Artikel uit Mamas & Papas

Volume 2 No 10 (June 2010 ) Exploring emotions through play -
Why playing can be therapeutic

Artikels uit Vrouekeur:
30 Oktober 2009 - Motiveer hom positief
18 September 2009 - Jou kinders verskil. Hoe nou?
12 Maart 2010 - Breek of bou jy?
30 April 2010 - Hy wil net TV kyk
_________________________________________________________

Indeks van artikels op hierdie bladsy

Kindermolestering
Die kind in die terapeutiese speelkamer
Dissipline
Prestasie-Angs
Grense
Motivering
Afknouerigheid
Depressie
Kinders wat hulle sibbe grootmaak
Sibbe konflik
Adolessensie

_______________________________________________________
Kindermolestering
Ook by Finesse  27/07/2010


Hoe gaan 'n spelterapeut te werk om sekere emosies rondom kindermishandeling en molestering by die kind te ontlok? Wat is die prosedure wat gevolg word om kinders te help om oor hierdie traumatiese gebeurtenis te praat?

Lees hier verder >>

Terug na bo

 

_________________________________________________________
Die kind in die terapeutiese speelkamer

Wanneer ouers ‘n kind na ‘n spelterapeut neem, is dit omdat die ouer/s of versorger/s bekommerd is ten opsigte van die kind se gedrag en/of emosionele welsyn. Die gedrag kan die oorsaak wees van ‘n spesifieke traumatiese gebeurtenis, maar in sommige gevalle weet die ouers nie wat die oorsaak is van hul kind se kommerwekkende optrede nie.

Die speelkamer

Binne die speelkamer kry die kind die geleentheid om waarlik homself te wees deurdat hy onvoorwaardelik aanvaar word deur die terapeut.

Straf, verwyte en kritiek is nie deel van enige terapeutiese prosesse nie. Die speelkamer is anders as die samelewing waar kinders leer deur korrigering en gestraf word wanneer hulle gedrag nie na wense is nie. Dít maak die speelkamer veilig en uniek vir die kind.


Die terapeutiese verhouding

Voordat terapie gedoen kan word moet daar ‘n vertrouensverhouding tussen die kind en terapeut gevestig word. Dit gebeur deur speletjies en aktiwiteite waarby die kind en terapeut gelyktydig betrokke is. Vir sommige kinders is dit makliker as vir ander om ‘n terapeut te vertrou. Kinders wat dit moeilik vind om vertroue in die terapeut te ervaar is meestal ‘n kind wat mishandel is of ‘n kind wie se vertroue in ‘n belangrike ander persoon geskend is. Dit verg dus baie geduld, tyd en ‘n baie veilige omgewing om ‘n vertrouensverhouding met die kind op te bou.

Emosionele- en selfbewustheid

Na ‘n traumatiese gebeurtenis sny sommige kinders hulself af van hul emosies en hul omgewing. In so geval verlaag die kind se selfbewustheid en sy bewustheid van homself in sy omgewing. As hanteringsstrategie wil die kind nie sy emosies erken en eien nie en ook nie sensoriese stimuli ervaar nie aangesien dit te traumaties is (veral kinders wat fisies mishandel is of word). Dit is belangrik dat emosionele- en sensoriese bewustheidsoefeninge met die kind gedoen word. Sonder self-bewustheid kan die kind nie emosies en ervarings eien en hanteer nie. Deur verskillende prentjies met gesiggies vir die kind te wys kan emosionele bewustheid verskerp word. Die terapeut sal dan byvoorbeeld die volgende vrae vra: “Hoe voel die mannetjie in hierdie prentjie?” “Voel jy ook somtyds so?” “Wat maak dat jy so voel?” Sensoriese oefeninge sluit in om die kind bloot te stel aan verskillende sensoriese stimuli en die emosies en herinneringe wat dit by die kind ontlok te ondersoek. Wanneer ‘n kind na musiek luister kan die terapeut die volgende vrae vra: “Hoe laat die musiek jou voel?” “Wanneer voel jy so?” “Waaraan herinner die musiek jou?”

