Druk artikel

Kleine oortjies hoor baie!
Vrouekeur 7 September 2018
Luisa van der Linde

Wat praat jy voor jou kinders en wat is oukei en wat nie? Luisa van der Linde vind uit.

“Ag, sommer husse met lang ore.” Menige nuuskierige agie is al met daardie woorde in grootmensgeselskap begroet! Waarvan praat jy voor jou kinders? Is hulle gereed vir sensitiewe praatjies of ‘n afpaksessie oor die politiek?

Cecilia Klopper is besig met haar doktorsgraad in opvoedkunde en is direkteur van haar eie akademiese en ouerleidingsonderneming CURAparent.

Cecilia sê ouers behoort te alle tye ‘n positiewe rolmodel te wees van goeie burgerskap, respek en die bevordering van goeie menseverhoudings in die algemeen.

“Ouers behoort hulle woorde baie versigtig te kies wanneer daar kinders in die geselskap is. Al dink ons hulle is nog te klein om te verstaan óf oud genoeg om dinge te verstaan en te verwerk waaroor ons praat, veroorsaak dit soms baie angs en verwarring by hulle. Veral jong kinders neem alles letterlik op en verstaan nie altyd wat die ouers bedoel nie”.

Sy sê ouers moet deurentyd, selfs in krisistye, goeie waardes soos respek, liefde, selfbeheer, nie-seksisme en nie-rassisme aan hul kinders oordra.

Wietske Boon, ‘n Gautengse spelterapeut, sê ons lewe in ‘n gebroke wêreld waar daar nare dinge gebeur.

“Ons wil tog nie al die slegte dinge met ons kinders deel nie. Hulle verstaan dit nie, het nie beheer daaroor nie en dit ontstel hulle onnodig”. 

Die ander kant van die munt is dat ouers ook nie inligting bloot net van hul kinders kan weerhou nie.

Wietske sê ‘n goeie riglyn om inligting met kinders te deel, is om vir veral kleuters, positiewe en ligte stories oor die onderwerp te vertel.

“Karakters kan selfs diere wees, maar vereenvoudig die inligting tot op jou kind se vlak. Laerskoolkinders kan bietjie meer inligting ontvang – wat steeds positief en opbouend is, hoewel dit vir die kind verstaanbaar en hanteerbaar moet wees. Met hoërskoolkinders kan ‘n mens oor sake begin redeneer. Maak ‘n stelling en hoor wat hul gevoel daaroor is”.

Cecilia sê kinders behoort teen ontstellende nuusgebeure beskerm te word.

“Nuus moet, indien kinders dit wel sien, nie uit verband geruk word nie. Ek sou uit ‘n opvoedkundige oogpunt aanbeveel dat ouers van kleiner kinders hulself liewer aanlyn met nuusgebeure op datum bring en nie saans gedurende spitstyd, as kinders ook in die woonkamer is, die nuus aansit nie. Moenie kinders met politieke probleme belas nie. Dit ontstel hulle net onnodig en ons wil kinders altyd laat glo dat die beste nog voorlê. Hulle mag vrees opbou vir die toekoms van die land. Dit hits ook rassehaat aan. Hulle hoor dalk dat die regering almal se grond net wil vat... Waar gaan hulle dan bly? Wat gaan van hulle klere en speelgoed word? Ouers behoort liefs nie negatiewe stellings oor die regering voor die kinders maak nie.

Cecilia sê as ouers voel dat iets wel met die kinders bespreek moet word, doen dit op ‘n opbouende manier en verduidelik dit mooi aan hulle.

“Probeer om altyd ‘n positiewe boodskap aan jou kinders oor te dra. Dit motiveer hulle en gee hulle hoop en moed vir die lewe”.

Wietske sê veral ten tyde van verkiesings is dit goed om met die kinders te gesels oor wat ‘n verkiesing behels, waarom mense stem en wat die regering en landsburgers se rol in die land is.

“‘n Mens mag verskil met die manier waarop die regering besluite neem en mens mag dit sê. Dit is goed om met ouer kinders te redeneer oor waarom julle nie saamstem nie, wat die redes is en watvan ons land se leiers verwag word. Die gesprek behoort egter steeds baie‘lig’ te wees”.

Ouers moet met die nodige respek praat, want ouers is kinders se rolmodelle.

“Dit is bitter moeilik om respek by kinders te kweek as ons self nie respek aan ander betoon nie. Selfs al stem ons nie met ander se manier van doen saam nie, moet ons ‘n wag voor ons mond plaas. Kinders hoor wat ons sê, al dink ons hulle luister nie,” sê Wietske.

Wat praat ons oor verhoudings?

“Met klein kinders praat ons al oor mededeelsaamheid, respek en empatie. Soos wat kinders groot word, word hul verhoudings ook meer kompleks en soos dit nodig is, kan vrae beantwoord en probleme oorkom word, sê Wietske.

Dit is ‘n leerskool wanneer verhoudings nie uitwerk nie, kinders teleurstellings ervaar, of bloot net die plesier van ‘n nuwe verhouding geniet”.

Wietske sêdat verhoudings veral vir tieners baie belangrik is.

