Druk artikel

As jy net te hard probeer
Vrouekeur 5 Mei 2017
Luisa van der Linde

Kan ouers te hard probeer om die perfekte ouers te wees wat superkinders grootmaak?

“As ‘n wetenskaplike en nuwe ma voer ek gereeld gesprekke oor kinderopvoeding,” sê Olivia Carter, ‘n senior navorser en lektor aan die Universiteit van Melbourne.

“Die probleem wat ek het met al die raad oor ‘doen wat die beste vir die kind is’, is dit: Dit veronderstel dat mens ‘n duidelike idee het oor wat ‘n perfekte kind of grootmens is.

Is dit ‘n topatleet? Is dit ‘n swemmer soos Phelps? Of iemand slim genoeg om die Nobelprys te wen? Sal dit nie beter wees om ‘n veelsydige kind wat ietsie van alles kan doen, groot te maak nie? Wat van jou kind se geluk? Kom dit nie eerste nie? Sou ‘n kind sonder probleme ideaal wees? Die rasioneelste gevolgtrekking in al dié debatte rondom kinderopvoeding is dat daar nie so iets soos ‘n perfekte kind bestaan nie”.

“Ouers probeer vandag te hard om superkinders groot te maak,” sê Joeylene van Jaarsveld, ‘n opvoedkundige sielkundige. Die meeste ouers se bedoeling is om die beste vir hul kinders te gee en vir hul kinders geleenthede te skep, sê Joeylene, maar omdat die samelewing vandag so baie van kinders vereis, word ouers in die prestasiestrik vasgevang en raak hulle angstig oor hul kinders se vermoë.

Wietske Boon, Gautengse spelterapeut stem saam: “Ek dink vir seker ouers oordoen dit. Daar is te veel aktiwiteite en te veel druk op kinders. Ek dink nie dié druk is doelbewus negatief nie. Ouers dink: Wat gaan van my kinders word as hulle nie nou presteer of in sekere vaardighede uitblink nie?”

“Die samelewing is konstant in kompetisie met ‘toptien’ of ‘my kind is beter as jou kind.’ Baie van dié vrese het te make met ouers se angstigheid dat hul kind nie eendag kan gaan studeer of dalk nie ‘n werk kry of ‘n sekere beroep volg nie. Kinders word op skool toenemend gedwing om al hoe vroeër sekere vaardighede baas te raak”.

Hoe raak dit jou kind?

“Kinders kan angstig, senuweeagtig,  depressief en aggressief wees as daar te veel van hulle verwag en te veel druk op hulle geplaas word,” sê Joeylene.

Volgens haar kan dit tot depressie en ‘n gevoel van onveiligheid lei as daar te veel verwagtinge by die ouerhuis is, bo en behalwe die eise waaraan die kind op ‘n sosiale, kognitiewe en emosionelevlak in die leeromgewing moet voldoen.

Angs. Wietske sien dikwels kinders wat angstig raak omdat die druk bloot te groot is. “Dis baie moeilik om vaste reëls neer te lê van wanneer ‘n spesifieke kind te veel druk gaan ervaar. Een kind kan ‘n spesifieke soort druk hanteer en ‘n ander nie. Jy as ouer moet jou kinders ken en weet wat elkeen kan hanteer.

Lae selfbeeld. “Baie kinders wat onder druk voel, het ‘n lae selfbeeld of ‘n gevoel van ‘ek is nie goed genoeg nie’,” sê Wietske. Hulle voel hulle word nie aanvaar nie.

Kinders kan ook emosioneel raak omdat hulle nie die druk kan hanteer nie. Hulle bars baie keer vir geen rede in trane uit, sê Wietske. “Hulle voel hulle kan nie ‘n aktiwiteit of proses bemeester nie omdat hulle nie die regte leiding het nie.”