Op hierdie wyse begin die kind se self-bewustheid asook die bewustheid van homself in sy omgewing asook die ervarings vanuit sy direkte omgewing verbeter en kan terapie voortgesit word.


Die projektering van emosies deur die kind

Die terapeut lei en moedig die kind aan om direk of indirek sy ervarings en emosies te verwoord of uit te beeld deur spel. In die speelkamer kry die speelgoed ‘lewe’. Die kind kan deur spel die werklikheid verander sodat dit minder bedreigend en angswekkend word en die situasie of ervaring meer aanvaarbaar vir die kind is. Tydens spel maak die kind ‘n storie op wat verband hou met sy eie lewe en sy ervarings. Die spel wat die kind speel verteenwoordig dus sy eie realiteit. Spel is veilig vir ‘n kind aangesien hy deur fantasie ‘n ander karakter kan word wat homself verteenwoordig. Vir ‘n kind is dit makliker om emosies en ervarings te hanteer en te verwoord wanneer dit op iets anders geprojekteer word byvoorbeeld, deur diere te gebruik om sy gesin uit te beeld. Op hierdie wyse kan die kind met ervarings eksperimenteer en uiting gee aan emosies sonder om te voel dat hy iets verkeerd doen of sê waarvoor hy kwalik geneem of gestraf gaan word. Kinders skep vir hulself ‘n veilige fantasiewêreld waarbinne hulle speel, projeksies maak en emosies verwerk en hanteer.

Spel gee vir die kind die geleentheid om beheer te neem oor onbeheerbare situasies deur sekere ervarings oor te vertel soos dit is of dit selfs te verander waar die kind dit nodig vind. Tydens spel kan die werklike gebeure verander word sodat dit minder angswekkend en draagliker word. Spel help die kind om gebeure of situasies te organiseer, te voorspel, te verwerk en te aanvaar.

Humor kan ook effektief in terapie gebruik word. Humor, wat vir die kind aanvaarbaar is, verander emosies (bv. angs, vrees, woede) in iets wat draagliker is, wat makliker hanteer kan word en met humor bespreek kan word.

In terapie kry die kind, soos reeds genoem, die geleentheid om sy gedrag te verander, daarmee te eksperimenteer, moontlik te faal, maar in die veilige omgewing van die speelkamer weer te probeer. Wanneer die kind ‘n nuwe gedrag beproef het en genoeg selfvertroue het, sal hy die nuwe gedrag ook buite die speelkamer begin toepas.

Nadat die kind ‘n paar sessies gespeel het en hy gereed en gemaklik voel met sy eie ervarings en die situasie, sal die kind gewoonlik oor die realiteit, sy eie ervarings en verwagtinge begin praat. Die emosies word dan ondersoek, verwerk en hanteer en indien nodig, kan aanvaarbare alternatiewe vir ‘n probleemsituasie ondersoek word.

Die kind kan uiting gee aan woede, frustrasie, vrees of hartseer deur byvoorbeeld ‘n kussing te slaan of selfgetekende prentjies te verskeur (dit vind onder toesig plaas en is ‘n veilige en aanvaarbare manier om aan woede uiting te gee). Die terapeut moedig hierdie spel in die speelkamer aan.

Steeds kom dit soms voor dat kinders hul spel en dialoog verander na wat hulle dink die terapeut wil sien en hoor, dinge wat aanvaarbaar is, maar wat nie die kind se ware gevoelens of ondervinding van die werklikheid is nie. Die oorsaak hiervan kan enige van die volgende redes wees:

Soeke na aanvaarding by die terapeut;

Vrees vir die terapeut se reaksie;

Vrees dat die kind se ouers gaan uitvind wat in die speelkamer gesê word;

Geoefende gedrag (die kind is gewoond om voor te gee);

Die kind is nie gereed om die waarheid of ware emosies te projekteer nie.


