Druk artikel

Wanneer die rooi ligte flikker
Vrouekeur 29 Maart 2019
Ansja Ferreira

Hoe weet jy of jou tiener probleme het? Kenners maan dat tekens ernstig opgeneem moet word.

Hoe kan 'n ouer tussen normale tienerbuie of -gedrag en werklike gevaartekens, wat dringende ingryping noodsaak, onderskei?  

“Die tienerfase is een wat aan baie veranderinge gekenmerk word,” sê Wietske Boon, 'n spelterapeut van Pretoria.

“Tieners moet leer om by veranderinge aan te pas en nuwe emosies hanteer. Ons lewens is druk en tyd is min. Daar word baie van kinders op akademiese en buitemuurse vlak verwag. Ongelukkig veroorsaak omstandighede ook dikwels dat gesinstyd beperk is. Ons aanlyn samelewing bied ook uitdagings vir ons jongmense,” sê sy.

Volgens Wietske word vriendskaplike verhoudings vandag meer gekompliseerd.

“Kinders word al hoe meer met sosiale media, konflik, teenstrydige waardes en groepsdruk gekonfronteer. Omdat hul behoefte aan aanvaarding so groot is, is dit moeilik om teen die vriendekring se besluite gekant te wees. Konflik lei tot 'n gevoel van verwerping deur die groep wat, in hierdie tyd van verandering die kind se selfbeeld kan beïnvloed.”

Sy beveel aan dat ouers betrokke moet wees en belangstelling toon in hul kind se verhoudings en positiewe vriendskappe aanmoedig.

“Onthou ook dat tieners 'n mate van privaatheid en onafhanklikheid nodig het – behou dus die balans. Wees altyd beskikbaar om te luister en gesels oor wat hulle pla sonder om veroordelend te reageer. As hulle 'n fout begaan het, is dit vir hulle 'n leerskool.”

Volgens Wietske kan gesinsverhoudings gespanne word aangesien tieners onafhankliker wil wees en meer persoonlike ruimte vereis.

“Ook dít is deel van die grootword proses, sê sy.

Haar raad aan ouers is om te bepaal of hul dissipline en grense ouderdomsgepas is, 'n gesonde mate van onafhanklikheid en persoonlike ruimte respekteer, of hulle steeds beskikbaar is om te luister en te gesels en om hul eie stories van hul jong dae met hul kinders te deel.

Pasop

“Akademiese uitdagings en te veel buitemuurse aktiwiteite kan kinders oorweldig laat voel,” sê Wietske.

“Hulle is bang om foute te maak, hul ouers teleur te stel of om deur die maats afgeknou of verwerp te word.

Sorg dat jou kinders nie aan te veel aktiwiteite deelneem nie.

Help jou kinders om 'n haalbare weeklikse of maandelikse beplanning op te stel.

Onthou, almal maak foute, wys ook jou eie foute uit.

Fisieke en voorkomsveranderinge kan ook 'n tiener se selfbeeld beïnvloed. Hul hormone en emosies begin wipplank ry en hulle kan dit self nie beheer nie.

Verduidelik op 'n ouderdomsgepaste manier hoe hul liggame verander en wat hulle te wagte kan wees. Stel hul gerus dat hierdie veranderinge normaal is.

Help hulle om 'n netjiese en gesonde voorkoms te behou deur byvoorbeeld 'n dermatoloog vir aknee of 'n dieetkundige vir gewigsprobleme te raadpleeg.

Daar’s probleme

Volgens Wietske begin die rooi ligte gewoonlik flikker wanneer kinders se normale funksionering deur gedrag of emosies beïnvloed word:

  • Hulle onttrek van die gesin, gesinsaktiwiteite en jul normale dag-tot-dag gesprekke. Ook van die gewone aktiwiteite waaraan hul voorheen deelgeneem het.
  • Hulle het uitermatige angs en spanning, voel oorweldig, ervaar langdurige neerslagtigheid of ontwikkel negatiewe selfspraak.
  • Eet- en slaappatrone verander drasties.
  • Maats is die oorsaak van ekstreme negatiewe gedrag.
  • Alkohol en verbode middels word misbruik. Die tienerfase is belangrik vir identiteitsontwikkeling. Kinders soek na wie hul regtig is. Hulle gaan nuwe dinge uittoets en daarmee eksperimenteer, maar dit behoort binne perke te wees.
  • Jou kind word aan trauma blootgestel.

Groot uitdagings

“Adolessensie is ‘n tydperk wanneer die tiener baie weerloos is ten opsigte van versoeking en groepsdruk,” sê Lana Kleingeld-Coetzee, 'n opvoedkundige sielkundige van Weltevredenpark.

“Die oorgang vanaf laerskool na hoërskool bring baie uitdagings vir die jong tieners mee”, sê sy. Nie net probeer hulle by die meer veeleisende en uitdagende akademiese vereistes aanpas nie, maar hulle probeer ook terselfdertyd op sosiale vlak inpas en is desperaat om aanvaar te word. Die druk om in te pas en cool te wees, kan baie swaar wees en ongelukkig trap baie tieners in die slaggat van versoeking.

“In ‘n poging om aanvaar te word, raak jong tieners dikwels by die verkeerde vriende en aktiwiteite betrokke en stel hulself aan gevare soos alkohol- en dwelmmisbruik en bendes bloot.

Dit is so belangrik vir ouers om waaksaam en bedag te wees wat hul kind se voorkoms, gedrag en sosiale interaksie betref, sê sy.

