Druk artikel

Hospitaalstorie 1: 'n Operasie in die woud
Wietske Boon

Christiaan voel nie lekker nie.  Juffrou het vir mamma gebel om hom by die kleuterskool te kom haal.  Hy wil eintlik nog met sy maatjies speel, maar sy keel is alweer só seer!  Dis sommer aaklig!

Mamma lyk ook al moedeloos omdat Christiaan so baie siek is. Sy sê Christiaan moet weer dokter toe gaan sodat die dokter kan help dat hy gesond kan word.

Hierdie keer sê die dokter iets van mangels en hospitaal en operasie. Christiaan verstaan nie alles wat Dokter vir mamma vertel nie. Dit lyk darem asof mamma weet wat die dokter sê. Voordat hulle by die dokter se spreekkamer uit loop, gee die dokter vir Christiaan ‘n rooi suiglekker omdat hy so dapper was.

Op pad huis toe verduidelik mamma vir Christiaan wat die dokter gesê het en sy vertel vir hom hierdie storie:

***********************

Lucia Nagtegaal was 'n bruin voëltjie. Haar nes was in ‘n groot boom in ‘n pragtige woud. Wanneer sy haar bekkie oopgemaak het, het sy die mooiste liedjies gesing.  As Lucia begin tjirp het, het al wouddiere gestop waarmee hul besig was en bewonderend na die hoë boomtoppe gestaar waar die pragtige musiek vandaan gekom het. 
 

Eendag het Lucia met 'n baie seer keel opgestaan. Sy het steeds uit haar nes gewip, haar vere reggeskud en op haar tak gaan sit om te sing, maar o wee! Haar tjirp was maar net 'n tjtj...tjitji...tjietjie...

Die diere in die woud was ongemaklik met die vreemde geluide in hulle woud. Hulle het hul goedjies opgepak en gevlug. Naaldekoker, wat bo die woud-poel gedraai het, het na sy nes toe gevlieg en muishond het terug in sy gat geklim. Dit is Skiri eekhoring wat besluit het om ondersoek te gaan instel na die ge-tjtj...tjitji...tjietjie. Hy het rats van tak tot tak gewip en daar het hy vir Lucia al huilende op haar tak gesien staan.

"Wat skort, Lucia?" het Skiri bekommerd gevra. 

"Ag," het Lucia geantwoord, "my keel is so vreeslik seer. Ek kan net tjtj...tjitji...tjietjie... My mooi getjirp is vandag weg. Ek kan nie meer sing nie. Kyk, al die wouddiere gaan kruip weg as ek my bek oopmaak."

"Moenie huil nie, Lucia. Ek weet jy is hartseer, maar ek is seker Dr. Uil sal 'n wyse plan kan maak."

Skiri is rats daar weg om Dr. Uil se raad te gaan vra.

Teen skemer het Skiri en Dr. Uil by Lucia se nes aangekom. Dr. Uil kan natuurlik baie beter sien in die donker. Hy het sy brille opgesit, sy tas onder sy vlerk uitgehaal en dit oopgemaak.

"Sê Ahhh," het Dr. Uil vir Lucia gevra, sodat hy in haar keel kon kyk.

"Nes ek gedink het," het Dr Uil uitgeroep.

"Daar is kieme in jou keel. Dit is húlle wat jou so siek maak."

Dr. Uil het weer in sy swart tas gekyk en hierdie keer 'n masker en balon te voorskyn gebring. Hy het vir Lucia gevra om die ovaal masker oor haar bek te sit en die balon deur die masker op te blaas.

"Maar ek is bang, Dr. Uil!"

"Ek weet jy is bang Lucia, maar ons sal mooi na jou kyk."

Die masker het haar mond sleg laat proe, maar dit was nie lank nie toe slaap Lucia vas.

"So ja," het Dr. Uil gesê.  "Skiri, laat ons die kieme uithaal."

Tjoef, tjaf was die kieme in Lucia se keel uitgehaal en kort daarna het sy wakker geword. 

"Wat gaan aan?" wou sy weet. 

"Ons het die kieme in jou keel uitgehaal terwyl jy geslaap het. Binnekort gaan al die wouddiere weer jou musiek bewonder. Rus eers 'n bietjie sodat jou keel heeltemal gesond kan word. Skiri sê hy sal 'n ogie oor jou hou totdat jy beter is."

Net 'n paar dae later het al die diere fees gevier omdat Lucia weer haar tjirpende ou self was. Lucia het musiek gemaak, eekhoring het gedans, naaldekoker het sy lug-toertjies gedoen en al die ander wouddiere het eetgoed uitgepak vir die grootste fees wat die woud nog ooit gehou het.

"Ons het jou lied van die nagtegaal gemis Lucia. Ons is so bly jy kan weer vir ons sing!" het al die wouddiere gejuig.

*************************

"Christiaan, net soos Dr. Uil die kieme uit Lucia se keel gehaal het, gaan die dokter die kieme in jóú keel uithaal. Daarvoor moet jy hospitaal toe gaan. Mamma gaan heeltyd by jou wees en oor 'n paar dae gaan jy weer reg wees om terug te gaan skool toe en saam met jou maats te speel en baljaar. "

So het dit ook gebeur. Nie lank na Christiaan se operasie nie, was sy keelseer weg en kon hy weer saam met sy maats buite speel.