‘n Vrees vir fouteer. Joeylene sê kinders moet toegelaat word om foute te maak, want hulle leer só. “Ouers maak ook foute en wanneer hulle dit kan erken, leer kinders dat foute universeel is. Dit is belangrik, want niemand kan perfek wees nie,” sê sy.

Oorafhanklikheid. Wietske en Joeylene meen afhanklikheid kan aanduidend wees van ouers wat te hard probeer.

Joeylene sê: “Ons doel as ouers moet wees om onafhanklike individue groot te maak sodat hulle toegeruste grootmense word. As daar te veel vir kinders gedoen word, word onafhanklike gedrag nie gekweek nie en jou kind sal nie vir die eise van ‘n volwassene toegerus wees nie. Dit kan tot ander emosionele problem lei.  Onafhanklike kinders het meer selfvertroue en ‘n positiewe selfbeeld om die onbekende aan te pak.”

Etikettering. Baie kinders word as “stout” of “hiperaktief” bestempel as hulle net buite wil speel of dit doen wat hul lyfie eintlik wil doen, sê Wietske

“Ek sien dit baie veral by seuntjies wat so vroeg as drie jaar by ‘n tafel moet sit en werk terwyl hulle wil hardloop en speel. Hul mis dikwels basisvaardighede wanneer hulle reggedruk word vir skool,” sê Wietske.

Probeer jy te hard?

Jy het nie kanse gehad nie en wil dit nou ten alle koste vir jou kind hê. Joeylene sê ouers moet bewus wees van hul kinders se unieke persoonlikhede en karaktereienskappe sodat hulle geleenthede kan skep om hul potensiaal te kan verwesenlik. Dit is ook belangrik dat dit vir die ouers gaan oor hul kinders en hul unieke behoeftes eerder as hul eie.

Jy glo daar is net één regte manier. Volgens Wietske wil baie ouers hul kinders in ‘n spesifieke boksie probeer sit. “Hulle dink mylpale moet op ‘n spesifieke tyd bereik word en leer vind op ‘n stoel by ‘n tafel plaas. Kinders verskil en elkeen ontwikkel en leer teen sy of haar eie tempo. Sommige leer deur by ‘n tafel te sit, terwyl ander net soveel leer terwyl hul lyfies besig is.”

Jy stel nie grense nie. “Een van die duidelikste tekens dat ouers té hard probeer, is dat daar nie duidelike grense vir hul kind gestel word nie,” sê Wietske. Baie ouers is te toegeeflik met dissipline en te skrikkerig vir hul kind se reaksie. Dit lei tot inkonsekwente dissipline.Dit sluit aan by ouers wat té inskiklik is.

“‘n Maatjie doen byvoorbeeld ‘n buitemuurse aktiwiteit en jou kind vra: ‘Mamma, kan ek dit ook doen?” Dan sê Mamma: ‘Ag, jy kan dit ook maar doen’.

Ouers moet hul kinders keuses gee: ‘Jy doen reeds ballet, so jy kan nie nog iets doen nie.’

Dit is ouers se verantwoordelikheid om seker te maak dat hul kinders wel die tyd en energie vir al hul aktiwiteite het,” sê Wietske.

Jy fokusop die uitkoms in plaas van die proses. Die samelewing se verwagtinge is te hoog. Kinders voel as hulle aan iets deelneem, moet hulle presteer. Hulle kan dit nie net sommer vir die lekker doen nie, sê Wietske.

“Ek sê vir ouers die proses moet vir die kinders lekker wees. Vermy dit om net te fokus op die uiteinde van die aktiwiteit waaraan die kind deelneem. Met ander woorde, hoe die span vaar, wat die telling is en hoe die kind vorder,” sê Wietske.

Jy is nie gepla of dit ouderdomsgepas is nie. Ouers moet seker maak die aktiwiteite waaraan hul kind deelneem, is ouderdomsgepas. ‘n Driejarige kind kan vir drie minute konsentreer, ‘n vierjarige vir vier minute en kinders kan eers van ses jaar af 11 minute konsentreer. Baie keer is die verwagting dat kinders langer as hul konsentrasievermoë aan ‘n spesifieke aktiwiteit moet deelneem.

