Druk artikel

Hospitaalstorie 4: Maagpyn in die boom
Wietske Boon

Naledi voel baie siek. Mamma en Pappa het haar ongevalle toe gebring.  Haar magie kramp, sy gooi op en sy wil sommer huil van die pyn.

Die gawe dokter by ongevalle kyk in Naledi se ogies, ore en keel. Sy luister na Naledi se hart en longe ook. Dan klop sy met haar vingers op Naledi se maag.

Dokter vra vir Mamma en pappa of ‘n tannie mag kom bloed trek. Mamma knik haar kop.

Die dokter verdwyn agter die gordyn. Naledi se ma hou haar handjie styf vas totdat iemand aankom wat kom bloed trek. Naledi is baie bang! Skielik onthou sy 'n storie wat ouma eendag vir haar vertel het.

*****************

Trixie krimpvarkie het in die bome baljaar toe haar magie baie seer begin kramp het. Dit voel vir Trixie of alles in haar lyfie saam trek. "Dis so seer," huil sy. Haar krimpvarkie penne staan almal penregop.

Amalia verkleurmannetjie wat ook in die boom gespeel het skrik toe sy Trixie se penne sien. As Trixie se penne so regop staan is daar mos iets fout, dink Amalia.  Amalia verkleurmannetjie kyk versigtig rond, maar sien nie enige gevare nie.

Net toe gee Trixie krimpvarkie 'n harde skree van die pyn. Amalia val amper uit die boom uit van skrik. 

"Trixie, wat skree jy so?" wil Amalia weet.

"M..m…y m…m…aag i…is s…seer," kry Trixie die woorde uit. "En ek is naar!"

Muishond kruip versigtig uit sy gat om te kom kyk wat aan die gang is.  Muishond kan sommer sien Trixie voel nie lekker nie. 

"Trixie, sal ons hoor waar Dr. Uil is? Dalk kan hy kom kyk wat makeer jou maag."

"Asseblief, ja," sê Trixie saggies.

Trixie het haarself in 'n bolletjie opgekrul toe Dr. Uil daar aankom. 

Dr. Uil maak sy tas oop en haal sy stetoskoop uit. Met sy stetoskoop kan hy na Trixie se hart, longe en magie luister. Trixie krimpvarkie moet net haar penne ontspan, want anders gaan Dr. Uil dalk seerkry.

“Trixie, mag ek asseblief met die stetoskoop luister wat in jou lyfie aan die gang is?” vra Dr. Uil versigtig.

“Ja, Dr. Uil,” fluister Trixie.

Eers luister Dr. Uil na Trixie se hartjie. Dit maak so ‘doef, doef, doef.’ Dan luister hy hoe sy asemhaal met haar longe. Toe sit Dr. Uil die stetoskoop op Trixie se magie.

“Sjoe! Jou maag raas vreeslik! Geen wonder jou magie pyn so nie.  Ons sal vir jou moet medisyne gee sodat jou maag nie so raas en kramp en pyn nie. Trixie, jy moet baie water drink hoor,” sê Dr. Uil voor hy sy stetoskoop bêre.

“Amalia verkleurmannetjie, sal jy my asb help dat ons vir Trixie ‘n drup opsit. Die drup het al die regte medisyne in om jou gesond te maak, Trixie.”

Amalia knik haar kop en so werk sy en Dr. Uil versigtig om die dun naald in Trixie krimpvarkie se voetjie te sit. Hulle werk so mooi dat Trixie nie eers huil nie.

Intussen het Muishond vir Trixie ‘n blarebedjie gemaak sodat sy gemaklik kan rus. Ook maar goed, want toe die drup op is, was Trixie baie moeg en het sommer dadelik aan die slaap geraak.

Amalia verkleurmannetjie sit die heeltyd by Trixie sodat sy nie alleen voel nie.

Toe Trixie ‘n paar ure later wakker word, voel sy al stukke beter. Sy moet die drup nog inhou totdat sy heeltemal gesond is, sodat sy nie weer siek word van maagkrampe en naarheid nie.

***************************

Naledi hou haar ogies die hele tyd toe terwyl die tannie haar bloed trek. Mamma en Pappa sit die hele tyd by haar. Na ‘n rukkie kom die gawe dokter terug om te sê dat Naledi ‘n maaggogga het wat haar siek maak. Sy gaan in die hospitaal moet bly totdat sy gesond is.

“Naledi, jy gaan ‘n drup kry en jy moet baie water drink, hoor,” sê die dokter.

Naledi glimlag, want dit is presies wat Dr. Uil vir Trixie krimpvarkie ook gesê het.