Die terapeut

Dit is belangrik dat die terapeut intensiewe aandag gee aan die kind en sy spel (die storie wat hy vertel). Die terapeut moet baie geduldig wees sodat die kind op sy eie tyd die storie vertel, verander waar hy dit nodig vind en die ervarings en gebeure eien. Afleidings word nie uit die kind se spel gemaak nie, maar eerder met die kind geverifieer deur gepaste vrae te vra oor sy spel. In die veilige speelkamer gee die kind die pas aan en die terapeut moet daarvoor aanpasbaar wees.

Aangesien kinders wat vir terapie kom moontlik reeds emosionele skade opgedoen het, moet die terapeut waaksaam wees dat die kind nie emosioneel afhanklik van haar word nie. Kinders wat uit ‘n onveilige omgewing kom, kan maklik afhanklik word van die veiligheid wat die terapeut en die speelkamer bied. Die kind begin floreer op die aandag, aanvaarding en kalmte van die terapeut. Die terapeut speel egter net vir ‘n paar maande ‘n aktiewe rol in die kind se lewe, daarna moet die kind sonder die terapie sessies kan funksioneer. ‘n Kind wat afhanklik word van die terapeut sal nie sonder die terapeut kan funksioneer nie; dit veroorsaak ‘n gevoel van erge verlies en verwerping vir die kind. Die kind word voorberei op die terminering van terapie, die rede, gevolge en die kind se emosies daaromtrent.

Die terapeut lei dus die kind en later die ouers om sekere gedragsveranderinge te maak sodat die kind veilig en gelukkig in sy eie omgewing voel.

In terapie word die mure wat die kind om homself gebou het vir emosionele veiligheid stelselmatig afgebreek totdat die kind waarlik homself kan wees.

Terapie is suksesvol wanneer daar positiewe verandering in die kind se gedrag voorkom.

Terug na bo

_________________________________________________________
Dissipline

Dissipline is die straf of gevolge vir verkeerde of negatiewe gedrag.  Wanneer ‘n kind gedissiplineer word is dit belangrik dat hy/sy verstaan waarom die straf toegedien word. Dissiplinering is nie noodwendig fisiese straf nie, maar vir die skoolgaande kind kan dissipline byvoorbeeld die vermindering van ontspanningstyd beteken.

Voordat dissipline toegepas word, is dit belangrik dat jou kind weet watter gedrag op welke wyse gestraf gaan word.  Straf behoort gepas te wees vir die oortreding en jou kind se ouderdom.  Laat ruimte vir ongeveer twee waarskuwings voordat die straf toegedien word, maar vermy leë dreigemente. 

Terug na bo

_________________________________________________________

Prestasie-Angs

 

Prestasie-angs is ‘n ernstige vrees om onsuksesvol te wees en ander mense se reaksie op die onsuksesvolheid.  Prestasie-angs word veroorsaak deur akademiese of sosiale geleenthede en/of situasies waar daar van die kind verwag word om te presteer.  Hierdie situasies kan byvoorbeeld voorkom wanneer daar van die kind verwag word om ‘n taak binne ‘n gegewe tyd, baie suksesvol te voltooi en/of situasies waarin die kind nie die nodige selfvertroue besit om dit te doen nie.

Angstigheid word veroorsaak deur:

Genetika – ‘n familielid/lede wat ook geneig is tot angstigheid;

Chemiese (serotonien) wanbalans in die brein;

Temperament;

Omgewingsfaktore – byvoorbeeld spanningsvolle of traumatiese gebeure.

Ouers moet geduldig wees en begrip toon vir die kind se angstigheid.  Moenie u kind straf vir die angstigheid nie.  Roetine in die huis is baie belangrik vir die kind wat geneig is tot angstigheid.  Pas u kind se dieet aan deur kunsmatige suikers en chemiese voedsel te vermy aangesien dit angstigheid verhoog. Ontspanningsoefeninge kan u kind help om spanningsvolle situasies positief te hanteer.  In gevalle van ernstige angstigheid sal u kind baat vind by spelterapie.