“Hulle vind hul identiteit in hierdie fase en deel daarvan is die verhoudings wat hulle koester. Luister na wat hulle sê en ook nie sê nie. Hanteer inligting ten opsigte van vriende baie sensitief. Kinders leer ook baie uit ouers se verhoudings met mekaar, met hul vriende en selfs met die man op straat. Wees altyd ‘n voorbeeld van respek, konflikhantering en die oplos van verskille”. 

Sy lê daarop klem dat intieme familiesake nie sommer net lukraak voor kinders bespreek mag word nie.

“Ouers moet ook daarop bedag wees om nie voor die kinders rusie te maak nie. ‘n Beskaafde meningsverskil oor watter sous om in die resep te gebruik, is aanvaarbaar, want so leer ‘n kind ook onderhandeling as vaardigheid, maar sodra stemme verhef word en respek en goeie kommunikasie by die deur uitwaai, moet dit maar liewer in privaatheid en buite hoorafstand van die kinders gedoen word. Ouers moet selfbeheer toepas en hul kinders se gevoelens respekteer, aangesien selfbeheer en respek ook waardes is wat kinders by ouers moet leer.”

Sy sê as kinders ingelig moet word oor ‘n kwessie soos dat ouers gaan skei, moet dit ook weer eens op ‘n opbouende en positiewe manier gedoen word wat nie die pa of ma in ‘n swak lig plaas nie. Die goue reël hier is: As Pa en Ma goed by die nuwe verwikkelinge aanpas, sal die kinders ook goed daarby aanpas en selfs die positiwiteit daarin raaksien”.  

Oor geldsake

Wietske sê geldsake is ‘n belangrike onderwerp wat ook van kleins af bespreek word.

“Leer jou kinders om te spaar, hul speelgoed op te pas, dat hul nie alles kan kry wat hulle wil hê nie en dat daar eers aan die basiese behoeftes, soos kos en klere, voldoen moet word”.

Sy sê soos kinders ouer word, word die gesprekke rondom geldsake natuurlik meer uitgebrei en jongmense kan vir ekstra geld begin werk.

“Kinders het nie nodig om te weet wat in hul ouers se bankrekening aangaan nie. Ja, ‘n mens kan vir hulle sê as die luukshede gesny moet word, maar hul moet hulle nie bekommer of daar genoeg kos gaan wees en of hulle ‘n dak oor hul koppe gaan hê nie. Kinders behoort nie skuldig te voel omdat daar aan hul basiese behoeftes voldoen moet word nie,” sê Wietske.

Sy meen mense kan hul kinders van kleins af van ander se behoeftes bewus maak deur byvoorbeeld te klein klere of ou speelgoed by hulpbehoewendes af te gee.

In breë trekke som Wietske dit só op: “Kinders behoort te hoor wat hulle kan verstaan sonder dat dit onnodige spanning veroorsaak”.

Cecilia stem saam dat ouers baie versigtig moet wees wat hulle voor die kinders sê wanneer finansies ter sprake is.

“Kinders moenie die idee kry dat daar soveel geld beskikbaar is dat hulle maar kan geld mors en dat skuld nie regtig in ‘n ernstige lig beskou moet word nie”.

Sy is dit met Wietske eens dat kinders nie met onnodige besonderhede oor die begroting opgesaal behoort te word nie.

‘n Geskinder

Cecilia sê ouers moet ‘n punt daarvan maak om nie familielede voor die kinders af te kraak of te beskinder nie.

“Onthou, jou kind is lief vir daardie ouma of pa wat nou so afgekraak word, dus plaas jy jou kind in ‘n baie moeilike posisie. Ouers moet hul verantwoordelikheid as ouers onthou, naamlik om te alle tye goeie rolmodelle te wees. Kinders verloor dikwels hul respek vir die ouer wat hom of haar hieraan skuldig maak”.

Wietske se wenke vir ouers

Wat jy sê:  Inligting behoort nie kinders te ontstel nie

Hoe jy dit sê:  Mens se liggaamstaal weerspieël hoe jy werklik voel en jong kinders verstaan nie sarkasme nie. Vermy dit liefs.

Wanneer jy dit sê: Onderwerpe behoort op geleë tye bespreek te word. Vermy om oor gewigtige sake te praat as jy weet julle het nie tyd om die gesprek te voltooi nie. Sou jou kind ‘n vraag op ‘n ongeleë tyd vra, wees eerlik met jou kind dat julle nie nou daaroor kan gesels nie, maar reël ‘n tyd wat julle albei pas en dan kan julle rustig oor die onderwerp gesels.

Vir wie jy dit sê en wie dit hoor:  Soms gesels jy met jou vriende, waar die kinders die gesprek kan hoor. Hulle maak dan hul eie afleidings of ervaar onsekerhede ten opsigte van die onderwerp.

Watter voorbeeld stel jy?

Cecilia lê ook veral klem op ouers se taalgebruik, ouderdomtoepaslikheid en sake wat direk op jou kind van toepassing is. “Dit is belangrik dat ouers op hul taalgebruik let wanneer hulle in die geselskap van hul kinders is. Soms maak ouers onvanpaste grappe en dink glad nie dat kinders nie gereed daarvoor is nie. Kinders behoort te alle tye ‘n goeie voorbeeld by hul ouers te kry wat taalgebruik betref, anders bring hulle jou straks in groot verleentheid”.