Druk artikel

Stories vir jong ore
Wietske Boon

Hulle oortjies kan nie genoeg kry van stories nie en hul breintjies ontwikkel so vinnig soos mostertsaadjies wanneer hulle deel word van die fantasiewêreld wat stories oop maak. Vertel jy genoeg stories vir jou kroos?

Voor ons seuntjie se geboorte het ek begin om kinderstories te lees en het dit op my slimfoon opgeneem. Ons het toé reeds begin belê in boeke en nou, ‘n paar jaar later het ons rakke vol fantasie en verhale wat na nuwe wêrelde lei.

As baba, net ‘n paar daggies oud, het ek die vooraf opgeneemde stories aangesit sodat ons baba daarna kon luister terwyl ek doek ruil of ek gou aandag aan ‘n huistakie gee. Ons het deur boeke geblaai en stories opgemaak nog voordat hy kon praat. Soos hy groter geword het, het hy al meer begin deelneem aan die nabootsing van dieregeluide, die uitwys van bekende prentjies en die omblaai van dik, karton bladsye.

Storieboeke gaan oral saam, ons lees dit in die sitkamer, in die bed, in die motor, blaai daardeur in die kerk en dit gaan verseker saam piekniek! Die bladsye het haasore en vuil vingertjies op die papier; dít vertel van ‘n seuntjie wat van boeke hou.

‘n Uitstappie biblioteek toe is ‘n fees. Daar kry ons nie genoeg van die verskeidenheid nie. Ons lees dit sommer daar en kies ‘n paar om saam te neem huis toe.

Ek wil jou sê, stories is nie net in boeke nie. Na drie jaar se stories opmaak en lees maak ons seuntjie nou sy eie fantasiestories terwyl hy met sy speelgoed speel, in die bad sit of met dít wat hy deur die motorruit sien.

Sy uitgebreide woordeskat en vermoë om te fantaseer help hom om sy emosies te reguleer. Wanneer hy ontsteld of bang is, gebruik hy sy ervaring van die situasie in ‘n speletjie of storie om sin daarvan uit te maak en dit te hanteer. Hy dra indirek ‘n boodskap aan my oor dat hy nie gelukkig voel nie en ek kan hom direk of indirek (deur ‘n storie) help om oplossings te vind en die emosies te verwerk. Hieruit vloei nuwe stories wat hom gerus stel en laat ontspan.

Hoe sou ek aan hom verduidelik dat sy geliefde hond nie meer lewe nie, as ek nie ‘n storie daarom kon skets wat vir hom verstaanbaar was nie? Hoe vertel ek vir hom sy lewensverhaal, as ek dit nie as ‘n storie kan vertel nie?

Elkeen van ons het ‘n storie om te vertel. Elkeen van ons kan ‘n storie versin uit ‘n prentjie voor ons. Of jy nou ‘n storie uit ‘n ou tydskrif of koerant lees of jou eie slaaptydstorie opmaak, kinders het stories nodig. Eendag gaan hulle stories oordra aan hul kinders, en hulle kinders se kinders. Daarom het hul nodig om vandág ons stories te hoor.  Stories oor die sewe dwergies, aspoestertjie, rooi kappie, die man op die maan……

Ek wil stories vertel tot ek eendag moet sê: “Fluit, fluit my storie uit,” of “Akkerblaar, akkerblaar, my storie is nou klaar.”