| Kindermolestering Ook by Finesse 27/07/2010 |
||||||||||||||||||||||||||
Hoe gaan 'n spelterapeut te werk om sekere emosies rondom kindermishandeling en molestering by die kind te ontlok? Wat is die prosedure wat gevolg word om kinders te help om oor hierdie traumatiese gebeurtenis te praat? Wanneer ʼn kind vir die eerste keer die terapeut besoek, moet daar eers ʼn verhouding met die kind opgebou word. Op hierdie wyse vorm daar ook ʼn vertrouensverhouding waar die kind op sy/haar gemak met die terapeut kan praat. Die gebruik van prentjies is ʼn goeie hulpmiddel wanneer daar met ʼn mishandelde kind gewerk word. Die kind kan projeksies (prentjies) teken waaruit die terapeut sekere vrae vra wat die kind die geleentheid gee om oor die traumatiese gebeure te praat. Die terapeut kan ook vir die kind ʼn prentjie gee wat slegs die buitelyne van ʼn dogtertjie of seuntjie aandui. Die kind word gevra om self die detail van die lyfie in te teken. Uit hierdie prent kan die terapeut weereens inligting van die kind kry ten opsigte van die ervaring van sy/haar eie liggaam. Verder kan gebruik gemaak word van illustrasies van gesinne, uitgebreide gesinne, vriende en onbekende mense. ʼn Terapeut sal in so geval vir die kind vra wat hy/sy van die prentjie verstaan. Die kind kry dan die geleentheid om die mense, verhoudings en gebeure te verduidelik wat in die prentjie voorkom. Die kind sal, indien die traumatiese gebeure op sy/haar voorgrond is, sy/haar eie ervarings van traumatiese gebeure aan die illustrasies koppel. Poppe en handpoppe gee die kind die geleentheid om die gebeure uit te speel in die speelkamer. Op hierdie wyse vertel die kind op ʼn minder angswekkende wyse wat gebeur het en kan die kind sy/haar emosies uitspeel. Die emosies wat die kind teenoor die oortreder ervaar word binne die veilige omgewing van die speelkamer uitgespeel. Die kind kan byvoorbeeld die emosies wat hy/sy ervaar op papier teken, oor die emosies praat, dit eien en deurgewerk word, waarna die papier met die spesifieke emosie deur die kind vernietig word, deur byvoorbeeld die prent in klein stukkies op te skeur. Tydens rollespel kry die kind ook die geleentheid om te sê wat hy/sy teenoor die oortreder sou wou sê en sy/haar emosies in die veilige omgewing verwoord. Aangesien mishandeling die kind se ‘sin van self’ afbreek, word daar tydens terapie ook aan die kind se ‘sin van self’ gewerk. Elke sessie word afgesluit met ʼn positiewe aktiwiteit sodat die kind die terapiekamer op ʼn hoogtepunt verlaat. Wat is die tekens waarvoor ouers kan uitkyk in terme van molestering? Wanneer ʼn kind se gedrag drasties verander is dit ʼn teken dat die kind moontlik probleme ervaar. Die volgende is ʼn paar tekens dat ʼn kind moontlik seksueel mishandel is of moontlik steeds mishandel word. Hierdie gedrag moes voor moontlike mishandeling afwesig gewees het.
ʼn Verduideliking of analise van ʼn prentjie wat die getraumatiseerde kind geteken het. Kinders se projeksies van traumatiese gebeure kan baie verskillend wees. Sommige kinders teken gelukkige prentjies, wat daarop dui dat die kind nie die emosies geëien het nie en steeds die gebeure probeer ontken of blokkeer. Ander kinders sal hartseer mannetjies teken, die lyfie by die tekening uitlaat of die prentjie bekrap. Elke kind word dus tydens terapie verskillend benader na gelang van die kind se omstandighede, ouderdom, geaardheid, ensovoorts. Wietske Boon
|
||||||||||||||||||||||||||