Gevaartekens

  • Vreemde en uitermatige geheimsinnige gedrag en ‘n begeerte om heeltyd agter geslote deure te wees.
  • Vaag, geheimsinnig of oneerlik oor vriende, aktiwiteite en plekke waarheen hulle gaan.
  • Hulle jok vir jou oor wat hulle doen. Alle tieners verlang na ‘n bietjie privaatheid en om net ‘n bietjie op hul eie te wees en jy moet ook hul privaatheid respekteer. Daar is egter 'n verskil tussen persoonlike privaatheid en uitermatige geheimsinnige of agterdogtige gedrag en wanneer hulle dinge opsetlik wegsteek.
  • Daar is ‘n ongewone geïrriteerdheid met almal en buierigheid, asook uitermatige emosionele of woede-uitbarstings.
  • Hul persoonlike versorging gaan agteruit.
  • Akademiese prestasie neem af.
  • Daar is sielike opstandige en uitdagende gedrag teenoor outoriteit.
  • Ouerlike waardes en reëls word verwerp.
  • Onverwagse staking van sport of buitemuurse aktiwiteite.
  • Betrokkenheid by vreemde groepe of bendes.

Beskerm jou kind

Wees teenwoordig en waaksaam wanneer jou kind ‘n partytjie of samekoms by jou huis hou. Monitor die aktiwiteite. Jy hoef nie die heeltyd soos ‘n helikopter daar rond te hang nie, maar wees sigbaar en bedag. Dit is jou verantwoordelikheid teenoor ander bekommerde ouers.

As jou kind ‘n partytjie bywoon of kuier by ‘n vriend se huis, maak seker daar is ouerlike toesig. Hoewel verskillende gesinne verskillende dinamiek, waardes en reëls het, is dit altyd voordelig wanneer ouers van ‘n klomp vriende kan saamstem oor sekere aspekte wat die kinders se sosiale aktiwiteite en hulle veiligheid behels en hoe dit by die onderskeie huise gemonitor sal word.

Leer jou kinders se vriende en hul ouers ken. Dit is goed om te weet wat daardie ouers se reëls en waardes is sodat jy weet aan watter omgewing jou kinders blootgestel gaan wees as hulle daar kuier. (Vertrou jou instink as jy vermoed die kind en sy/haar huisomgewing is nie ‘n veilige omgewing nie).

Wees wakker wanneer jou kinders ná ‘n aandjie uit tuiskom. Gesels en hou hulle mooi dop. Jy sal vinnig kan raaksien as daar enige tekens is wat op alkohol- of dwelmmisbruik dui.

Monitor sosiale-media-aktiwiteite en wees bewus van nuwe of vreemde vriende en gedrag.

Moenie toelaat dat jou kinders vir ure uithang in plekke soos winkelsentrums sonder dat hulle gemonitor word nie. Wees naby al is jy nie noodwendig heeltyd by hulle nie. Dit behoort hulle twee keer te laat dink voordat hulle by ongewenste of selfs onwettige aktiwiteite betrokke raak.

Wees ook redelik aangesien hulle ook sosiale interaksie met hulle vriende nodig het om te ontwikkel, maar beperk tog die tyd wat hulle weg van die huis af deurbring, veral in die aande.

Bespreek reëls en nagevolge as hulle dit nie nakom nie met jou kinders en voer dit deur.

Dit kan ‘n verskil maak

“Wees eerder ‘n ongewilde ouer en verseker jou kind is veilig, as om te toegewend te wees,” sê Lana.

“As kinders weet hul ouers is bedag en oplettend, sal hulle minder geneig wees om kanse te vat. Die liefdevolle, waaksame belangstelling van ‘n ouer kan ‘n groot verskil maak wanneer ‘n kind gekonfronteer word. Wys jy gee om deur belang te stel in wat hulle doen en waarheen hulle gaan.

“As jy enige van die gevaartekens in jou kind raaksien, kontak die skool en gesels met die graadvoog of ‘n klasonderwyser wat die kind gereeld sien. Deel jou bekommernisse en vra of die skool jou sal laat weet as hulle enige ongewone gedrag opmerk. Kontak ook gerus ‘n sielkundige vir raad en hulp,” sê Lana.

Selfdood – dit moet jy weet

Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie en Angsgroep (SADAG) is waarskuwingstekens by tieners veranderinge in slaap- en eetpatrone, ‘n verlies aan belangstelling in dinge wat hulle voorheen geniet het, konsentrasieprobleme en selfhaat. 

Sowat 75% van mense wat selfdood probeer pleeg, gee een of ander aanduiding van hulle planne aan vriende of familie.

Hulle kan daaroor praat, erg depressief wees, hulle onttrek, ‘n skielike gemoedsverandering ondergaan of persoonlike besittings begin weggee.

Wenke oor hoe om dit te hanteer

As jou kind aan selfdood dink, moet hy of sy weet dat jy omgee. Luister. Vra vrae. Help die kind om gevoelens te bespreek.

As jou kind aan depressie ly

Leer alles wat jy kan daaroor. Sê vir jou kind dat hy of sy nie skaam of skuldig hoef te voel nie. Vermy om dinge te sê soos “kom daaroor.”  Jou kind moet weet dat depressie ‘n siekte is wat behandel kan word.

Kry hulp as jy dink dat jou kind so iets beplan.

Praat oor ‘n ondersteuningsgroepsessie.  Dit kan help om te weet dat hy of sy nie alleen is nie.

Maak seker dat jou kind nie toegang het tot enigiets wat beserings kan veroorsaak nie.

As jou kind in onmiddellike gevaar is, neem hom of haar na 'n hospitaal of kliniek.