Jy vergelyk jou kind met ander. As jou kind ‘n aktiwiteit geniet, is dit belangrik, sê Wietske. Vergelykings is onnodig.

Wees ‘n rustige ouer

Joeylene se raad:

Jy moet jou kinders ken en weet wat hul potensiaal is. Wees bewus van wat jy van jou kinders verwag voordat daar geleenthede geskep word. 

Ouers meot betrokke wees en leiding gee.  Kommunikeer met jou kinders sodat julle saam oor hul aktiwiteite kan besluit.

Kyk na jou kinders se sterk en swakker punte. Skep geleenthede sodat jou kinders se sterk punte nog meer kan ontwikkel, want dit is die vaardighede wat hulle in die toekoms sal gebruik.

Kinders kan vining en maklik aan uitbranding ly, daarom is balans baie noodsaaklik.  Kinders het tyd nodig om te speel en kind te wees.  Dit is belangrik om te luister na wat jou kinders vir jou sê en hul gedrag dop te hou.  Alle geleenthede wat vir kinders geskep word, moet positief en daarop gemik om hul potensiaal te verwesenlik.

Ouers moet ‘n veilige omgewing vir hul kinders skep.  Kinders moet voel hullu kan hul suksesse en teleurstellings deel.  Jou kinders se emosionele gesondheid is baie belangrik sodat hulle kans sien om dinge in die samelewing aan te pak.

Rus hulle met vaardighede toe sodat hulle in die toekoms onafhanklik uitdagings kan aanpak.

Wietske se wenke:

  • Moenie jou ore uitleen nie. Baie kere tree ouers op ‘n sekere manier op en sê “hierdie boek sê so of daardie vriendin sê ons moet dit só doen”.
  • Vertrou jou instink en ken jou kinders. Weet wat jou kinders in staat is om te doen en wat hulle gelukkig maak.
  • Fokus eerder op die proses as uitkoms. Dit geld veral buitemuurse aktiwiteite. Kinders het aanmoediging nodig.
  • Daar is ook kinders wat baie druk op hulself plaas. As jy so kind het, moet jy hom of haar aanmoedig om meer plesier uit die proses te kry en minder op die eindresultaat te fokus.
  • Jou kinders moet weet dat almal foute maak. Jy kan ook jou eie foute vir jou kind uitwys en sê: “Kyk, Mamma maak ook foute”.
  • Bevestig vir jou kinders dat hulle goed genoeg is. 
  • Maak tyd en gee onverdeelde aandag aan elkeen van jou kinders. Dit gee ook vir jou kinders die boodskap dat hulle belangrik is. Dis so eenvoudig soos om net saam met jou kind iets te doen waarvan hy of sy hou.
  • Maak genoeg tyd vir ontspanning. Almal se skedules is so vol. Ontspanning val soms laaste in die ry.
  • Kinders moet soms sonder reëls en verwagtinge net kan speel en wees.
  • Pak saam ouderdomsgepaste aktiwiteite aan en fokus op wat jou kinders se behoeftes is. Moenie hulle druk om die volgende stap te bereik as hulle nog nie gereed is nie.
  • Haal asem. Ontspan net daaroor. Ek dink ouers is te gespanne dat hulle nie goeie ouers is nie. Probeer net ‘n goeie balans tussen werk, speel en buitemuurs handhaaf.

 

 

Bronne:

The science of raising a perfect child deur Olivia Carter Senior Navorser by die Universiteit van Melbourne, gekry by: theconversation.com: Babies versus science

https://www.forbes.com/sites/kathycaprino/2014/01/16/7-crippling-parenting-behaviors-that-keep-children-from-growing-into-leaders/#64063e9a5957