Die angstige kind het baie ondersteuning van die ouers nodig om sosiale geleenthede of situasies positief te hanteer.  Wees ‘n geduldige ouer met begrip vir jou angstige kind en die situasie sal verbeter.

Aanbevole leesstof: 
Chansky, T.  Understanding children’s fears and worries.  Freeing your child from anxiety:  Powerful, practical solutions to overcome your child’s fears, worries, and phobias.

(http://www.enotalone.com/article/2471.html)

Terug na bo

 

_________________________________________________________
Grense

Alle kinders het grense nodig om bewus te wees van watter gedrag aanvaarbaar en onaanvaarbaar is. 

Deur grense leer kinders:

Om te onderskei tussen reg en verkeerd.

Wat gepaste en onvanpaste gedrag is.

Watter gedrag deur die samelewing aanvaar word.

Grense behoort reeds gestel te word wanneer die kind nog ‘n baba is.  Wanneer kinders blootgestel word aan grense op ‘n baie jong ouderdom raak hulle gewoond daaraan dat grense vir hulle gestel word. 

Grense moet ten alle tye konsekwent toegepas word.  Die grense wat deur ouers gestel word help die kind om ‘n sterk persoonlikheid te ontwikkel.  In gevalle waar geen grense gestel word nie, voel die kind onseker van wat aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag is.  Hulle sal nie die vermoë besit om te kan voorspel wanneer hulle gedrag gestraf of beloon gaan word nie.

Grense deur ouers gestel behoort ouderdomsgepas te wees en moet gepas wees vir die kind se ontwikkelingsvlak en persoonlikheid.  Jy as ouer behoort in staat te wees om te kan bepaal hoe streng grense gestel behoort te word en wanneer om meer toegeeflik te wees. 

Elke kind is uniek, dus kan die grense wat vir een kind gestel word verskil van die van ‘n ander kind.  Aan ouer kinders sal daar in sommige gevalle strenger grense gestel word, waar die jonger kind moontlik minder grense of meer toegeeflikhede kan benodig.  In ander gevalle kan die skoolgaande kind meer toegeeflikhede kry byvoorbeeld slapenstyd, terwyl die kleuter vroeër reeds bed toe moet gaan. 

Om gesonde kinders groot te maak, is dit nodig vir ouers om gesonde grense te stel.  Indien ‘n kind sonder grense groot gemaak word, ontwikkel kinders wat baie onsekerhede ervaar.

Terug na bo

_________________________________________________________
Motivering

Motivering help kinders om harder te werk om hul doelwitte te bereik.  Positiewe motivering kan beskryf word as enige gedrag wat kinders rede gee om hulle volle potensiaal te bereik.  Positiewe motivering kan verbale bemoediging of belonings insluit.  Motivering kan kinders help om beter te presteer en hul beste te gee.  Gesonde motivering ontvang van ouers en onderwysers kan kinders aanspoor selfs tot in jong volwassenheid in terme van loopbaan keuses en om ‘n sukses van hulle beroepe te maak.  Beloon kinders vir harde werk of goeie gedrag.  Dit is nie nodig dat belonings groot of duur geskenke moet wees nie, verlengde speeltyd of kwaliteit tyd saam met die ouers kan ook as beloning beskou word.

Nie alle motivering is gesond nie.  Negatiewe motivering kan onredelike straf, aansporing tot negatiewe gedrag, verbale dreigemente of enige ander gedrag insluit wat spanning by die kind veroorsaak.  Hierdie tipe motivering van ouers, onderwysers of vriende behoort ten alle koste vermy te word.

Positiewe motivering gee kinders moed om hul beste te gee en hul prestasies te verbeter.  Vermy negatiewe motivering aangesien dit kinders emosioneel vernietig.

Terug na bo

_________________________________________________________
Afknouerigheid

Afknouerigheid is enige verbale of reaksionêre gedrag wat aggressief van aard is en wat aan ‘n ander persoon skade veroorsaak.

