Druk artikel

Hospitaalstorie 2: Kino in die hospitaal
Wietske Boon

Marli weet hoe klink ‘n ambulans se sirene, ‘n hond se blaf en haar baba boetie se huil…maar hierdie geluid wat uit haar keel kom…dit is vreemd! Dit maak haar keel baie seer en haar hart sommer bang. Dit is glad nie lekker nie.  Mamma sê sy hoes vreeslik! Haar mamma sê ook sy moenie bekommer nie, die verpleegsters en dokters in die hospitaal sal mooi na haar kyk.


Toe Marli se ogies toe gaan en sy aan die slaap raak droom sy van ‘n skilpad in ‘n woud. 

Kino skilpad lê op ‘n groot palmblaar en die woudgoggas het vir haar ‘n sagte kussing van blomblare gemaak. Kino skilpad voel glad nie lekker nie, want as sy haar mondjie oopmaak, kom daar snaakse geluide uit. Haar keel is so seer en haar skilpad-lyfie is baie warm. Connie hasie druk ‘n stokkie teen Kino se kop. Die stokkie wys hoe warm Kino se lyfie is. Dis nie goed vir skilpaaie om so warm te word nie. Die warmte maak skillie nog sieker voel. Connie skud haar kop en daar is ‘n frons op haar gesig. Kino kan sien Connie hasie is nie gelukkig nie.

“Tyd vir jou medisyne” sê Connie.

Kino hou nie van medisyne drink nie, maar sy weet dat dit haar gesond gaan maak.

Die medisyne lyk soos aarbei-sap. Connie het dit in ‘n ronde blaartjie gegooi sodat Kino dit makliker kan drink.

Naaldekoker kom verby gevlieg om te vertel dat hy Dr. Uil gesien het. Dr. Uil is op pad, maar hy help net eers vir Lucia Nagtegaal, wat ook ‘n keelseer het.

Connie was reg, die medisyne maak Kino skilpad beter voel en toe Connie weer die stokkie teen Kino se kop hou, was sy gelukkig nie meer so warm nie.

Toe Dr. Uil daar aankom wou hy weet wat fout is. Kino en Connie verduidelik vir Dr. Uil van die vreemde geluide wat uit Kino se keel kom as sy hoes. Dr. Uil maak sy tas oop en haal eers ‘n stetoskoop uit om na Kino se hart en longe te luister.

Doef, doef, doef maak Kino se hartjie deur die stetoskoop.

“Haal diep asem, Kino,” sê Dr. Uil.

Kino haal diep asem.

“Hoes,” vra Dr. Uil.

Kino probeer haar bes om ‘n hoes te gee.

Dr. Uil bêre sy stetoskoop en haal ‘n houtstokkie uit sy tas.

“Dit lyk soos ‘n roomys stokkie,” dink Kino.

“Ek wil graag in jou keel kyk, Kino. Maak oop jou mond, steek jou tong uit en sê aaaa…”

Weer doen Kino wat Dr. Uil vra.

“Kino, dit lyk vir my jy het bronchitis. Ons sal vir jou medisyne moet gee en stoom om jou longe gesond te maak. Ongelukkig sal ons vir jou ‘n drup moet aansit sodat die medisyne jou vinniger gesond kan maak. Dan kan jy vinniger huis toe gaan. Maar eers wil ek hê Connie haas en Meerkat moet x-strale van jou longe vat.”

Kino lyk nie gelukkig nie, maar Dr. Uil weet beste.

Dr. Uil en Connie kry alles reg om vir Kino ‘n drup op te sit. Kino is bitter bang vir die ding, maar omdat sy so stil lê het was dit eintlik nie so seer nie en was Connie en Dr. Uil vinnig klaar. 

Toe Kino skilpad vir die x-strale moet gaan, verduidelik Connie dat die x-strale net ‘n foto is van hoe ons lyfies binne lyk. Dan kan Dr. Uil sien hoe haar longetjies lyk, want hy kan tog nie van buite sien hoe dit binne lyk nie.

Muishond het Connie met die x-strale kom help en hy was baie gaaf. Hy het gevra dat Kino baie stil moet lê sodat hy die foto kan neem.

Dr. Uil het na die tyd teruggekom en die fotos in die lig gehou om die prentjie van Kino se longe te kyk. Dr. Uil knik sy kop tevrede, want sy diagnose was reg. 

Dr. Uil moes weer ander diere gaan help, maar Connie het by Kino gebly om seker te maak sy drink haar medisyne en dat sy nie weer koors kry nie. Connie het ook vir Kino gehelp om die stoom masker oor haar neus en bekkie te hou, omdat die stoom ook help om Kino gesond te maak.

Elke dag het Kino bietjie beter gevoel en nie lank daarna nie kom Naaldekoker weer met die nuus dat Dr. Uil op pad is. Hierdie keer is Dr. Uil tevrede toe hy na Kino se longe luister. 

Kino kon huis toe gaan, maar sy het belowe om al haar medisyne by die huis klaar te drink, want Kino wil nie weer siek longe hê nie.

------------------- 

Toe Marli wakker word sit mamma nog langs haar bed. Die verpleegster het kom kyk hoe dit met Marli gaan. Marli steek haar hand uit sodat die suster die knypertjie met die rooi liggie oor haar vinger kan sit. Dit help die suster om te sien hoe vinnig Marli hartjie klop en of haar longe genoeg asem haal.

Nie lank daarna nie kom die Dokter daaraan. Sy sê Marli is gesond genoeg om saam met mamma huis toe te gaan, maar sy moet belowe dat sy al haar medisyne by die huis sal drink.

Hoera! Dink Marli, toe sy en mamma huis toe gaan. Hoera!