Druk artikel

'n Pa en sy tiener
Vrouekeur 17 Junie 2016
Ansja Ferreira

Wat is die rol wat ‘n pa in ‘n tiener se lewe speel?  Ansja Ferreira het met kenners gesels.

“Tradisioneel is die pa ‘n outoritêre figuur, terwyl ma versorgend is, maar dit het al in ‘n groot mate verander sodat pa’s oor die algemeen ook meer in die versorgende rol betrokke is,” sê Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

Volgens Wietske wil tieners onafhankliker funksioneer sodat hulle hulself kan vind en hul eie identiteit kan ontdek. “Tog speel die belangrike mense in hul lewe steeds ‘n onmisbare rol. Hulle kyk na die manier waarop Pa probleme oplos, sy verhoudings koester en veral hoe Pa hulle behandel,” sê sy. 

“‘n Pa is ‘n belangrike persoon wat tieners leer om besluite te neem en om verantwoordelikheid te aanvaar. Hy leer hulle ook belangrike lewenslesse soos hoe om met geld te werk en motor te bestuur,” sê sy.

“Tieners wie se pa’s in hul lewens betrokke is, is gelukkiger, het meestal ‘n beter selfbeeld en ervaar minder probleme.  Pa’s speel ‘n belangrike rol in die tiener se identiteitsvorming. Vir ‘n seun is ‘n pa ‘n voorbeeld van hoe hy as man behoort op te tree en vir ‘n dogter is hy ‘n voorbeeld van wat sy in ‘n maat gaan soek,” sê Wietske.

Volgens Wietske verander die kind-en-pa-verhouding in die tienerjare.  “Dit wat hulle vroeër saam gedoen het, wil die tiener nie noodwendig meer saam met hom doen nie of sy of haar behoefte aan die soort aktiwiteite saam met Pa verander. Pa’s kan dit as ‘n verlies ervaar,” sê sy.

“Hoewel tieners meer onafhanklikheid soek, wil hulle tog weet dat hul pa hulle ondersteun. Hulle wil self besluite neem, maar soek tog in ‘n mate hul pa se insette. Dit maak dit egter soms vir pa’s moeilik om die balans te vind tussen toegeeflik wees en grense stel.  Daarmee saam ervaar tieners hormonale veranderings wat lei tot buierigheid en onvoorspelbaarheid.Sou daar konflik tussen ‘n pa en sy tiener ontstaan, gaan die tiener moontlik hom- of haarself en hul verhouding op daardie stadium negatief ervaar.Pa’s vind dit soms moeilik om te verstaan waardeur die tiener gaan (tieners verstaan hulself nie eens altyd nie) en om die situasie reg te hanteer,” sê Wietske.

Wietske gee raad aan pa’s

  • Neem jou tiener op uitstappies wat vir hom of haar aangenaam is of waarin jul albei belangstel.
  • Stel in jou kind se aktiwiteite belang en wees ondersteunend.
  • Vertel stories van jou jong dae – onthou, jy was ook jonk!
  • Vind balans tussen gesonde grense en gesonde vryheid.
  • Wees ‘n positiewe rolmodel.
  • Aanvaar jou kind onvoorwaardelik vir wie hy of sy is.
  • Aanvaar die buie.
  • Hou kommunikasie oop en maak seker dat julle ‘n goeie verhouding het.
  • Skep geleentheid om hulle te leer om besluite te neem en verantwoordelik op te tree.

Die hartseer gevolge van afwesige pa’s

“Die nywerheidsera het pa’s geleidelik van hul huise begin wegvat en vandag pluk ons samelewing die wrang vrugte van gesinne met emosioneel en/of fisiek afwesige pa’s as gevolg van hierdie migrasie, sê Mariaan Maartens, ‘n traumaterapeut en lewensafrigter van Bloemfontein.

“Dit is noodsaaklik dat ‘n pa teenwoordig moet wees om sy kinders se identiteit en waarde te kan bevestig en erken,” sê sy.

“Sy afwesigheid laat ‘n seerplek wat as die vaderskapswond bekendstaan. Dit is ‘n wond wat deur die slagoffers gewoonlik as ‘n ewigdurende pyn beskryf word wat bloot bestuur kan word, maar nooit werklik genees nie.”

Mariaan noem twee voorbeelde van bekendes wat sonder pa’s grootgeword het. 

“Die hoofsanger van die rockgroep Metallica, James Hetfield, het die volgende gesê op ‘n vraag oor sy herinneringe aan sy pa: ‘Hy is weg sonder om totsiens te sê. Hy het ‘n nota gelos en dit was nie eens vir my nie.

Johhny Tapia, ‘n wêreldbokskampioen, het sonder sy pa grootgeword en uiteindelik in die wêreld van dwelms, drank en misdaad betrokke geraak. Hy het gesê dat hy sy titels in ‘n oogwink sou weggee as hy net ‘n pa in sy lewe kon hê, ‘n pa wat vir hom kon sê hy is goed genoeg en dat alles reg sal uitwerk.

“Daar is iets in ‘n kind wat na ‘n pa se liefdevolle en waarderende blik hunker,” sê Mariaan.

“Daardie oë moenie wasig wees as gevolg van ‘n laatmiddagdrankie, sportkanaal of ‘n foonoproep met ‘n belangrike sakevennoot nie. Die afwesigheid van daardie waardering laat ‘n diep wond en ‘n bodemlose put in die hart van ‘n kind.

