Druk artikel

Tem jou peuter
Baba en Kleuter April/Mei 2019
Daniella de Wit

Die byter

Ons raak almal maar gefrustreerd, en peuters ook. Vir hulle is dit ‘n bietjie erger omdat hulle nog nie geleer het hoe om frustrerende situasies te hanteer nie – en dan probeer hulle dit oplos deur te slaan, byt of skop.

“Party kinders raak makliker gefrustreerd as ander, sê die ouerskapskrywer Marina Petropulos in die Die nuwe baba- & kindersorg- handboek.

“Om met rede kwaad te word, is nie noodwendig ‘n slegte ding nie, maar frustrasie is ’n onontkombare deel van die lewe en kinders moet net doeltreffende maniere leer om dit te hanteer. Leer jou kinders om hul gevoelens en behoeftes in woorde uit te druk. Help hulle om te sê wat hulle omkrap.”

Dis ouers se taak om te sorg dat hul kinders aanvaarbare maniere vind om hul gevoelens te hanteer. Kinders moet nooit die idee kry dat dit toelaatbaar is om ander mense of hulleself seer te maak nie. Hulle moet leer om mooi vir iets te vra en in ruil vir ander aan te bied, skryf Marina.  

As jou kind aggressief raak moet jy kalm bly, is die raad van Wietske Boon,‘n Pretoriase spelterapeut.

“Jou woede en frustrasie is soos olie op die vuur. Bepaal eerder wat die oorsaak kan wees vir die kind se gedrag. Wat het net voor die voorval gebeur?  Dit is ook belangrik dat ‘n mens na ‘n kind se eet- en slaappatroon kyk, want fisieke ongemak kan ook tot uitbarstings lei,” sê sy.

 

Die ongepoetste gespreksmaat

Dit is belangrik dat kinders van kleins af leer om beskaaf met mense te kommunikeer, maan Wietske.

“Herinner jou kinders herhaaldelik daaraan dat jy nie verstaan wat hulle sê as hulle skree nie. So besef hulle gou daar is groter bevrediging en beter resultate as hulle mooi met mense praat.”

 

Die in-die-rede-valler

Ouers moet onthou dat kinders opgewonde raak. Hulle kan nie wag om hul opwindende nuus met pa en ma te deel nie. Hulle wil dadelik die aandag hê en as hulle iets vir jou wil vertel, wil hulle dit nóú doen.

Bly kalm en sê vir jou kind dat hy net ‘n bietjie moet wag, want jy wil net gou jou sin voltooi en dan kan hy sy nuus deel.

Wietske sê as jou kind jou in die rede val terwyl jy met iemand anders gesels, kan jy sy handjie vashou terwyl jy jou gesprek voltooi. So voel hy steeds deel van alles, al kan jy nie dadelik luister nie.

 

Die vloermoergooier

Bly kalm as jou peuter vloerstuipe kry, maan Wietske.

“Dit is jou kind se manier om deur emosies te werk. As jy in hierdie stadium probeer redeneer, gaan die situasie vererger. Dit is wel belangrik om agterna te gesels oor die oorsaak vir die uitbarsting en alternatiewe wat hy in die toekoms kan aanwend as hy kwaad word,” sê sy.

 

Die gryper

As jou kind iets by hom het wat hy gegryp het, kan hy dit teruggee en vir die maatjie jammer sê, is Wietske se raad.

“Omdat jou kind nie dadelik die speelding kan kry nie, beteken dit nie dat hy nie later daarmee kan speel nie.

“Wanneer die ander maat klaar gespeel het, kan jy hom daarvan bewus maak dat hy dit nou mag gaan haal.”

 

Die ongeduldige

Mamma en pappa moet hier onthou om kalm te bly en nie hul humeur te verloor nie. As jy heeltyd ongeduldig is, sal jou kind jou na-aap.

Sê vir jou peuter: ‘Wag net, ek is net gou besig. Sodra ek klaar is, sal ek jou help.’”

‘n Mens moet tyd hê om jou planne deur te voer en konsekwent te wees. As jy te besig is, gaan jy net ingee en vir jou kind gee waaroor hy neul.

 

Die skattejagter

Peuters grawe graag in hul neus, maar dit moet natuurlik ter wille van sosiale aanvaarbaarheid in bedwang gehou word. Neem maar net rustig jou peuter se handjie weg en bied ‘n snesie aan. As die neusie droog is, smeer ‘n bietjie petroleumjellie aan die neusgate om dit sag te maak en ‘n verdere krappery te ontmoedig.

 

Die skreebek

Praat onmiddellik sagter wanneer jou kind begin skree sodat hy moet ophou skree om jou te hoor. “Sjoe, ek kan eintlik glad nie verstaan wat jy sê as jy so skree nie. Kom ons gebruik eerder ons normale stemme en verduidelik wat ons soek.”

Wietske sê as ‘n kind te hard begin praat, kan julle ‘n fluisterspeletjie speel. “Fluister dan vir mekaar tot die kind bedaar het.”

 

Die skyfwerper

Peuters is besig om te leer wat optrede en gevolg is en hulle leer dat ma en pa reageer as hulle sekere dinge doen. Dis groot pret om kos van hul stoeltjie te gooi en hulle is gewoonlik opgewonde as hulle dit doen. Maar dit kan ook wees dat hulle dit doen om jou aandag te trek of omdat hulle nie van die kos hou nie en nie gedwing wil word om dit te eet nie.

Probeer hierdie situasie só voorkom:  

  • Moenie te veel stukkies kos op een slag op hul bordjie sit nie. Gee eerder nog as die kos op is. Gee ook persoonlike aandag as dit etenstyd is sodat dit nie nodig is om jou aandag op ontoepaslike maniere te trek nie.
  • Wees kalm al voel jy nie so nie. Sê: “Ons moet ons kos op ons bord hou en dit eet. As ons dit nie wil hê nie, dan sê ons so.”
  • Leer jou kleinding ook om kos wat hulle nie wil eet nie net op ‘n ander plekkie op hul skinkbord te sit.