Druk artikel

Die brein en trauma
Baba & Kleuter Okt/Nov 2018
Daniella de Wit

Het jou kind se gedrag verander nadat hy ‘n traumatiese ervaring deurgemaak het? Dit kan wees dat sy breinpaadjies aangetas is...

Zander Esterhuizen (6) was in sy naskoolklassie toe ‘n tornado die skool in Oktober verlede jaar tref.

“Ná die voorval was hy en sy ousus uiteraard geskok en het ons hulle vir berading gestuur, maar terwyl sy sussie met haar lewe aangegaan het, was dit vir Zander nie so maklik nie,” vertel ma Zerelda.

Die Klerksdorpse seuntjie was skielik skrikkerig vir harde geluide, vreesbevange as die wind opkom en het histeries geword as die weer net effens begin opsteek het. Hy het onophoudelik vrae oor die weer en veral tornado’s gehad. Die berading het gehelp, maar maande later is hy nog skrikkerig vir die weer.

Het die skok iets in sy brein verander?

Waarskynlik, sê kundiges.

“Zander het hewige trauma deurgemaak toe hy in 'n situasie beland het waaroor hy geen beheer gehad het nie.  Dit het hom onveilig laat voel, veral omdat sy ondersteuningstelsel - sy ouers - nie daar was om hom te beskerm nie,” verduidelik Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Centurion in Gauteng.  

Op die oomblik waarin hy die trauma ervaar het, het sy brein al die moontlike gedoen om te oorleef, en het die tipiese veg-, vlug- of vries-reaksie ingeskop. As ‘n soortgelyke situasie dan opduik, word hierdie reaksie geheraktiveer, verduidelik Wietske. Dis waarom hy dan weer vreesbevange raak.

“Só ‘n kind moet intensiewe, selfs langtermyn-terapie kry sodat hy deur die trauma kan werk en vaardighede kan aanleer om dit ‘n volgende keer te hanteer. Sy ouers moet ook op die uitkyk wees vir simptome van posttraumatiese stresversteuring sodat dit so gou as moontlik behandel kan word.”

Klein kinders

Trauma kan ‘n groot invloed op kinders se breinontwikkeling hê, sê dr. Henk Swanepoel, ‘n kliniese sielkundige van Centurion. Hy verduidelik: 

Ons brein is ontwerp om inligting te verwag, te berg, te ervaar en daarop te reageer. Dis hoe ons leer. Ervarings wat ons nou het, leer ons wat om in die toekoms van dieselfde omgewing te verwag.

Dit gebeur omdat die brein senubane (breinpaadjies) tussen strukture vorm waarlangs boodskappe gestuur word.

Die meeste van hierdie paadjies ontwikkel voorskools. Teen drie jaar oud is 80 persent van die brein al ontwikkel, en teen vier jaar is dit ‘n volle 90 persent.

As ‘n kind in hierdie tyd van intense ontwikkeling trauma ervaar, kan dit die ontwikkelende senubane beïnvloed. As die trauma herhaaldelik plaasvind, kan die ontwikkeling van gesonde senubane ondermyn word.

Dit kan binding met ouers, kognitiewe ontwikkeling en emosionele selfregulering beïnvloed.

Die goeie nuus is dat omdat die brein op hierdie jong ouderdom nog ontwikkel en so plooibaar is, terapie ook baie meer doeltreffend aangewend kan word as in later jare, sê Henk. 

Ouer kinders

Maar Zander is ses jaar oud en sy brein is so te sê klaar ontwikkel – hoe word hy deur trauma beïnvloed?

Henk verduidelik dat die brein tot met skoolgaande ouderdom aanhou ontwikkel, net teen ‘n stadiger pas.

“In hierdie fase word die reeds ontwikkelde senubane versterk sodat die kind meer ingewikkelde vaardighede kan bemeester. Dit sluit in impulsbeheer, bestuur van emosies en om aandag te fokus. Daarom kan trauma op skoolgaande ouderdom ‘n betekenisvolle invloed op ‘n kind se leervermoë, sosiale verhoudinge en skoolvordering hê,” verduidelik hy.

Maar weer eens: As trauma aanhoudend van voorskoolse tot skoolgaande ouderdom voortduur, kan dit ‘n kind se breinontwikkeling sleg beïnvloed. 

So kom dit tot uiting

Voorskoolse kinders internaliseer die trauma, terwyl skoolgaande kinders se gedrag na buite geprojekteer word, sê Henk.

‘n Kleiner kind sal hom dus eerder sosiaal onttrek, terwyl ‘n ouer kind aggressief kan begin optree.

Dit verskil egter van kind tot kind. In die tienerjare versnel breinontwikkeling weer en neem aandag, konsentrasievermoë, redenasievermoë en hoëvlakdenke toe. As ‘n kind dan trauma beleef, word die senubane aangetas wat kommunikasievaardighede ontwikkel.

“Dit kan veroorsaak dat die tiener impulsief optree, middels gebruik en selfs misdade pleeg,” sê Henk. 

Hoe kan kinders gehelp word?

Psigoterapie kan die uitwerking van trauma op die brein beperk, sê die Centurionse sielkundige dr. Henk Swanepoel.

“In‘n studie aan die navorsingsuniversiteit King’s College in Londen is in 2017 gevind dat kognitiewe gedragsterapie die versteurde senubane kan help herstel,” verduidelik hy.

Dié terapie behels dat ‘n mens met behulp van jou terapeut maniere vind om anders oor jou probleme te dink en jou optrede te verander.

Hoe vroeër met terapie weggespring word, hoe beter vir senubaanontwikkeling.

Vir klein kinders is spelterapie van groot hulp, sê die spelterapeut Wietske Boon. Dit behels dat kinders speelgoed inspan om hul gedagtes en ervaringste deel sonder dat hulle noodwendig met woorde kommunikeer.

“Die terapeut lei die kind om bewus te word en spesifieke emosies of vrese te verwoord,” verduidelik sy.

Die kind word ook gelei om die emosies te herken en hanteer sodat vrese oorkom kan word. Namate nuwe breinpaadjies in die veilige ruimte van die terapeutiese speelkamer vorm, leer die kind dat hy nie altyd hoef te veg, vlug of vries nie. Hy leer dat hy in die meeste gevalle veilig is en kan ontspan, verduidelik Wietske.

Indien nodig moet die ouers ook by die behandeling betrokke wees - selfs die hele gesin en steunstelsel. Die terapeut sal byvoorbeeld aanbevelings maak oor hoe die kind se behoeftes hanteer kan word en hoe hy in alledaagse situasies gelei kan word om spanning en vrese te hanteer.

Die Amerikaanse neuropsigiater dr. Martin Teicher het gevind dat sielkundige trauma die taaldeel van die brein (oftewel die temporale lob) aantas, asook die limbiese stelsel, waar emosies verwerk word.

Hy het ook gevind dat as ouers hul kinders verbaal mishandel, die witstof van daardie kinders se brein aangetas word, sê Kerry Rudman van Brain Harmonics in Durban.

Brain Harmonics help mense om toestande soos angstigheid en depressie op te los deur hul brein te “herbalanseer.” Daarvoor gebruik hulle ‘n proses wat neuroterugvoering genoem word.

“Neuroterugvoering kan nie die trauma in die brein omkeer nie, maar dit kan jou wel help om die gevolge daarvan beter te hanteer,” sê Kerry.

“Die veg- of vlugreaksie wat jou brein inspan om trauma te hanteer, kan jou konfronterend maak of tot gedragsprobleme lei. Met die hulp van neuroterugvoering kan traumaslagoffers verdere trauma en konfliksituasies beter bestuur.”