Druk artikel

Aandagtige ouerskap
Vrouekeur 26 April 2019
Ansja Ferreira

Om deesdae kinders groot te maak, is nie eenvoudig nie, maar om bewustelik te leef, kan dit makliker maak, skryf Ansja Ferreira.

In ons gejaagde, moderne lewe is dit moeilik vir ouers om al die balle in die lug te hou en boonop tyd vir hulself, hul lewensmaat en kinders te maak.

Navorsing deur die Pew-navorsingsentrum het gewys dat werk- en gesinsverantwoordelikhede baie stres by ouers tot gevolg het en dat 56% van werkende ma’s en 50% van werkende pa’s dit moeilik vind om ‘n balans tussen hul werk en hul gesinslewe te vind. Ons kinders word in ‘n kitswêreld groot waar selfone, teksboodskappe, sosiale media en rekenaarspeletjies aan die orde van die dag is en min tyd in die buitelyg deurgebring word.

“Ouers doen wat hulle doen uit liefde,” sê Wietske Boon, ‘n spelterapeut van Pretoria.

“Ons wil die beste vir ons kinders hê, maar soms kyk ons deur ons eie oë, ervarings en verlede na ons kinders se probleme en uitdagings en vergeet dat kindwees vandag nie meer dieselfde as jare gelede is nie. Ons het nodig om in ons kinders se skoene te staan, deur hul oë na die lewe te kyk en te probeer verstaan wat hulle voel en ervaar met die uitdagings wat ons kinders in 2019 ervaar,” sê sy.

Volgens Wietske is die verhouding tussen ‘n ouer en kind die belangrikste verhouding wat ‘n kind kan hê.

“Dit behoort ‘n veilige plek te wees waar ‘n kind onvoorwaardelike liefde en aanvaarding ervaar. Dit is iets wat voor geboorte al gekweek word. Tydens die babajare fokus ons op die belangrike bindingsproses waar voeding, aanraking, oogkontak en geselsies so noodsaaklik is. Soos ons kinders groter word bly hierdie liefdevolle kommunikasie, aanraking en teenwoordigheid ‘n belangrike aspek van die verhouding.”

Ons is vinnig om met dissipline op te tree, deur hard te praat en reg te help, sê Wietske. “Dit is belangrik om ook met dieselfde geesdrif liefde, komplimente en positiewe gesprekke aan te pak.”

“Maak tyd vir jou kind,” beveel sy aan, “al is ons lewens is so gejaag dat ons nie altyd onverdeelde aandag kan gee nie.”

Wietske se wenke vir ouers:

  • Laat jou kinders jou in die kombuis help, dit gee julle ‘n geleentheid om te gesels. Hierdie gesprekke behoort nie geforseerd te wees nie, dit kan sommer gemaklike gesprekke oor ditjies en datjies wees. Dit gee kinders die geleentheid om dieper gesprekke op te haal as hulle dit nodig vind.
  • Stel belang in jou kinders se voor- en afkeure en respekteer dit. Behandel jou kinders met respek. Wees betrokke by hul maats, skool- en buitemuurse aktiwiteite.
  • Luister na jou kinders en probeer om te verstaan – herhaal wat jy gehoor het indien nodig.
  • Erken jou kinders se emosies, byvoorbeeld: “Ek kan sien jy is baie kwaad. Dit is okey, ek kan verstaan dat jy so voel. Wat kan ons doen om die situasie vir jou te verbeter?”
  • Stel steeds gesonde, ouderdomsgepaste grense. Binne daardie konsekwentheid en voorspelbaarheid lê sekuriteit en veiligheid.
  • As daar ‘n voorval plaasvind of konflik voorkom, luister eers na jou kinders se storie. Bly kalm. Gaan luister ook na die ander kant van die storie voordat jy optree, fout soek of vinger wys.
  • Dra die boodskap oor dat jou kinders goed genoeg is - dat hulle onvoorwaardelik geliefd is. Fokus eerder op ‘n proses – die hokkiewedstryd was lekker – as die uitkoms – of hulle gewen het. Ook hierdeur kommunikeer ons onvoorwaardelike aanvaarding en koester ons hul menswees.”

Wees bewus

Daar is ‘n groeiende belangstelling in aandagtigheid/volbewustheid as 'n lewenswyse en toenemende wetenskaplike bewyse van die waarde daarvan vir optimale gesondheid en welsyn. Jon Kabat-Zinn beskryf dit in sy boek Catastrophe Living as die vermoë om sonder enige oordeel in die oomblik, doelbewus, van ons eksterne en interne ervaring bewus te wees. 

Dr Mariki Smith is‘n geregistreerde sielkundige wat reeds meer as 20 jaar in praktyk is en aan die The Free State Institute for Mindfulness (FSIM)in Bloemfontein verbonde is. Mariki gebruik die begrip “volbewuswees” en sê dat dit ‘n groot verskil maak wanneer ons met kinders werk.

“Behalwe dat ‘n meer in-die-oomblik-verbintenis kinders laat voel hulle word gesien en gehoor, verbeter dit kommunikasie, deernis, en die hantering van stres en moeilike oomblikke. In besige tye, waar gehaltetyd belangrik is, is dit goud werd om werklik in die oomblik te wees – oomblikke wat mens nooit weer kan terugkry nie.

