwoordelike volwassenes te word.”

Dié veranderinge vind plaas

Wietske verduidelik watter veranderinge daar in voortieners se lewens plaasvind:.

Sosiaal

Sosiale verhoudings word ernstiger en as die vriendskap ten einde loop, ervaar die kinders groot teleurstellings en hartseer en moet hulself weer binne die groter groep vind.

Kinders word soms deur boelies geteiken. Dit plaas net soveel meer spanning en onsekerheid op die kinders se skouers.  Vir kinders wat afgeknou word of wat voel hulle pas nie in die groep in nie, is dit baie traumaties.

  • Wees beskikbaar sodat jou kinders weet hulle kan enige tyd met jou kom praat.
  • Moedig positiewe vriendskappe aan.
  • Moedig jou kinders aan om aan ‘n buitemuurse aktiwiteit deel te neem.
  • Leer jou kind om op ‘n positiewe manier selfgeldend te wees.

Akademies

Groot veranderings vind plaas wanneer kinders die intermediêre fase betree. Klasse word gewissel, ‘n rooster word gevolg en die werkslading en werksdruk is baie meer. Dit is ‘n groot aanpassing en vir baie kinders veroorsaak net die gedagte daaraan al spanning. “Sal ek regkom? Wat as ek nie die werk kan doen nie? Gaan ek genoeg tyd hê om al my huiswerk te doen?”, ensovoorts.

  • Help jou kinders met beplanning en doelwitstelling. Maak ‘n weeklikse rooster waarin tyd vir huiswerk, buitemuurse aktiwiteite en ontspanningstyd gemaak word. Stel ook meer langtermyn doelwitte, byvoorbeeld wat wil ek hierdie week of kwartaal bereik?
  • Wees betrokke by jou kinders se huiswerk.  Maak seker jou kinders verstaan die inhoud van die werk, kan die druk hanteer en benader dit positief.
  • Kommunikeer met die skool, woon ouervergaderings by en bly op hoogte van wat by die skool gebeur.
  • Hou ook in gedagte dat jou kinders meer onafhanklik wil begin funksioneer, wees beskikbaar, maar gee ook geleentheid vir onafhanklikheid.

Emosioneel

Kinders van hierdie ouderdom kan al verbaal kommunikeer wat hul pla, hoe hulle voel en wat hul dink. Tog ry hul emosies somtyds met hul wipplank. Ander trauma en veranderlikes (soos egskeiding, misdaad, verhuising, ensovoorts) plaas ekstra spanning op ‘n kind.

  • Gee ruimte as jou kind ‘n behoefte daaraan het.
  • Probeer verstaan waarom jou kind so voel en die moontlike rede vir ‘n emosionele uitbarsting.
  • Gee aanvaarbare alternatiewe om uiting aan emosies te gee.
  • Bemoedig en prys jou kind op gepaste wyse deur byvoorbeeld te sê: “Jy kan trots voel op jouself!”
  • Gee jou kinders verantwoordelikhede, dit laat hulle voel dat jy hulle vertrou.

Fisiek

Terwyl soveel nuwe vaardighede aangeleer word, begin die kind se liggaam vir puberteit voorberei. Dit alleen is ‘n nuwe uitdaging.

  • Praat met jou kind oor moontlike liggaamlike veranderings en wees ondersteunend.
  • Begin hom of haar op die veranderinge van adolessensie voorberei.

Lana se raad vir ouers

  • Respekteer hul privaatheid en hul bewuswording van hul veranderende liggaam. Gesels privaat daaroor.
  • Gee die leisels bietjie skiet. Gee hulle ruimte om hul eie keuses te maak (binne perke) al stem jy nie altyd saam nie. Dit is belangrik vir hul groei in outonomie.
  • Praat kalm en sag wanneer jy raas. Vermy om te kerm of te skree, want hulle sal afskakel en nie aandag gee nie. Maak oogkontak en wys hulle jy bedoel wat jy sê met jou liggaamstaal en stemtoon, sonder om jou stem te verhef.
  • Kinders en selfs tieners benodig duidelike grense. Moenie onredelik wees en vir geen rede net nee sê nie. Gesels oor die toepaslikheid en regverdigheid van sekere reëls en grense. Maar wees konsekwent met dissipline en gevolge. Sommige reëls moenie onderhandelbaar wees nie, veral met betrekking tot respekvolle optrede teenoor ander en die veiligheid van die kind.
  • Prys jou kinders vir goeie gedrag, hulle smag steeds na jou goedkeuring.
  • Om risiko’s te neem, is ‘n belangrike manier vir kinders om oor hulself te leer en om nuwe dinge te probeer wat hulle identiteit help ontwikkel. Hierdie risiko’s kan enigiets wees, soos ‘n nuwe sport wat hulle uitprobeer, uit te gaan na partytjies, stokkies te draai of te rook. Jy kan jou kinders leer om risiko’s te evalueer deur met hulle te praat oor waardes en wat reg en verkeerd is.
  • Sosialisering is baie belangrik vir hulle ontwikkeling tydens hierdie fase. Nietemin is dit altyd moeilik om jou kind wat nog so jonk en naïef is, vrye teuels te gee om saam met hulle vriende te gaan waar hulle wil. ‘n Mens besef hul naïwiteit en onskuld maak hulle weerloos en hul veiligheid moet altyd jou prioriteit wees. As jy nie gemaklik voel om jou kinders by ‘n winkelsentrum af te laai, of na huispartytjies te laat gaan waar jy nie die ouers ken nie, nooi eerder hul vriende na jou huis toe in plaas daarvan om hulle te keer om te sosialiseer. Sodoende kan jy hul vriende beter leer ken en waarneem watter invloede die vriende op jou kind het.
  • Skep ‘n oop atmosfeer en wees beskikbaar sodat hulle vrymoedigheid kan hê om enige tyd met jou oor persoonlike dinge te kom praat.