Afknouerige gedrag is die gevolg van aggressie en/of oneffektiewe hantering van emosies.  Afknouerigheid kan ook veroorsaak word deur die nabootsing van gedrag van invloedryke persone byvoorbeeld aggressiewe ouers, sibbe, vriende of filmsterre.  Kinders leer deur ander se aksies te observeer en na te boots.  Dit is dus belangrik dat kinders positiewe rolmodelle en vriende het.  Die verhoudings in die gesin moet vir hierdie rede positief wees.  Straf moet van so aard wees dat dit nie aggressie uitbeeld nie, maar eerder beskou word as ‘n daad van liefde deur ouers wat die beste vir hul kinders wil gee.

Skep gesonde alternatiewe vir kinders om emosies soos woede te hanteer.  Fisiese aktiwiteite kan kinders help om ontslae te raak van al die energie wat in hul liggame gestoor is.  Terapie kan kinders ondersteun om hul situasie en emosies op ‘n positiewe wyse te hanteer.

Die slagoffer van afknouerigheid is gewoonlik ‘n goed-opgevoede kind wat nie teen die oortreder sal optree nie.  Ouers en onderwysers behoort die slagoffers te ondersteun deur die kinders basiese vaardighede te leer om die situasie effektief te hanteer.  Die afknouerige persoon behoort ook in hierdie geval aangespreek en gehelp te word. 

Die afknouerige kinders en die slagoffers daarvan sal baat vind by professionele bystand en ondersteuning.

Terug na bo

_________________________________________________________
Depressie

Eerstens is dit nodig om te onderskei tussen depressie en hartseer emosies.  Hartseer is kort-termyn emosies vir negatiewe of hartseer gebeure.  Depressie is langdurige emosies en denke van hartseer, hulpeloosheid en negatiwiteit teenoor hom/haarself en die omgewing sonder dat daar noodwendig ‘n rede voor is.

Depressie word veroorsaak deur ‘n wanbalans van die hormoon serotonien wat in die brein vrygestel word.  Hierdie kondisie is iets wat die kind nie kan beheer of verander nie.  Medikasie kan egter die wanbalans regstel sodat die kind se depressie verminder word.  Depressie word as ‘n probleem beskou wanneer dit normale funksionering belemmer byvoorbeeld die deelname aan daaglikse aktiwiteite.

'n Depressiewe kind kan ondersteun word deur die kind te motiveer om oor die emosies te praat of andersins om die emosies en denke uit te beeld deur middel van tekeninge of deur dit neer te skryf. Indien die kind se depressie nie verbeter nie of dit vererger sal dit raadsaam wees om 'n terapeut of sielkundige te gaan besoek. Moet nie die kind straf vir depressiewe emosies of denke nie aangesien die kind nie beheer oor die depressie het nie.

Deur die gebruik van medikasie of besoek aan ‘n terapeut of sielkundige kan die depressie verminder word sodat die kind normaal kan funksioneer.

Terug na bo

_________________________________________________________
Ondersteuning vir kinders wat hul sibbe grootmaak

Een van die reëls van die natuur is dat volwassenes na kinders moet omsien.  In sommige huise in dit nie moontlik vir ‘n volwasse persoon of ouer om die kinders groot te maak nie.  Sommige ouers werk ver van die huis aangesien dit die enigste geleentheid vir hulle is om ‘n inkomste te verdien.  As gevolg van HIV/VIGS word baie kinders agter gelaat nadat een of albei ouers as gevolg van die virus gesterf het.

Kinders sukkel soms om self hul eie probleme op te los.  Sommige kinders kry dan ook die verantwoordelikheid om hul sibbe se probleme op te los, om hul groot te maak en te versorg.  Hierdie verantwoordelikheid wat op die kind geplaas word veroorsaak baie spanning, angs, depressie, slapeloosheid en afname in akademiese vordering wat weer lei tot ander probleme.  Indien die kind nie aan die sibbe se basiese behoeftes soos voeding en klere kan voldoen nie, kan die kind moontlik betrokke raak by kriminele aktiwiteite byvoorbeeld diefstal, om sodoende na die sibbe te kan omsien.