“Veral wanneer ouers ingestel is op en bewus is van hul eie gevoelens en dié van hul kinders (emosionele bewuswees), dit 'n naam kan gee en dit kan kommunikeer, leer dit kinders om ook hulle eie gevoelens te reguleer. Deur meer volbewus na binne te wees, maak ons emosioneel intelligente en volwasse kinders groot. Ouers kom ook baie verder deur hul kinders te motiveer wanneer hulle volbewus met deernis optree as wanneer hulle kritiseer en veroordeel.”

Mariki gee die volgende wenke:

  • Ouers vir wie selfsorg en selfdeernis ‘n prioriteit is, is ouers wat ook meer deernis en energie vir hul kinders het. Volbewuswees gaan altyd met deernis vir onsself en ander gepaard. As ons as ouers met selfdeernis met ons eie gedagtes, gevoelens en behoeftes in voeling bly, is dit makliker om ten volle teenwoordig te wees wanneer hulle ons nodig het. Ons leer dan ook ons kinders dat ons nie ons dae te besig en vol hoef te maak nie, en dat ons geduld met ons moeilike gevoelens en gedagtes moet hê.
  • Wanneer ons gereeld sonder nadenke kritiek teenoor onsself en ons kinders uitspreek, neem dit die vrymoedigheid van ‘n oop verhouding weg, en leer ons ons kinders om dieselfde te doen.
  • Om saam kos te maak en saam te eet, is ‘n kosbare manier om kinders te leer om volbewus te wees. Gesels saam oor waar die kos vandaan kom, en leer hulle om elke keer hulle kos met ‘n vriendelike nuuskierigheid te geniet, asof hulle dit vir die heel eerste keer proe. As dit moontlik is, stel hulle gereeld aan nuwe smake bloot. Laat hulle probeer beskryf hoe ‘n olyf of ‘n druiwekorrel proe asof hulle dit vir iemand moet beskryf wat dit nog nooit geëet het nie.
  • Soms verval ons in outomatiese gewoontes. Dit is dan goed om soms hierdie gewoontes te verander. Ry soms ‘n ander pad skool toe, ruil soms sitplekke om die etenstafel of eet soms buite in die tuin.
  • Wanneer jou kinders stres ervaar, soos voor ‘n toets of mondeling, leer hulle dat stres nie sleg is nie, maar dat dit net vir hulle sê dat iets vir hulle belangrik is. Leer hulle die waarde van volbewuste asemhaling. Asem drie tellings in deur die neus (ruik die roos), stop vir ‘n oomblik, en asem vier tellings deur die mond uit (blaas die kers). Doen dit drie tot vier keer. Só word die parasimpatiese senuweestelsel geaktiveer, en deur te tel, keer ons dat ons gedagtes met ons weghardloop.
  • Begin saam met jou kinders ‘n kruie- of groentetuin, en maak dit deel van die kinders se verantwoordelikheid. Só leer hulle die verskil tussen ‘n basilieblaartjie en ‘n mentblaartjie. As hulle ná weke se versorging van die tuin hul eie wortels of spinasie kan pluk, leer hulle die waarde daarvan.
  • Skep deur die dag klein mini-volbewus-wees-oomblikke. Maak mekaar bewus van aangename oomblikke, soos ‘n voëltjie wat in die tuin kom kuier, die reuk van reën in die lug, of die klank van die windklokkie wanneer die wind waai. Volgens Eckhart Tolle het ons nie ure en ure se oefening nodig om volbewus te wees nie. As ons ingestel raak daarop om in die hier en nou te leef, kan ons al hoe makliker en gouer uit ons denke klim, en die mooi oomblikke werklik ervaar.
  • Wanneer julle as gesin mekaar soggens of deur die dag groet, maak ‘n punt daarvan om mekaar in die oë kyk,en werklik teenwoordig te wees. As julle nagsê, noem drie dinge waaroor elkeen dankbaar is.

Leesstof vir ouers

Myla and Jon Kabat-Zinn skryf in hul boek Everyday Blessings, The Inner Work of Mindful Parenting dat in plaas daarvan om jou behoeftes teenoor jou kinders se behoeftes te plaas, behels ouerskap om bewus te raak van hoe ons behoeftes interafhanklik is.

Ons lewens is onmiskenbaar diep verbind. Ons kinders se welsyn beïnvloed ons s'n, en ons s'n raak hulle s'n. As hulle nie goed doen nie, ly ons, en as ons nie goed doen nie, ly hulle.

Dit beteken dat almal voordeel trek as ons van ons kinders se behoeftes sowel as ons eie bewus is, emosioneel sowel as fisiek en, afhangende van hul ouderdomme, daaraan werk om maniere te vind om almal tot hul reg te laat kom. Deur hierdie soort sensitiwiteit in ons ouerskap in te bring, sal ons gevoel van verbintenis met ons kinders verbeter. 

“Volgens navorsing wat op die Mindful-webwerf verskyn, is kinders wat aandagtige/volbewuste ouerskap ervaar, minder geneig om dwelms te gebruik of depressie of angs te ervaar.

Volgens die skrywers van The 5 Love Languages of Children, Gary Chapman & Ross Campbell, is daar vyf maniere waarop kinders liefde waarneem, ervaar en gee, naamlik fisieke aanraking (drukkies, soentjies, speel), woorde van bevestiging (erkenning, aanmoediging, lof en positiewe leiding), gehaltetyd (gefokuste, onverdeelde aandag en om ander dinge eers opsy te skuif) en geskenke en diensbaarheid (om iets spesiaals vir jou kind te doen).