“Sulke kinders word dikwels groot as geweldenaars of as passiewe mense wat glo dat hulle nie saakmaak nie. Hulle bly egter almal op soek na iets of iemand om die pyn te verdoof en vind dit in dinge soos werk, dwelms, seks, verhoudings en kos. Daardie liefde bly hulle egter vir altyd ontwyk en veroorsaak soms selfs die dood.

“‘n Prostituut het tydens ‘n onderhoud erken dat sy en die meeste van haar kollegas vir wie die strate hul huis geword het, nooit ‘n pa gehad het nie. Sy het ook gesê dat haar lewe moontlik anders sou gelyk het as haar pa hulle nie alleen agtergelaat het nie,” vertel Mariaan.

Volgens Mariaan lê die oplossing vir ons vaderlose samelewing eerstens in die erkenning van pa’s se eie seer verlede en verwonding as gevolg van húl afwesige pa’s. As hulle dit erken, kan hulle hul eie behoeftes erken en hulp soek om gesond te word. Elke seun en dogter word met die volgende universele vrae gebore: Is ek goed genoeg? Is ek waardevol? Maak ek saak? Beskik ek oor die nodige om suksesvol te kan wees? Elke pa kan hierdie vraag positief beantwoord deur teenwoordig te wees en met oë te kyk wat werklik liefhet en omgee,” sê Mariaan.

‘n Pa se rol in sy seun se tienerjare

Wezet Botes werk as 'n forensiese maatskaplike werker met kinders en gesinne en is aan die Vita Nova Beradingsentrum in Elarduspark verbonde. Sy gee die volgende wenke:

Tienerwees is deesdae meer kompleks as ooit tevore. ‘n Pa moet soms vinnig optree om sy seun te beskerm, want met 'n grootmenslyf en kinderkop kan daar baie dinge skeefloop. 'n Pa is veral die een wat wys hoe ‘n mens teenoor jou gesin optree, wat dit is om eerbaar te wees, hoe om 'n werk te behou, elke dag op te staan en voor te loop.

Dis nodig om tyd saam  met jou kind te bestee. Julle kan mekaar in die geharwar van die lewe verloor. Jy het 'n sperdatum om te bereik en hy het ekstra oefentye vir atletiek of ekstra wiskundeklasse. Tyd in mekaar se geselskap kan help om deur die moeilike tye te kom wanneer hy geval het, hy met dwelms gevang is, sy meisie swanger is of jy en sy ma skei.

'n Vaste “ja” en “nee” is onontbeerlik. Jou tiener gaan jou gesag uitdaag. Jou seun gaan nie net jou “ja” en “nee” toets nie, maar gaan jou oor die dele van jou lewe vra waar jy self dalk afgedwaal het.  Gaan jou voorbeeld vir hom die rigting van waarheid, eerlikheid en getrouheid wys of gaan jou paadjie hom in gevaar stel?

Jou seun het jou as spieël nodig om twee redes: om te weet hoe hy net soos jy is en hoe hy heeltemal anders is. Tienerwees is die kleedrepetisie vir volwassenheid. Sy stem gaan breek, sy lyf gaan verander hy gaan dalk soos jy lyk of soos jy wees.

Hy gaan nodig hê dat jy sy nuwe krag erken en nie in kompetisie daarmee te wees nie. Hy gaan nodig hê dat jy sy vermoë om besluite vir sy lewe te neem, aanvaar en dit nie te oordonder nie.  

Jou seun kan baie bekommerd oor sy toekoms wees al sê hy dit nie. Praat met hom oor beroepe, wys hom hoe werk 'n begroting, help hom om 'n universiteit te kies. Weet jy waaroor hy passievol is, kan jy dit na ‘n positiewe uitkoms vir sy lewe vorentoe lei. 

As tiener gaan jou seun sy eerste groot liefde vind en sy eerste liefdesteleurstelling ervaar. Praat met jou seun oor wat liefde is, hoe dit voel en hoe ‘n mens dit wys. Praat oor veiligheid en die tyd en plek vir 'n fisieke verhouding. As hy seergekry het, vertel hom van jou eerste liefdestelleurstelling. Help hom om te sien dat hy goed genoeg is om liefgehê te word.

Geld is altyd in aanvraag vir 'n tiener, vir 'n nuwe krieketkolf, om saam met sy vriende te gaan fliek of petrol vir die motor. Op jul pad saam sal jy hom moet leer om sy hulpbronne te bestuur. Gee sakgeld as jy kan, nie te veel nie en ook nie te min nie, maar spreek ook jou verwagtinge uit wat sy deel daaraan is. Kinders oor 15 jaar mag klein werkies vir betaling doen. Maak wel seker dat die werk veilig en in jou kind se belang gaan wees.

Soms sal dit nodig wees om die drilsersant van roetine en dissipline eenkant te laat staan en jou seun kans te gee om self te groei en sy eie ritme te vind.

Mens begin 'n avontuur met die hoop en verwagting dat jy aan die einde van die reis ‘n ryker, nuwe mens sal wees. So is dit ook met jou staptog deur jou seun se tienerjare. Hou goeie moed, want aan die ander kant wag daar 'n jong man wat nodig het dat sy pa die pad vorentoe ook saam met hom sal stap, hierdie keer loop hy net voor.