In hierdie situasies is die gemeenskap se hulp van onskatbare waarde.  Om die kinders in te neem is selde moontlik, maar deur kos, klere en emosionele ondersteuning te gee of finansiële bydraes te maak, probleme te help oplos of selfs net die kinders met huiswerk te help sal alreeds baie spanning van die kind wegneem wat na die sibbe omsien.

Hierdie is geensins ‘n vergesogde idée nie.  In armer woonbuurte is hierdie ‘n algemene reëling.  Hierdie kinders het ondersteuning nodig andersins is dit moontlik dat hulle by kriminele aktiwiteite betrokke kan raak vir oorlewing.

Terug na bo

_________________________________________________________
Sibbe konflik

Konflik tussen sibbe is ‘n normale en onafwendbare verskynsel in elke gesin.  Miskien voel jy as ouers dat dit net jou kinders is wat baklei, maar dit kom voor in die beste gesinne.  Sibbe leer om konflik situasies te hanteer deur middel van sibbe konflik. Hulle leer om hulself te verdedig en om standpunt in te neem.  Hulle kry ook die geleentheid om konflik binne ‘n veilige omgewing te hanteer.

Sibbe konflik word gevaarlik wanneer sibbe aggressief optree teenoor mekaar en mekaar in so mate beseer dat mediese aandag nodig is.

Ouers kan kinders ondersteun deur geleenthede vir die kinders te skep om saam te speel, saam probleme op te los en mededeelsaam te wees.  Leer die kinders om konflik effektief te hanteer deur saam take uit te voer.  Indien nodig kan die ouers die konflik proses fasiliteer deur hulle te leer hoe om op te tree en wat om te sê.  Ouers moet ook effektiewe en positiewe wyses toepas om konflik te hanteer, aangesien kinders deur observasie leer.

Ouers moet positiewe rolmodelle vir hul kinders wees in terme van konflik hantering.  Ouers kan verder ook kinders bystaan vir die aanleer van effektiewe konflikhanteringsvaardighede.

Terug na bo

_________________________________________________________
Adolessensie

Kinders bereik puberteit teen ongeveer twaalfjarige ouderdom.  Gedurende hierdie fase ondergaan die kind baie emosionele en fisiese veranderinge wat hy/sy nie verstaan nie.

Daar behoort aan die jong adolessent verduidelik te word wat om gedurende hierdie fase te verwag.  Leersame boeke oor adolessensie is in die meeste boekwinkels beskikbaar.  Skaf ‘n boek aan en lees saam met jou adolessent daardeur.  Gee jou kind die geleentheid om vrae te vra, selfs al voel jy ongemaklik met die situasie.  Berei jou kind voor vir emosionele en fisiese veranderinge wat gaan plaasvind en verduidelik die redes vir die veranderinge.  Jong adolessente het nodig om te hoor dat hierdie veranderinge normaal is en dat elke jong mens deur hierdie proses gaan.  Jy as ouer voel dalk ongemaklik om oor die onderwerp te praat, maar die jong adolessent voel moontlik nog meer ongemaklik om oor hierdie onderwerp te praat.

Gedurende die adolessensie fase speel vriendskappe ‘n belangrike rol.  Leer jou kind die noodsaaklikheid van goeie vriendskappe met positiewe invloede.  Die kind moet ook die waarde van selfrespek insien.  Groepsdruk en vriende wat negatiewe invloede op die kind uitoefen kan veroorsaak dat die adolessent se selfrespek en morele waardes afneem en hulle betrokke raak by negatiewe gedrag byvoorbeeld eksperimentering met dwelms en seksuele gedrag. 

Adolessente het geduldige ouers nodig om vir hulle duidelike riglyne en grense te stel, om na die kind te luister en om trane af te droog sonder om te veel vrae te vra.

Terug na bo