Druk artikel

Hoeveel slapies nog (Vakansievoorbereiding)?
Baba & Kleuter Desember 2016
Riette Grobler

Tel julle al die slapies tot julle in die motor gaan klim see toe? Of kou jy jou naels oor die son wat later sak en jou kleinding se roetine wat saam met die golwe wegspoel?

Dis ‘n feit dat vakansies saam met klein kindertjies nie heeltemal so sorgeloos vir ma en pa is soos toe dit net julle twee was nie, maar met ‘n bietjie beplanning en die regte houding kan julle tog almal lekker uitrus.

“Dit is belangrik om realistiese verwagtinge van jul vakansie te hê,” sê Petro Thamm, ‘n slaapkonsultant by Good Night Baby, ‘n landwye organisasie.

“Ons wil vakansie hou mét ons kinders soos ons vakansie gehou het sónder kinders, maar ons moet onthou hulle is klein mensies wat roetine en dieselfde slaaptyd nodig het.”

Jou kind se persoonlikheid bepaal in ‘n mate hoe aanpasbaar hy in die vakansie sal wees. ‘n Vreemde bed in piekfyn vir sommige kinders, terwyl dit ander ontstel.

“Hou jou kind se persoonlikheid in gedagte en probeer waar moontlik by jul roetine hou,” stel Petro voor.

‘n Roetine is voorspelbaar en laat klein kindertjies veilig voel, beaam Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

“Dit sorg ook vir minder verrassings. Veral kinders wat geneig is tot angstigheid en spanning floreer as hulle struktuur het. Dié kinders sal oorweldig voel deur onbekende situasiess en onvoorspelbare gebeure.

“Veral as die omgewing onbekend is, is dit dus ‘n goeie plan om die ou roetine so goed as moontlik te volg.”

Wees tog daarop voorbereid dat dinge nie heeltemal soos tuis gaan verloop nie – en dis nie die einde van die wêreld nie.

Pak daai bersie

As jou kleuter al verstaan waaroor dit gaan, kan jy tydens jou vakansiebeplanning foto’s bymekaar maak van plekke waar julle gaan oornag en besienswaardighede wat julle gaan besoek, stel Wietske voor.

“Gesels ‘n kort rukkie voor die vakansie met die kinders daaroor – onthou, klein kinders se begrip van tyd het meestal nog nie ontwikkel nie.

“Kinders wat moeilik by verandering aanpas, kan gedurende die vakansie selfs elke dag op die dag se gebeure voorberei word deur na foto’s te kyk of te gesels oor die dag wat voorlê.”

Betrek jou kleuter by vakansie-voorbereidings, al verstaan hy dalk nie heeltemal wat gaan gebeur nie.

“Help hom om self te kies watter speelgoed hy wil saamneem. Dit bring ‘n mate van kalmte in ‘n onbekende omgewing.”

Pak sy gunsteling-bersie in en sommer sy bekende nagliggie ook, sê Petro.

Ons doen dit so: ‘Ontspan en geniet dit!’

Sy en haar man is nie regtig roetine-mense nie, sê Nadine Marx Pienaar (37) van Pretoria.

Tog het haar kinders, Luca (4) en Myra (1), hul eie roetine gou aan haar uitgewys en sy volg dit so, ook met vakansies.

“Die twee se roetine is sterk aan die son gekoppel – son is gelyk aan speel en maan aan slaap. Dus kan vakansies by die see interessant wees omdat die son so laat ondergaan.

“Maar nou ja, alles gebeur mos maar later by die see en dis ook goed so – vakansie is die tyd wanneer roetines ‘n bietjie kan rus.

“Meer sontyd is goed vir die twee en hulle speel lekker lank. Dit is heerlik om hulle dop te hou terwyl hulle die son, sand en see geniet. Meer speel beteken ook hulle gaan goed slaap!”

Wanneer Luca eers die dae begin aftel voor hulle na ‘n bestemming vertrek, is die atmosfeer elektries en sy opgewondenheid aansteeklik.

“Luca mag gewoonlik ‘n deel van sy tas vol speelgoed pak en hy kies gewoonlik sy gunstelinge soos die Paw Partol-span. As deel van die vakansiebederf mag hy in die vakansie een ekstra speelding kry en dié koop ons daar.

“Vir Myra neem ek haar eie beddegoed en een of twee speeldingetjies om slaaptyd soos by die huis te laat voel.”

Nadine sê hulle skryf roetine maar op hul maag wanneer hulle by ‘n bestemming aankom.

“Soos almal daag hulle ook nuuskierig by die nuwe plekke op. Ons probeer in sulke gevalle nie te laat aankom nie, juis met die idee dat hulle die omgewing kan verken en hulself poegaai speel.”

Die kinders doen steeds waarvan hulle hou wanneer hulle weggaan.

“Ek dink die grootste uitdaging vir enigiemand wat met kinders vakansie gaan hou, is om te ontspan. As óns nie ontspan nie, gaan die kinders se wiele afkom.

“Moet dus nie verblyf reël waar jy jou gaan bekommer dat die kinders die Weylandts-bank en die Egiptiese katoenlinne met hul kryte gaan inkleur of wittebroodspaartjies op die strand gaan pla nie.

“Aanvaar dat romantiese vakansies en superluukse woonstelle vir eers onrealisties is.

