Druk artikel

Hospitaalstorie 3: Oorpypies vir Ratie
Wietske Boon

Mpho kan nie slaap nie. Sy ore pyn! Dit help bietjie dat pappa nog 'n kussing onder sy kop gesit het, maar dis ongemaklik om so te slaap.  Dit help ook dat pappa troos. Hy sê alles gaan more beter voel, want Mpho gaan pypies in sy ore kry.  Mpho verstaan nie hoe pypies sy ore gaan beter maak nie. Hy weet ook nie hoe hulle pypies in sy ore gaan kry nie!

Pappa moes seker gesien het dat Mpho bang lyk, want hy haal 'n storieboek van die rak af.  Op die voorkant van die boek is daar 'n prentjie van 'n muis en sy teddiebeer. Die muis lyk gelukkig. Daar steek nie pypies by sy ore uit nie, dink Mpho.

Pappa begin die storie vir Mpho lees:

**************************

Ratie muis woon saam met al die ander diere in die woud. Meeste van die dae speel hulle lekker saam. Vandag is nie so dag nie, want Ratie muis se oortjies is baie seer en hy kan nie so mooi soos altyd hoor nie. Ratie muis se hart is baie seer.

Ratie sit op 'n klip en huil. Skiri eekhoring kom verby gewip. Skiri kom van Lucia Nagtegaal af. Skiri het Lucia opgepas omdat haar mangels uitgehaal is. 

Skiri stop dadelik toe hy vir Ratie op die klip sien huil.

"Wat makeer, Ratie?" vra Skiri.

"My ore kon altyd so ver en fyn luister, maar nou is hulle seer en ek sukkel om mooi te hoor," huil Ratie.

Skiri dink dis 'n goeie plan om eerder vir Dr. Uil te vra dat hy kom kyk.

Toe Naaldekoker verby vlieg, keer Skiri eekhoring hom voor en vra hom om Dr. Uil te laat kom.

Naaldekoker is daar weg en nie lank daarna nie kom Dr. Uil daar aan.

"Wat makeer?"  wil Dr. Uil ook weet.

"Dis Ratie se ore," verduidelik Skiri.

"Nou toe, laat ek kyk," sê Dr. Uil, en maak sy tas oop.

Eers kyk hy in Ratie se keel en daarna kyk hy met 'n liggie in Ratie se oortjies.

"Hmmm...Ratie," verduidelik Dr. Uil, "jou keel is bietjie rooi, maar daar is baie vog in jou oortjies. Wanneer jou neusie loop blaas jy jou neus, maar daar loop ook slym in klein pypies in jou ore af na jou keel toe. Partykeer is daardie pypies te klein of is hulle verstop en dan word jou ore so seer. Ons kan vir jou pypies in jou ore sit sodat al die slym deur die pypies kan loop en nie jou ore so laat pyn nie," sê Dr. Uil.

Ratie se ogies rek groot. Pype in sy oortjies! Sy ore is dan so klein en gevoelig.

"Nie te bekommer," lag Dr. Uil." Die pypies is so klein en fyn jy gaan nie eers voel hulle is in jou ore nie en niemand sal hulle kan sien nie."

"Maar gaan dit nie seer wees om dit in te sit nie?" wil Ratie bekommerd weet.

Skiri eekhoring verduidelik vir Ratie muis hoe hul hom eers aan die slaap gaan maak: “Jy gaan rustig op die blarebed lê, dan hou ons ‘n masker oor jou bekkie en dan raak jy aan die slaap. Dan gaan Dr. Uil die klein operasie doen. Wanneer jy wakker word is die pypies klaar in jou ore en as dit dalk ‘n bietjie seer is sal ons vir jou medisyne gee om dit beter te maak.”

Ratie knik sy koppie en stem saam dat pypies die enigste oplossing vir sy oorpyn is.

So gebeur dit toe dat Ratie muis op 'n groot blaar lê met die sonnetjie wat skerp deur die takke skyn. Skiri hou 'n masker oor Ratie se neus en bekkie. Die masker maak Ratie moeg sodat hy aan die slaap raak. Terwyl Ratie slaap werk Dr. Uil om die pypies in Ratie se oortjies te sit.

Nadat Dr. Uil tevrede klaar is, word Ratie wakker. Ratie is nog bietjie deurmekaar van die narkose, maar sy oortjies is nie seer nie. Skiri eekhoring bring vir Ratie ietsie om te eet en te drink.

"My ore is nie meer seer nie," juig Ratie 'n kort rukkie later; "en daar steek regtig nie pype by my ore uit nie," lag hy.

Dr. Uil kom maak weer 'n draai om te kom kyk hoe dit met Ratie muis gaan. Dr. Uil vra dat Skiri nog so rukkie na Ratie sal kyk, maar dan kan Ratie weer huis toe gaan.

So gesê, so gedaan. 'n Rukkie later speel Ratie weer saam met sy maats in die woud.

***********************

"Fluit-fluit my storie is uit," sê Mpho se pa. 

"Môre is dit jou beurt, maar nou moet jy eers gaan slaap."

Mpho se pa gee vir hom 'n soen op sy voorkop en trek die komberse reg.

"Lekker slaap, Pappa.”

“Lekker slaap, Mpho.”