“Maar onthou dat hierdie tyd kosbaar is en dat julle dit as gesin moet koester, wat dis in ‘n oogwink verby.

“Reël vakansies waar jy en jou man ook kan ontspan, soos saam met ouma en oupa sodat hulle ook kan help kinders oppas en julle ‘n bietjie kan ‘wittebrood’ met ‘n ete of ‘n hoofstuk of twee van ‘n boek.”

Haar raad aan gesinne wat vir die eerste keer ‘n vakansie saam met kinders aanpak, is om te ontspan en mekaar en hul kinders te geniet.

“Vakansies is so min en die lewe so kort. Dit is sleg om te sien hoe mense só voor die vakansie stres dat die hele doel daarvan daarmee heen is.

“Pak wat jy kan, ry wanneer jy uitgerus is, geniet die reis en kom veilig by jou bestemming aan, al moes jy Vader Jakob 1 000 keer sing!”

Wenk

Pak genoeg speletjies en ander vermaak om die kroos op die langpad besig te hou, stel Wietske voor.

CD’s met kindermusiek, ouderdomsgepaste DVD’s en lig-en-loer-boekies oor temas waarvan jou kind hou werk goed. Kleuters hou van boeke met plakkers.

“Speel speletjies soos om te kyk wie eerste ‘n rooi motor kan raaksien en hou gereeld stil om bene te rek.”

As jou baba nog klein is, kan jy hom vermaak deur linte van verskillende teksture en speelgoed met klokkies of ander klanke bo sy karstoeltjie te hang. Wessel die speelgoed af.

Oorleef die langpad

Die volgende uitdaging kan die motorrit op pad na julle bestemming wees. ‘n Dag in die motor kan ‘n kind se slaappatroon lelik omkrap, maar Petro het wenke om die situasie te beredder.

“Die geheim is om ook in die motor by jul gewone roetine te hou. As jou kind eers tienuur soggens slaap, kan jy hom tot dan met speletjies probeer wakker hou.

“Wanneer slaaptyd nader kom, kan jy hom met sagte musiek help rustig word. As hy tuis ‘n bottel kry voor slaaptyd, hou gou stil en gee hom sy bottel.”

As julle nie so ver gaan ry nie, stel Petro voor julle probeer die motorrit om jul kind se slaaptyd beplan.

Sy raai ouers aan om waar moontlik weg te bly van medikasie wat hul kinders meer lomerig of rustig gaan maak.

“Kinders het ‘n liggaamshorlosie en wat gaan jy vanaand doen as hulle heeldag in die motor slaap?”
Dit help ook om meer gereeld stil te hou en vars lug te skep.  Daar is talle vulstasies met pragtige grasperke, speelplek vir die kinders en plaasdiere.  Beplan vooraf waar en hoe dikwels julle gaan halt roep.

“Lang motorritte in die dag kan moordend wees, veral as jy ses of sewe uur aanpak. Ons slaap dus oor,” sê Nadine Marx Pienaar van Pretoria, ma van Luca (4) en Myra (1).

“Ons het ook al deur die nag gery en dit werk soos ‘n bom. Ons vertrek gewoonlik net voor slaaptyd en teen opstaantyd is ons gereed om ontbyt op die sand te eet.”

Slaaptyd voor die son sak

Op luilekker dae by die see, wanneer die son op sy mooiste skyn, is ‘n mens maar traag om huiswaarts te keer net omdat jou kind moet slaap.

Skep dan sommer daar op die sand vir hom ‘n knus nessie waar hy op die vasgestelde tyd kan dut.

“’n Mens moet maar werk met wat jy het,” sê Petro.

“Dit is definitief beter dat jou kind op ‘n vreemde plek slaap as dat hy die slapie heeltemal oorslaan.”

Dit is nog taamlik maklik om ‘n klein baba se slaaproetine te behou, maar peuters en kleuters sal dalk die vakansiegrense toets.

Span witgeraas in, trek die gordyne dig en gebruik dinge wat vir jou kind bekend is om hom te help om aan die slaap te raak, al het die son nog skaars gesak.

Terug by die huis

Jul roetine gaan bes moontlik nie presies soos by die huis behoue bly nie, want wie wil nou heeltyd die horlosie dophou?

Onthou net dat hoe meer dikwels julle met vakansie gaan, hoe meer werk gaan jy hê wanneer jul tuiskom, sê Petro.

“As jy die roetine heeltemaal laat staan terwyl julle met vakansie is, is dit jou verantwoordelikheid om dit weer te herstel.”
Neem ná die vakansie in ag dat julle dalk van jul roetine afgewyk het en probeer so gou moontlik weer in jul normale roetine terugkom, beaam Wietske.

“Dit sal soms moeilik wees en dis normaal. Dit duur gewoonlik sowat ‘n week voor ‘n jong kind weer by sy roetine aanpas. Moenie moed verloor nie, maar benader die situasie met geduld.”

Sommige kinders besef van kleins af ander reëls geld op verskillende plekke en sal hul roetine tuis dalk weer makliker aanvaar, troos Petro.

Wenk

“Selfs met vakansie moet daar duidelike grense gestel word,” sê Wietske.

“Besluit vooraf wat toelaatbaar is en wat nie. Moenie onnodig oor onbenullighede baklei nie, maak jul verwagtinge bekend en pas steeds dissipline toe wanneer nodig.

“Stel ook fisieke grense, soos waar dit veilig is om te speel.”